Nog army shit

May 22, 2008

Ja, sorry vir die woord in die titel. En die wat volg.

Dit was deel van army-taal. En kan nog erger word. Ek dink nie die spreukwoord moet lui “vloek soos ‘n matroos” nie. Ek dink dit moet wees “vloek soos ‘n kanondonkie” en as jy die dag regtig bemoerd is, “vloek soos ‘n boknaaier”. Hene, daai ouens wat op die pap geloop kon vloek. (Hulle loop op die pap, want hulle eet dit in die oggende in die menasie en dan stap hulle sonder ophou. Hulle gebruik nie diesel nie en hulle gebruik klein skietgoed soos die R1, R4 en LMG. En die 60mm mortier. Party kere ry hulle meer Ratel as wat hulle loop, dan gebruik hulle minder pap en meer diesel en groter wapens soos die 81mm Mortier en Ratel 90 vir tenkafweer of so iets.)

As julle niks gedoen het in die weermag nie, soos ‘n troep wat ‘n ruskans kry, dan het hulle bal gehang. Of ballas gebak.

As ‘n laer rang saam met ‘n hoër rang kak gepraat en gekuier het, dan het die laer rang piele gevleg. (En ‘n opfok of ‘n bosbus net daarna gekry om hom weer op sy plek te sit.)

As die kanonne geblaf het en die vuurpyle gehuil het, dan was dit pielstyf op die stelling.

As jy grappe oor iemand met rang gemaak het, soos byvoorbeeld oor die bombardier terwyl julle in die aand die kaserne se vloer polleer en almal lag, dan het jy gat gevat. Gat vat het ‘n wye betekenis in die weermag gehad. As jy jou stem maak soos die samjoor wanneer hy die battery dril, dan vat jy gat. As jy praat soos die luitenant met die lisp, dan vat jy gat. As jy maak of jy pyp rook soos die RSM, dan vat jy gat. Net ‘n laer rang kon gat vat met ‘n hoër rang. ‘n Hoër rang fok die laer rang op.

As jy iets gedoen het wat niemand ander gedoen het nie, dan was jy op ‘n eiland. Of jy is die eiland.

Kos:

Hawermout - Witpap

Chicken A La King - Mortierhoender. Die hoender was met die mortier geskiet, daarom is die hoender in stukke.

Dun gesnyde taai beesvleis - Tentflappe. Gewoonlik saam met so ‘n bruinerige sous bedien. As jy weet hoe lyk ‘n bruin army-tent, 16×16, sal jy weet hoekom daai vleis tentflappe genoem was.

Dikker gesnyde taai beesvleis - Kwê-tyre of Ratel-tyre. Die vleis was taaier as die mynbestande voertuie se wiele.

Ek kan nie eintlik aan nog veel name dink vir kos nie. Ons in die Artillerie het nogal lekker geëet. Ek het army-kos gelaaik oor die algemeen.

O ja, daai harde, taai vis met die krummels om het ons “Waap!” onder teen die staaltafels in die menasie vasgeklap en die volgende oggend klap jy op die tafel na ontbyt en dan val die stukke harde vis weer af soos jy uitloop. En die RSM het Sondae gesê hy eet nie beestong nie, want die bees het met daai einste tong die koei se poes gelek. Sy woorde.

Tree aan met ‘n projektiel beteken jy gaan opgefok word deur met die projektiel op jou skouer te hardloop totdat jy kots. En dan nog ‘n ruk om seker te maak jy is goed opgefok. Dieselfde met “tree aan met ‘n sandsak.”

Jou kak gaan draai beteken ook jy gaan opgefok word.

Tree aan kan iets onskuldig beteken het soos val in die afdeling in dat julle kan gaan eet. As daar egter ‘n weermagambulans en ‘n medic ook gewag het in die omgewing waar aangetree moet word, dan het julle gat gevat, slap geword, rondgefok, op die bombardier se battery gepis, en nou gaan julle kak draai en die fokken son nie weer vir julle opkom nie!

Sing ding! Liks!!! Aks!! Liks! Aks!! Sing ding!!!!

In die Artillerie, na JL’s het meeste van die onderoffisiere so gedril: Liks! Aks! Liks! Aks! Liks! Aks! Eiiiissh!

So, ek dink die uitdrukking van “Eish!” kom nie van die brandewyn advertensie af nie, maar van SAW bombardiere wat die brandewyn elke aand gedrink het. As die bombardier of sersant eers “Sing ding!!” gegil het terwyl ons looppas mars was, dan moes jy sing. Hardop. Gees vang. Army liedjies. Aag man dis lekker in die aaaarmy…. was nie een van hulle nie. Daai liedjie was vir in die veld in die aand by die vuur. “Hak! Hak! Poes! Poes!” was die beste liedjie om by die bombardier se pas in te val. “E! L! X! L! X! E!”, uitgespreek soos die alfabetletters was ook gewild. En nog ‘n klomp ander sif liedjies soos:” Al die meisies, trek julle panties af, al die meisies trek julle panties af,” gesing volgens die pas van die bombardier.

As iets lekker was, was dit piele. Byvoorbeeld: Die chopper drils was piele!

En nog woorde en frases:

Balsak: So ‘n worsvormige bruin seilsak waarin jy jou kak gepak het.

Dixies: Twee staal/alluminium reghoekige bakkies met handsvatseltjies wat inmekaar pas.

Kaksak - Onderbroek

Pisvel - Matras oortreksel

Is jou tampon skeef?” - Dit wat die luitenant vir jou gevra het as jy tydens “Vasbyt” moeg geword het.

“Die kak sit wit” - Seker maar ‘n dubbelbetekenis. Op die grens het die kak wit gesit as die MiG’s naby was of as die vyand afgekak het onder die bestoking.

R&R - Eintlik is ek nie seker hoe spel jy dit nie. Rum & Raspberry. Ek dink die ander korpse het ‘n ander betekenis gehad. Soldaat help uit!

Petrol, Olie En Smeermiddels - Tydens pas uit die bos ‘n gesegde vir ‘n mooi girl. (Werk die een maar self uit.)

Poesbedroef - Hartseer, seker as ‘n meisie jou met ‘n “Dear Johnny” afgesê het. Dit was partykeer ook gebruik vir iemand wat stukkend dronk was van al die rum en dronkverdriet gekry het.

Daar was nog baie woorde vir ‘n meisie, soos “slymsloot”, “wip” ensovoorts, maar ek gaan nie dit alles hier noem nie. Dit is meestal vieslike woorde.

Hartseer - Seker enige tyd en plek gebruik deur iemand met rang. Voorbeeld: Wat is jou kak, hartseer? Wil jy vir mammie hê?

Grootsak - Rugsak

Bakleitrui/BattleJacket - Die ding waarin jy jou ratpack, waterbottel, bomverband, magasyne, handgranaat ensovoorts pak.

Hene, hoe meer ek skryf, hoe meer onthou ek. Tyd vir bal hang.

Valkiri, demo terrein by Lohathla

G5 en kanontrekker. Daai boks in die middel wat soos ‘n kajuit lyk, is die “aapkas” waar die bediening sit. Die No.1 sit links voor langs die drywer. Die Nommers 2-8 sit in die “aapkas”. Die No.1 is baas, koning van die kanon. Die No.8 is die tweede in bevel. Die No.3 werk die visier. No. 2 trek die tiet en sien om na die sluitstuk. Nommers 4 en 5 werk tussen die bene met die rammer en lugbottel ens. No. 6 en 7 is ook ‘n amminusienommer saam met No. 8. Ek kan verkeerd wees. Die G5 het ek in die laaste jare gewerk.

Valkiri

Die Kwê hierbo het die kort bak en net twee agterwiele. Een links en een regs. Ek dink dit was die Kwê 90. Die Kwê 120 het twee wiele aan elke kant agter gehad, agter mekaar en nie dubbeld langs mekaar nie, en kon 10 ton dra. Die kajuit was mynbestand.

DGS behoort ‘n proper foto van ‘n Ratel te hê. (Daai een waar hy op die Ratel sit en rook.)

En dan tag ek sommer almal wat in die army was om nog byname, woorde, gesegdes en frases to post.


Kouse in die pot.

May 22, 2008

Vrotpootjie

Nog ‘n weermagstorie wat ek onthou het nadat ek van Soldaat se possie Die jippo-guts in Braam se kraag gelees het. En dis nog ‘n sif storie.

Vrotpootjie. Atleetvoet. Stinkvoete. Vrotvoete. Noem dit wat jy wil.

Ek was nog ‘n troep en net voor ‘n laaaaang veldoefening het ons ‘n 7 dag pas gekry. Toe gaan ek na ‘n bike rally toe en spandeer die naweek daar deur te drink en te suip. En die ablusieblokke te gebruik. Kaalvoet te stort.

Toe die pas verby was en almal begin regmaak vir die laaste oefening voordat ons Grens toe gaan, is daar ‘n klankie wat om my voete hang. En my twee trappers jeuk so effens tussen die tone. Ek gooi die Mycota wat ek by my gehad het dat die poeier dik lê tussen my tone en die toestand verbeter.

Wragtig een aand toe my kouse buitekant op die draad hang, het een of ander fokker dit gesteel. Ek weet nie wie was so fucked-up om kouse te steel nie, maar in die weermag was jou goed gesteel van die draad af as dit nie gesluit was nie. Ons hemde, broeke en overalls het ons met ‘n ketting deur die moue en dan met ‘n slot aan die draad vasgesluit.

Toe gaan ek veld toe met net 2 pare kouse. Een paar wat stink en vrot aan my voete en die ander paar in my grootsak.

Die dag toe ons uitry veld toe, begin dit saggies te reën. En dit hou nie op nie. En die Kommandant wat die bevelvoerder vir die oefening was smaak dit dik stukke want die weer is kak en goor en die kanoniere kak af. En dit was vrek koud terwyl die RSM met sy kortmouhemp rondloop en die moraal opbou. En ek met die min kouse. My voete vrot en al was ek elke aand ‘n paar kouse, bly dit nat want dit hou nie op reën nie. Ek het onderhandelinge aan die gang met die korporaal van die KM, 2 pakkies sigarette en so aan, maar dis nog vroeg in die oefening en almal het nog sigarette, so ek wag vir my ekstra kouse. En my voete vrot.

Na twee weke ruil ek sigarette en kry by ‘n ou ‘n klein botteltjie kaliumpermanganaat kristalle. Die goed vlek my voete bruinpers, maar die swamme lyk asof hulle weggaan. Teen daardie tyd het my voete al soos ‘n vrottende karkas geruik as ek my stewels uitgetrek het. Eintlik het die reuk al deur die stewels geslaan. ‘n Verstikkende stank.

Een ou vertel toe dat dit my kouse is wat die hele tyd my voete weer met die swamme besmet. Daar was geen warm water nie, so ek kon my kouse nie behoorlik was nie. Die stukke vrot velletjies wat van my voete afgeval het, het al deel van my kouse geword. Ek wou ook nie medic toe gaan nie, want daai medic sou vir die bombardier gesê het my kouse is vuil, en dan kry ek ‘n opfok met my seer voete en al. En nog een as die bombardier agtergekom het my kouse was gesteel. En sommer nog ‘n opfok by die luitenant ook. En een by die sersant. En die staf. En die samjoor. En die RSM. En die kaptein. En die majoor. ensovoorts. Elkeen in die army wou mos die ander wys “hoe om ‘n troep goed op te fok.”

Toe maak ek plan.

Die staflede (die met rang) het per span so ‘n bruin oopvou dieselstofie gehad. Ek dink die ding se naam was “Bosveldbrander” of so iets. (Hoe laer die rang, hoe meer mense moes ‘n stofie deel. 15 Drywers, wat kanoniere was, het een stofie, 4 “one pip” luitenante het een stofie, die bombardiere vat die troepe se stofies. Die sersante vat die stofies by die bombardiere en so aan. ‘n Tipiese army fokop wat eintlik net beteken die troepe het nie stofies nie en hulle eet koue kos.) Jy gooi sy tenkie vol diesel, en dan pomp jy hom en steek hom aan en as hy eers brand dan suis hy gesellig en jy kook lekker boeliebief in jou dixie. Die majoor het gedink hy was smart, so hy het blou spiritus gehad om sy Bosveldbrander mee te “prime”.

My plan begin toe vorm aanneem. Ek volunteer om douvoordag in die koue op te staan en die gasstoof van die veldkombuis aan die gang te kry sodat die offisiere se water in die groot kan kan kook vir hulle koffie. Na so twee aande toe steel ek die majoor se spiritus uit sy tent terwyl hy langs die vuur gesit en suip het.

Ek gooi die spiritus in my drie pare stewels om hulle goed te ontsmet met die alkohol. En die volgende oggend toe gooi ek die eerste paar vuil, sif, vrotpootjie verrottende kouse wat soos ‘n dooie dier ruik, in die waterkan wat lekker kook vir die offisiere se koffie. Ek kon sommer sien hoe die swamme, skimmels en vrot voetvelle uit die kouse kook. En die tweede-luitenante, luitenante, kapteine en die majoor drink hulle koffie. Lekker. Ek hou so aan vir seker nog twee weke toe raak die KM korporaal se sigarette op en ek ruil sigarette vir kouse.

Die pers kristalle en my kouse wat elke oggend gekook word kry die vrotpootjie onder beheer. Toe dit net lig besmet is en baie beter lyk, gaan ek medic toe. En raai wat? Hy sê dit is die veldstort want baie ouens het al kom kla van vrotpootjie en voordat ons ons weeklikse paar sekondes stort kry, laat hy almal deur ‘n sinkbad loop waarin kaliumpermanganaatkristalle opgelos is. Ja, wel, eintlik was dit die veldstort want ek het met my vrot voete ook daar ‘n paar sekondes natgemaak, geseep en afgespoel. En die swamme daar gelos vir diegene wat in die ry wag vir hulle beurt…  :mrgreen:


Om te moer of nie?

May 20, 2008

Party mense moet net gemoer word. Hulle moet ‘n moerse vuis kry.

Die naweek was ek en Vroutjie na ‘n verjaarsdagpartytjie toe.  Daar aangekom maak die manne solank vuur en knak ‘n bier.  Die vrouens ruil resepte uit en maak slaai in die kombuis.  Heel rustig.

Toe daag daar een of ander fuck-up op wat aan ‘n erge graad van ‘n minderwaardigheidskompleks moet ly of iets.  Eintlik is hy net ‘n pap vrot muis.  Dis die ou wat gemoer moet word.

Hy sê sy vrou so sleg voor almal dat die see haar nie kan afwas nie.  En elke keer as sy krimp van skaamte, dan lag hy en kry lekker.  Niemand steur hulle aan hom nie en probeer wegpraat van die persoonlike goed waarmee hy sy vrou tot in die grond in afkraak en vertrap, maar as die stupid tappet die geleentheid kry, dan trek hy los en sê sy vrou sleg.  En lag sy gat af.

Ek sien hoe seer kry sy vrou en begin planne maak om hom te moer.  Nie daar onder die lapa waar ons kuier nie, want daar is kinders ook wat daar rond speel.  Miskien daar agter in die donker as hy ‘n draai loop…

Ek sit toe rustig en kuier en wag dat die ou opstaan.  Daar kom ‘n dogtertjie aan en vat ‘n handjie vol Simba chips uit die bak wat op die tafel staan.  Dit is toe Muis se dogtertjie.  Hy sê haar so sleg en tart haar so baie omdat sy eet, “vet seekoei”, en so aan totdat sy huil. (Sy is glad nie naby aan oorgewig nie.)  Toe voel hy lekker.  Daai vieslike, smerige smile sit breed oor sy gevreet.  Ek kon sommer sien hoe sy dogtertjie se hele wese wegkrimp.

Ek staan op en Vroutjie trek my sterk in die stoel terug met haar klein handjie.  Haar oë vertel sy weet wat ek wil doen en dat ek nie moet nie.  “Susan* gaan dit ontgeld as hulle by die huis kom en dan is jy nie daar nie.” fluister Vroutjie in my oor.

Toe sit ek eers en dink.  Moer ek vir Muis, haal hy dit later by sy huis op sy vrou en kind uit.  Dan maak ek eintlik kak vir sy vrou en dogtertjie.

Ek hou my toe maar in.  Later vertrek Muis en ek hoor by die mense dat hy dit al lank doen.  By die huis mishadel hy haar nie net verbaal nie, maar rand haar ook fisiek aan.  Susan wil hom nie los omdat hy haar mishandel nie want sy is ‘n huisvrou en wil nie wegbreek sonder ‘n inkomste nie.  Hy manipuleer haar ook so en sy is so vasgevang deur hom dat sy dink dit is onmoontlik om iets aan haar situasie te doen.

So nou dink ek iets is gladnie reg nie.  Die Fok kan mos nie wegkom hiermee nie?  As ek hom moer, haal hy dit op sy vrou en kind uit, so ek gaan dit erger maak vir hulle.  Sy vrou wil nie Polisie toe gaan nie, want sy is te veel vasgevang deur hom.  Sy vrou wil nie haar dogtertjie vat en hom verlaat nie, want sy is te afhanklik van hom.

So nou hou hy aan.  WTF?

Vroutjie het met iemand gaan praat wat maatskaplike werkers het en sielkundiges vir mishandelde vrouens.  Ek hoop hulle rig iets uit.

En die ergste van alles? As ek Rot se elmboë agtertoe breek, sy neus skeef slaan, sy ribbes afskop en sy vingers breek, gaan ek skuldig bevind word in ‘n aanrandingsaak teen hom.  Maar hy kom skotvry terwyl hy sy vrou en kind mishandel.

Is dit nou hoe die samelewing werk?  Die laagste slymsleepsel, ‘n man wat vrouens mishandel, kom skotvry?

Ek hoop regtig die maatskaplike werkers en sielkundiges kan Susan se wese so ver herstel dat sy ‘n saak teen Rot kan maak.  Dat sy kan wegbreek.

My hart bloei vir elke vrou wat deur ‘n vark mishandel word.

En vir die familie wat vir Vroutjie sê sy “meng in” omdat sy die organisasie en maatskaplike werkers gekontak het: Loop kak ‘n baksteen.  Dit is van alles onder die mat invee en niksdoen dat dinge so ver vorder.

* Susan is nie haar regte naam nie.


Begrafnisse

May 15, 2008

‘n Begrafnis suig. Dis hoe ek daaroor voel. Nou nie die kis wat afsak en die grond wat daaroor gegooi word nie. Die mense.

Die dominee preek en almal luister en beaam. Dit was ‘n goeie ou. Dis hoe die lewe werk, stof tot stof… warra warra warra.

Die ou is dood en gaan begrawe word. In die kerk en by die graf en die teedrinkery daarna hou baie van die mense hulle hoogheilig en praat net goed van die ou. Die ou wie se liggaam stadig in ‘n houtkis in die grond afsak.

Hou op om skynheilig langs ‘n graf te staan en praat goed van mense terwyl hulle nog lewe.


Ek eet vanaand pap en braaivleis

May 12, 2008

Nie dat in die algemeen spesiaal is nie, maar vanaand is dit. More-aand as ek pap en braaivleis eet, dan eet ek en Vroutjie dit na werk. More is ons luilekker dae iets van die verlede, die einde van ons kort rustydjie en val ons weer volstoom by die werk in.


‘n Rustige tydjie…

May 6, 2008

… en uhm, ja, ek en Vroutjie is getroud. Ek en Vroutjie het ‘n tydjie afgevat om die langnaweek nog langer te maak. Ons het nie eers bike gery nie. Potjiekos, rooiwyn, jacuzzi, die bed, laat gaan slaap, laat opstaan, selfone af, die rekenaar af, landlyn se prop uitgetrek…


Die date wat ek nooit sal vergeet nie.

April 29, 2008

En al die kak daarna nog minder…

Ek was in die SAW. Net klaar ingeklaar en iewers tussen ‘n gunner word of na die pakkies toe gaan wat boknaaiers sou word. Daar was ‘n halwe lugleegte. Omtrent die helfte was G1K1 geklassifiseer en toe word die mediese ondersoeke vir ‘n paar dae gestaak. Voordat almal G1K1 was, was dinge nogal rustig. G1K1 beteken kortweg dat jou kop en liggaam reg is sodat die weermag jou maar van ‘n kant af kon begin opfok.

Ek was een van die wat al klaar G1K1 was, maar baie was nie, so ek begin relax want dinge was toe gladnie so rof soos al die stories wat ek gehoor het voordat my pa my daar gaan aflaai het nie. My pa het my daar gaan aflaai om seker te maak ek ry nie trein nie want hy was bang ek klim langs die pad van die trein af en hike iewers heen en sluit by ‘n biker gang aan en kom in die kak en verneder die familie, die kerk, my ou skool en die apartheidsregering en almal wat blank is.

Ek moes in elk geval van kleins af help met die was en stryk in die huis en my eie bed opmaak en my pa se skoene skitterblink polish, so daai eerste ruk relax ek lekker. En baie van my pa se drink-buddies wat saam met hom by Yskor gewerk het en wat ook in die weermag was, het vir my tips gegee en nog ‘n klomp ander waarhede sowel as kak gepraat.

Daar was ook baie “roer-jou-gat-en-wag” oomblikke. Dit was tydens een van die oomblikke toe ons in die son gestaan en wag het, dat ek kak begin uitdink het.

Toe reken ek, daai blonde meisie wat nou by die PU vir CHO onderwys swot, is mos oulik en ek ken haar van lank af. Al gevry en gesoen en alles en ons gaan mos uit. Al sit ek nou hier in die son en sy swot seker. En ek onthou hoe lekker sy geruik het en hoe mooi sy gelyk het en die trane in haar blink ogies en hoe ferm haar borste teen my gevoel het toe ek haar ‘n laaste drukkie gegee het en haar sagte lippe… en net daar besluit ek bogger die nonsens wat hier aangaan.

Toe kak een of ander bombardier nog op my kop ook want hy het geskree ons moet opstaan toe die luitenant aankom, en ek sit en dagdroom en planne uitdink en spring heeltemal te laat op aandag. Ek het die meisie se adres in my kop gehad. Van Rooy Straat. Sy het daar by familie gebly terwyl sy swot.

Van die ouens het dagga iewers by iemand gekoop, so ek dag toe as die persoon dagga kan verkoop kan hy seker ook ‘n briefie gaan aflewer. Ek hou toe die ouens dop en sien hulle koop dagga by ‘n korporaal wat in die kombuis werk.

Ek nader die korporaal en vertel hom wat hy moet doen of ek vertel van die dagga. Hy wou nog rang trek, maar hou net sy bek met die verstandhouding dat hy niks weet as ek niks weet nie en ook net een keer.

Die Woensdag-aand so teen 20:30 toe is ek reg. Ek het spesifiek die Woensdag gekies, want Woensdae middae was sport gewees en die staflede het nie by die bungalow opgedaag na aandete nie. Hulle het gaan suip op Woensdae en ook sommer effens laat vir inspeksie opgedaag die Donderdag-oggende. En ook nie almal nie, net die wat aan diens was.

Teen 21:40 was ek oor die draad en dertig sekondes later was ek agterop die blonde meisie se scooter en oppad na Van Rooy straat. Sy het nie na haar familie sy huis toe gery nie, maar na die sport terrein daar naby, langs die Mooirivier. En in die donker gestop.

Ek dink nie ek het eers van die kos wat sy in haar rugsakkie gepak het, geëet nie. Ek sal nou nie eksplisiete details hier blog nie, maar na ‘n lekker lang vry was ek teen 22:30 terug oor die draad en besig om my browns vir inspeksie reg te kry. Met ‘n groot smile op my gesig. En half dromerig en verlief van voor af. Niemand anders het geweet nie, en ek het vinnig ‘n sigaret aangesteek toe iemand vra wat ruik so lekker. Dit was die meisie se parfuum wat aan my afgesmeer het. Ek berei saam met die ouens inspeksie voor in die donker, want 22:00 moes die ligte af, en gaan slaap die aand lekker onder die bed. Ons het onder ons beddens in ons slaapsakke geslaap want dan hoef ons nie in die oggende weer die bed op te maak nie. Dis nou behalwe as ‘n staflid onverwags opgedaag het en al die beddens omgegooi het en die brandblusser en brandkraan gespuit het en sand en die asblik ens. in die bungalow of tente uitgegooi het omdat die ouens onder hulle beddens slaap. Woensdae aande was een van die “veilige” aande.

Die Donderdag-oggend om 05:45 toe ons regstaan vir inspeksie en ek nogsteeds droom oor stywe gladde boudjies en tong-soene, daag die staflede op vir inspeksie en ek kom agter hier is groot kak. Die bombardier en sersant staan buite en rook en ‘n vreemde stafsersant wat ons nog nooit voorheen gesien het, loop vinnig deur en slaan nie ag op ons beddens of die vloer of die wasbakke nie. Hy het sulke donker oë gehad en kyk net ons gesigte uit. My hart het begin klop en dit het gevoel asof my maag wil werk. Hy kyk ook nie daai kyk wat hulle jou gegee het om seker te maak jy het ordentlik geskeer nie, dit was anders. Hy kyk nie eers vir my nie maar loop net reguit verby. Toe panic ek eers, want ek het uitgesonder gevoel. Eers later toe my maag bedaar het en ek mooi kon dink, het ek besef hy kyk die korter ouens uit.

Skielik toe pluk hy ‘n ou vorentoe weg van sy bed af en gooi sy hele kas uit, pluk sy bed en begin al sy goed deursoek. In sy “civvie-sak” kry die Staf toe dagga.

“O shit!!!!!” dog ek toe hulle die ou wegvat en my maag draai en kook. Dit was nie ek nie, maar wat as die korporaal van die kombuis dink dit was ek en vertel van die briefie!!???? Hulle kon op enige manier van die dagga uitgevind het, maar nou juis met my luck op daai tyd, die aand nadat ek onwettig uit was, word ‘n ou gevang met dagga. En wat as die korporaal vertel van die briefie?

Tydens ontbyt het ek my varkpan net so vir iemand gegee en nie aan die kos geraak nie. Ek is seker een van die min ouens vir wie army-kos lekker was, maar daai oggend kon ek nie eet nie.

Teetyd toe kom haal die luitenant my en vat my na die kaptein toe. Ek het sommer geweet ek is diep in die kak, maar besluit as hulle nie weet wie die meisie is nie, gaan ek niks sê nie. Ek was baie bang sy kom ook in die kak en toe besluit ek al het sy erken dit was sy wat my kom haal het, gaan ek dit ontken, kom DB of wat.

‘n Sersant dril my toe in. Links!! Reeeeegs! Liiiinks! Reeeeegs! ensovoorts en halt my voor die kaptein se tafel.

Die kaptein het skaars opgekyk toe ek daar halt en salueer. Toe eers kyk hy my vas in die oë en vra vir my: “Viljee! Wat beteken 20:30 Woensdag? 20:30 Woensdag. Wat beteken dit?”

O fokker, dink ek toe. Die ou weet net van die briefie. Dis al. Niks van die meisie nie. Die korporaal het gepraat en vertel. Maar ek het in die rowwe buurt grootgeword en altyd geweet om as jy aangejaag het en niemand weet nie, jy jou storie net reg moet hê. Dit wat ek volgende gaan sê gaan bepaal of ek in die kak gaan kom of nie.

Toe lieg ek sonder om ‘n oog te trek of te bloos terwyl ek daar op aandag staan.

“Kaptein, dit beteken ‘n meisie moes geld by my kom haal het want ek help haar sodat sy vir haar eerste semester se studies by die PUK kan betaal.”

Die kaptein het sy hande saamgevou op die tafel en vir my gesê: “Viljee. Volgende keer fok ek jou op. Jy gee nie geld deur die draad aan nie. Jy kom praat met my.”

“Ja, kaptein!”

Die sersant het skielik weer verskyn en my uit gedril. My maag het bedaar. Alles was weer reg en die meisie se warm, sagte lyf het weer in my gedagtes gedans. Die meisie wat ek liefgekry het, lank voordat ek Weermag toe gegaan het. Die meisie met die stoute, vrolike ogies. Die meisie wat ek eers weer oor ‘n paar maande gesien het.

Die meisie met wie ek later getrou het en wat vandag nog my Vroutjie is.


GG - Uitgawe 4

April 25, 2008

GG 4

En hier is die vierde uitgawe. Ek het dit sommer gou aanmekaargeslaan om darem iets hier op die blog te gooi voordat die naweek begin.

Soos julle op die voorblad sal kan sien, is die bikini-meisie nie heeltemal weg nie.

Aan die tannie wat so erg gekla het: Die meisie het alles bedek wat toe en bedek moet wees. As jy nou weer kla en kerm gaan ek jou ‘n dowe gooi.

Die foto wat vir die voorblad gebruik is, is van die Vitali strand in Andros, Griekeland. Sodat julle darem bietjie kan droom oor die son, see en blou lug terwyl die seisoene draai en die winter Suid-Afrika bekruip.

En dan val ek sommer weg met die meisie in die bikini wat natuurlik sinoniem met pragtige strande is.

meisie op strand in bikini

Seoul

Nee ek vloek julle nie deur vir julle te sê: “Naai man, djulle se hoel!” nie. Jy kan ook nie met jou 500 scrambler of jou 1988 Corolla soontoe ry vir die naweek nie, al haak jy ‘n Venter met baie meel en bier en jou ou army-slaapsak.

In geheel gesien is Seoul ‘n moderne Eerste Wereldstad met ‘n aansteeklike dinamika en ‘n polsende lewe. Dis skoon, netjies, veilig en bied jou oneindige opsies om jou tyd op te spandeer. Koreane kan met reg daarop aanspraak maak dat Seoul die siel van Asie is.

Gotlieb Grootlieg

Kuier Uncle toe mos nou die dag saam met ‚n klomp vrinne toe so ander jafel inspraak maak op die gesprek synde hy nou ook van iewers in onse mooie land afkomstig is en afrikaans as huistaal in gemeen het met die res van ons. Hoe dit ook al sy stel die knaap homself voor as Gotlieb van Greeunen vanaf iewers dukant Tjepees halfway tussen Messina en Nerens.

Gatswaai

Maar, Groot MAAR, dis niè my probleem nie, my probleem lê by my boude. Julle sien, elke keer as ek een van daai verdomde deuntjies hoor, neem hulle oor. Ek is oortuig hulle het ‘n wil van hul eie.

Hoenderpastei resep

Jy is nou al gatvol vir takeaways en jou neef van Orkney het ‘n paar hoenders saamgebring toe hy vir jou kom kuier het. As dit reën terwyl jy wil braai, moenie sukkel met rook wat jou oë brand en ‘n vuur wat vrek nie. Maak die hoenderpastei.

In ‘n groterige pot, met klein bietjie olyfolie, braai die ui tot deurskynend. Gooi sampioene en knoffel by en braai vir so 4 minute terwyl jy roer. Gooi nou die gaar hoender stukkies…

Terugkoms in koerante

Die naweek is op ons. Mense, maak tog seker julle ry veilig.

Met die langnaweke wat voorlê, is dit nie iets waaraan ons wil dink nie, maar daar gaan ongelukke wees. Daar gaan 5 Mei heelwat minder mense in Suid Afrika wees.

Hangovers - Net die raad vir jou

As jy nou nie soos ‘n doos maak en bestuur terwyl jy dronk is nie, en jy het ‘n hangover gedurende die naweek, is hier ehm.. raad.

Om hangovers te fight is actually heelwat makliker as wat mens sou dink.
Daar’s gewoonlik een goue reël wat feitlik altyd effektief is…

Karweiers

As jy ooit trou, moenie op my staatmaak om jou bruid by die kerk te besorg nie. Ek gaan met die bike opdaag en jou bruid gaan ‘n fit vang. Jy ook as jy sien hoe vuil haar wit rok geword het terwyl sy agterop gesit het en ek ‘n olierige modderplas getref het op die highway. Daar gaan ook vrek baie insekte teen die rok vasvlieg. En sy gaan baie laat wees, want ek gaan eers gou braai langs die pad. Dan gaan ek haar sluier gebruik om my hande af te vee want ek draai die vleis met my hand om.

Dink baie mooi voor jy besluit wie jou gaan aanry kerk toe op jou troudag. My niggie het nie en die prys betaal…

F-16

F-16

En dan laastens: Waar is die Afrikaanse blogs??

OK, ek weet hulle is by iblog en blat en wordpress en blogspot ensovoorts, maar is daar nie ‘n directory of iets waar mens die Afrikaanse blogs wat nog aktief is, kan opspoor nie?

Dan wil dit vir my voorkom asof die Afrikaanse blogs se leeftyd nie baie lank is nie. Ek volg maar die skakels op ander bloggers se “blogroll” en so aan, maar daar is vrek baie Afrikaanse blogs wat nie meer bestaan nie, of so lank laas ‘n post gekry het, dat dit eintlik dooie blogs geword het. Weggegooi en laat staan deur die eienaar.

As daar iewers ‘n plek is waar mens Afrikaanse blogs kan kry, laat weet my. Nie net die by WordPress nie, die ander ook.

Geniet julle naweek!!


Nou hoekom lyk GG nou so?

April 24, 2008

Scroll af om te sien hoe lyk die nuwe voorblad van die derde uitgawe van GG.

Waar is die sexy meisie!!!???

Wel sien, klein Sannie en Kosie lees ook blykbaar die blog, en Jessie het daar op die voorblad gepryk met net skoene aan.

Kosie mag kondome gratis kry, Sannie mag op die Pil gaan en ‘n aborsie kry, maar Kosie en Sannie mag nie soen nie en Kosie mag ook nie vir die kale Jessie op die blog kyk en dan drome oor Sannie begin kry nie. Sannie mag ook nie kyk na die prentjie van Jessie wat net skoene dra nie.

Na ‘n leser van die blog vir my ‘n baie kwaai e-pos gestuur het en later sommer nog een, het ek besluit dat GG van nou af  gesinsvriendelik gaan wees. Dan kan Oupa, Ouma, Ma, Pa, Boetie en Sussie die blog lees sonder dat Oupa verlang na die dae toe Ouma nog soos Jessie gelyk het.

So, nou kan Kosie droom oor die Triumph Daytona en sy Ma grys hare gee, terwyl Sannie kan droom Kosie gaan haar eendag agterop laai en dan gaan sy ‘n rowwe biker chick word. Pa kan hardop saamstem met Ma dat Kosie nie ‘n bike mag kry nie en saam met Oupa praat oor die lekker van bike ry terwyl hulle braai en bier drink en Ouma die slaai in die kombuis maak.


Wosonki verjaar

April 22, 2008

Wosonki verjaar.

Geluk!

Daarsy! Geniet dit en mag Jaco en Krista se blog nog baie jare bly voortbestaan.

Jaco, moenie vra waar jou 3 blonde poppies is soos wat DGS gekry het nie. Jy het vir Krista. En Krista, die omgekeerde vir jou ditto.