Nie omdat ek nie was nie. Ek bad of stort elke oggend en aand. My gat jeuk omdat ek wil bike ry. Eintlik jeuk dit nie. Dit is ‘n benoude kramp. Soos ‘n perd wat wil losbreek. Ek en Vroutjie wil die pad vat. Nie die stront van werk toe en terug nie. Ook nie vir die naweek Harties of Parys toe nie. Nee. Ons wil ry. Die oop pad vat. Die lang en ver pad vat.
Ons wil in die oggend, middag en aand ry. Reën, sonskyn, miswolke, koue, hittegolwe. Dis waaroor dit gaan. Om te ry. En die landskap om ons te geniet. Nie met die Tazz of die Isuzu nie, met die bike. Ons wil die panniers en topbox vol laai en ry.
Frik Yster het juis vir my daai simpel, lompe CD-speler uitgehaal en vervang met ‘n MP3-speler. Nou is daar meer pakplek, ek hoef nie te sukkel om CD’s te ruil nie en die memory sticks vat ‘n kakhuis vol musiek. Ek wou die speakers ook vervang het, maar ek moet sê ek was beïndruk toe Frik die speakers uitgehaal het. Hulle het feitlik niks makeer nie. Nie al die huidige kak weer met reën, hael en rukwinde het hulle opgeneuk nie. Net ‘n skoonmaak en terugsit was al wat nodig was. Daar het ‘n taai spul stof en grime rondom, op en agter die speakers vergader, maar dis nou weer so goed soos nuut.
Die enjin loop na meer as 56750km op die klok nog soos ‘n droom. Hy purr soos ‘n jagse wyfiekat en ek weet ek en Vroutjie gaan nog duisende kilometers uit hom haal. Amper 57000km op die bike is nogal baie op twee wiele as mens in ag neem dat die omtrek van die aarde om en by 40,075 km is. Give or take ‘n paar kilometers, en AS my geheue nog vars is. (Ek dink meneer Schoonmeyer het dit in die Aardrykskundeklas deur my gat tot in my kop in gemoer.) En my vorige bikes, soos die Kawa ZZR het meer as 100,000 geklok. Die enjin was ‘n keer of wat oorgedoen, maar nogsteeds…
Dis die punt. Ons wil ry. En ry en ry en ry en ry en ry…
Want dit is wat ons geniet. Ons sielle verlang na die oop pad op twee wiele. Ons wil pak en ry.
2 Slaapsakkies
‘n Stel reëndrag vir elkeen
‘n Paar stelle klere
Ekstra sokkies
Ekstra sokkies
Ekstra sokkies
Mycota poeier
Onderklere
Plakkies
Flits (Opwenflits werk piele. Ek het dit nooit geglo nie, totdat ek een vir ‘n geskenk gekry het.)
Nylon tentjie (Seil of canvas werk beter, maar onthou die beperkte pakplek wat die bike het. Nylon vou of frommel kak klein op.)
Disprins
Pleisters
Tandeborsels
Tandepasta
Peacefull sleep muskiet spray
Peacefull sleep muskiet spray
Peacefull sleep muskiet spray
Toolbox
Tyre plugs en tyre sement
Tyre levers en binnebande (Nah, los dit. Dis waarvoor “On Call” daar is.)
Klein gasstofie
Stainless steel potjie en pannetjie
Dixies (Daai goed waarin jy in die SAW jou kos laat skep het as jy in die veld was. En as jy in die bungalow dit op jou bed uitgepak het vir inspeksie, moes dit geblink het of jy het afgekak. Van alluminium gemaak. Moer sterk en roes nie. Lekker handig. Krap met staalwol blinkskoon as jy eiers in die groter een gebraai het. As jy die eiers in die kleiner een braai, eet jy te min of fok rond omdat jy nie weet hoe dixies werk nie. Skuif die handvatsel inmekaar in, en jy kan altwee op een slag met een hand vashou.)
Bolletjie staalwol
Mirelle (Vir Vroutjie. As jy nie weet wat Mirelle is nie, maak seker JY vat kondome saam. Die aande op ‘n kampplek sonder 7de Laan en SABC3 raak lank. Veral in die winter mag julle dalk die slaapsakkies wil deel en… )
X-Large Jiffie-sakkie vol brikette / houtskool (Of trap sommer ‘n droë boom langs die pad met die stewels plat indien jy die plaaslike slaghuis waar jy ookal is, se wors of skaaptjoppies langs die pad wil braai.)
Braaivurk (Daai wat jy in Std 7 in die metaalwerk klas gemaak het, werk net reg. Druk plastiekpypies oor die vurk se punte, anders druk dit gate in jou panniers, jou waterbottels of jou vrou se extra panties. Moenie duur kak met borsels, tange, vurke ensovoorts in ‘n staaltas koop nie. Jy gaan nie plek kry daarvoor nie, of sal jou bier moet laat staan. Mens word dors na ‘n lang rit op die oop pad. So besluit wat jy wil vat.)
6 biere (Verkieslik Black Label blikkies, maar dit hang af wat jy drink. Ek trust nie daai kartonhouers waarin Millers kom nie.)
Kenna koffiepoeier (Of Koffiehuis, Nescafe, of watookal jy brou in die oggende.)
Poeiermelk
Klein sakkie suiker
Pakkie Koedoebiltong. (As dit buite die jagseisoen is, smokkel, koop om, jag op Langplaas of iets, maar mens kan NIE die langpad aandurf sonder Koedoebiltong nie. Jy kan nie. Laat ek dink…Nee, jy kan regtig nie. As jy nie Koedoebiltong het nie, bly by die huis.)
‘n Carton sigarette
Bic lighters (Die chinese kak is…kak)
Waterbottel x 2
Waterbottel x2
Waterbottel x2
Bankkaarte
Kredietkaarte
Medical Aid lidmaatskap kaarte
BMW telefoonnommer(s)
Selfone
Selfone se laaiers
Padkaartboek (GPS is vir sissies. Regte bikers kan kaart lees)
Onthou SPAR / Pick n Pay / PEP / Ackermans / Checkers / BP / Shell Select / ensovoorts is wyd gesaai oor die land vir bykomende goed.
Ja, ja, ek weet van die goed hierbo het ek 3 kere genoem, maar dit is ondervinding wat praat.
Ek en Vroutjie is al verskriklik opgewonde, maar ons kan eers verlof ná die Paasnaweek kry.
Dis die lewe vir een pond tien.
Die tyd moet nou vlieg. Die horlosie se wysers moet vinniger spin as ‘n ceiling fan…