Hene, ek kon dit skaars glo. Ek het die naweek iets gekry vir al die belasting geld wat ek betaal in die vorm van ‘n goeie, vriendelike spietkop.
Saterdag-oggend toe jeuk my gat verskriklik, en ek en Vroutjie pak en val in die pad, sommer om ‘n draai in Swaziland te gaan ry. Lekker ver. Die langpad.
Ons het skaars begin ry toe ‘n spietkop in die pad in spring en beduie ek moet aftrek. Ek stop toe langs die pad en die spietkop kyk alles deur. Van die remligte tot die toeter en, al was dit duidelik die bande is so te sê nuut, meet die diepte van die groewe.
“May I see your license, please?”
“No probs.”
Toe slaat ek my naam met ‘n plank. Ek begin krap en soek. Ek en Vroutjie pak alles uit. Dit moes seker soos ‘n vlooimark gelyk het daar langs die pad soos ons uitpak. Maar ek kry nie my beursie nie, want toe onthou ek die is nog op die eetakamertafel. Of so dink ek. Of iets. Of die beursie is iewers, maar nie aan my of Vroutjie of die bike nie.
“I am going to have to write you a ticket if you cannot find it, sir”
“That’s ok. Write it.”
“Where is your license?”
“At home. In my wallet.”
(Aan Vroutjie) “Laat ek maar alles terugpak en as die kaartjie geskryf is, my beursie by die huis gaan haal anders is daar in elk geval kak as ek moet petrol ingooi.”
Spiektop skielik in Afrikaans: “Hoe ver is die huis?”
“Net hier agter,” en ek beduie in die rigting in. “Tien minute se ry.”
Toe laat sak die spietkop sy boekie en pen. “Gaan haal dit dan en as jy terugkom met jou lisensie, kry jy nie ‘n ticket nie.”
“Um. OK.”
Toe gaan haal ek my beursie met die lisensie in, wys dit vir die spietkop en kon verder ry sonder ‘n boete.
Ek en Vroutjie het Swaziland toe gery, en honderde kilometers van die huis af wanneer ek wou petrol ingooi, sou ek nie my beursie gehad het nie. Ook nie my ID boek of paspoort nie.
Die spietkop het nie net moeite gedoen om Afrikaans te praat nadat hy gehoor het ek praat met Vroutjie Afrikaans nie, maar was ook vriendelik en het sy werk deeglik geken. Hy het die bike omtrent deur ‘n 100-punt toets gesit. Met die terugkeerslag nadat ek my beursie gaan haal het, moes ek ook ‘n rukkie wag om my lisensie te wys want hy het die taxis net so deeglik deurgegaan.
Hy het ook aan my verduidelik dat hy daar is om te help sorg dat die verkeerswette toegepas word, en nie net om geld te maak nie, daarom kry ek nie meer ‘n boete nadat ek my lisensie gaan haal het nie. Volgens hom was ek toe “100% padwaardig en moet ek net onthou om versigtig te ry en hy is beindruk omdat ek en Vroutjie al die regte klere aanhet vir motorfiets ry.”
Spietkop, ek weet nie eers wat jou naam is nie, want ek pik altyd half moerig-verward rond as een van julle my aftrek, maar ek hoop die belasting geld word gebruik om jou salaris en ‘n bonus te betaal.
O ja, en dankie aan Hester en Gideon vir die lekker verblyf. Swaziland se mense was ook vriendelik en het altyd gewaai as ons verby hulle gery het. Ek het nie die beroemde (of eerder berugte?) Swazi gesample nie, maar ek dink ek het wel iewers langs ‘n grondpad van die plantjies lustig sien groei. Kon dalk kakiebos of iets anders gewees het, maar ek glo nie so nie. Daai kenmerkende blaartjies…
February 25, 2008 at 2:28 nm |
Ag, as daar maar net meer van hulle kon wees! Mense wat trots is op hulle werk!
February 26, 2008 at 12:05 nm |
Ek het ook noudie dag so ‘n spietkop teegekom. Ons het onwettig parkeer in ‘n dorp waar daar geen, maar soos f-ol parkering was nie, en het op die Landy se dak geklouter om op ‘n stage na ‘n band te luister.
Toe ons afkyk, staan mnr. Spietkop voor die Landy, en begin skryf. Jis, ek is ook mos een van daai moeriges as hulle in my gesigsveld verskyn. Ek vlieg op en se vir hom hy’s f-kn unfair – nerens so ver die oog kan sien, is daar parkering beskikbaar nie, ek staan nie in die pad nie, net skuins getrek agter geparkeerde voertuie, en ek is hier sou een van hulle wou ry.
Hy vererg hom sowaar NIE vir die F woord nie, en begin lag. Hy’t net gemaak of hy wil skryf. In die gees van die dag is hulle net daar om te sorg dat dronkes agter stuurwiele wegbly, en sou ek die verkeer ontwrig, sou ek reggehelp word met ‘n pampiertjie.
Ek moet se, ek het my verbasing laat oorneem by my ergernis. Dit kry ‘n mens regtig nie sommer nie. Spietkops moet mos altyd ‘n punt bewys met die boekie en die pen.