Partykeer kan mens iets net nie van die hand wys nie

Wel, mens kan probeer, maar as jy te lank aanhou, maak jy dalk die ander persoon se gevoelens seer.

Die naweek het ek baie rondgery op die bike. Nie juis iewers spesifiek heen nie, sommer net gery om die spinnerakke uit die kop uit te waai en weer bietjie vars lug te ruik voordat ek aftrek om ‘n sigaret te rook.

Gister toe ry ek en Vroutjie al te lekker. Die wind pluk aan ons baadjies en die weer hou ook goed. Ek draai af waar ek wil en worry nie eintlik waarheen die pad gaan nie. Solank ek ‘n vae idee gehad het, was die saak reg. Daar êrens naby Viljoenskroon cruise ek en Vroutjie toe rustig voort. Die veld lyk mooi groen na die onlangse reën, en ek is seker die insekte en voëltjies het mooi geklink. Natuurgeluide. Mens kan in elk geval nie bo die gesuis van die wind, die bike en se enjin en deur die helmet die natuurgeluide hoor nie, so toe cruise ons rustig voort met Rammstein op top volume wat die luidsprekers laat vibreer. Plaaskindertjies waai vriendelik en een ou op ‘n dikwiel fiets met ‘n kas Black Label quarts wat voorop in die tuisgemaakte mandjie gebalanseer word, waai vriendelik en pak sy tande uit. Hy ry half slingerend en ek wuif terug. After all is ons altwee op twee wiele EN ek smaak ook Black Label bier.

Nog so entjie verder toe staan daar ‘n Renault langs die pad. Nie die Renaults van vandag nie, een van daai wat uit die vroeë tagtigs kom, met twee deure en ‘n ronde agterstewe. Kapoenbruin en vol krappe en duike. ‘n Vrou staan en trek en stamp en trap op ‘n wheelspanner. Vroutjie pluk aan my linkerbeen, maar ek sou in elk geval afgetrek het. ‘n Ou soos ek vat mos nie kak met ‘n wielmoer wat nie wil los kom nie. So ek trek toe af en klim met ‘n houding van die bike af terwyl ek my helmet vir Vroutjie aangee. Ek gaan mos gou klaarspeel met die pap band en die wiel omruil vir die vrou.

Die vrou groet in gebroke Afrikaans, en ek glimlag en beduie haar eenkant toe. En ek vat die wheelspanner vas. En rig niks uit nie. En vat hom weer vas en DRAAI. Niks. Ek kom agter dat ek besig is om my naam gat te maak toe ek sien hoe die vrou en Vroutjie onderlangs lag. Ek maak toe asof dit alles deel is van wiel omruil, so asof ek presies weet wat ek besig is om te doen, en ek maak soos ek in die weermag met ‘n Ratel se wielmoere gedoen het wat steeks is. Ek staan op die wheelspanner en wip op en af.

Toe val ek my gat af. Ek val daar in die stof langs die pad dat, soos Vroutjie sê, “daar ‘n stofwolk om jou hang”. Dit was een van daai wheelspanners wat in ‘n kruisvorm is, en die kant waarop ek gestaan het, het morsaf gebreek. My ego het ook gebreek, so toe vloek ek die Sjinese omdat hulle goedkoop, swak kak maak. Iemand moes die skuld kry omdat ek daar op my alie in die stof neer gemoer het. Ek moes iets van my houding oorgehou het, want ek staan daar op en maak asof ek gladnie seergekry het nie, terwyl ek seker was my stuitjie het gebreek. En die vrouens lag. NOU is dit vir my snaaks, dit was nie daar in die stof met ‘n kloppende, pynende stuitjie snaaks nie. So toe word die Sjinese met hulle goedkoop gemors weer gevloek. Ek kan nie die woorde hier skryf nie wat ek gesê het nie. Alles was onder die Sjinese se belt. En die vrouens lag net meer.

Toe kom die ou met Black Labels op die fiets aangery. Hy pak sy paar geel tande uit en skud sy kop. En stop sy fiets ewe windgat, mooi in lyn langs die bike, laai die kas quarts versigtig af, sit die fiets op sy kant neer en loop nader terwyl hy sy kop skud.

“Aikona, aikona” of so iets mompel hy en lag weer.

Hy gaan kry toe ‘n groot klip in die veld en donner daai wielmoer. Toe vat hy die heel deel van die spanner met sy dun arms vas en draai. Niks. Hy trek aan daai wheelspanner dat die sweet op sy gesig uitslaan. Niks. Daai wielmoer sit waar hy sit.

Die ou man staan toe op en skreeu iets vir die plaaskinders wat intussen ook nader gestaan het. Hulle hardloop giggelend in ‘n rigting in en ek stof my klere af. Toe ek ‘n R20 noot uit my beursie haal en vir die ou man aanbied, het hy al die quart oopgemaak nog voordat ek die Leatherman uit my broeksak kon haal. Ek sluk aan daai quart dat die are in my nek bult. Die bier was nogal lekker koud ook. Die ou man het intussen vir homself ook ‘n bottel oopgemaak en sluk die bier uit die bottel soos ek nog nooit iemand bier uit die bottel sien sluk het nie. Dit lyk amper asof die bier nie vinnig genoeg uit die bottel kan stroom nie en hy suig die bier uit die bottel uit. Ek probeer ook vinnig drink en Vroutjie gee my een van daai kyke wat net ‘n vrou kan gee. Maar ek sluk. Ek herstel my ego met die quart. Teen R20 vir die bottel bier sluk ek hom totdat daar niks oor was nie.

Die plaaskindertjies het intussen teruggekeer met ‘n meneer van ‘n wheelspanner. Ek kon sommer sien daar waar hy kruis is hy ordentlik gesweis. Ek druk die punt oor daai wielmoer, die ou man druk af en ek trek op, daai moer kraak en begin draai. My rug kraak ook, maar ek trek en die moer beweeg. ‘n Halfuur later is die band geruil. En Vroutjie raak iets kwyt van iemand wat die vrou se wheelspanner gebreek het. Ek stry nie en haal maar net ‘n R50 noot uit. Die vrou neem die noot en laat dit verdwyn iewers in haar rok. Die ou man vertrek met sy fiets en ry nog meer slingerend langs die pad. Die plaaskindertjies hardloop terug met die wheelspanner terwyl hulle lag en speel.

Toe krap die vrou in die Renault en gee vir my ‘n sak vol groenmielies, en ‘n sak waarin sy mieliemeel afgemeet het. Nogal ‘n redelike sak meel, seker so 3kg. En ek begin skuldig voel omdat ek vir die vrou net R50 gegee het vir die wheelspanner, al kos dit seker R20 omdat dit Sjinese kak was, maar ek dag toe sy het seker groceries gaan koop, en ek kan mos nie haar groenmielies en meel aanvaar nie. Dit het juis gelyk of sy dit nie te breed het het nie, en as ek nog haar mielies ook aanvaar, het sy nog minder.

Ek vertel haar toe dat dit nie nodig is dat sy vir my meel en groenmielies gee nie. Toe dring sy daarop aan. Sy aanvaar gladnie nee vir ‘n antwoord nie. Ek kon sien sy begin hartseer word omdat ek nie die mielies en meel wil aanvaar nie. Toe bedank ek haar en pak dit in die topbox. En sy glimlag weer. Sy trek weg met die kapoenbruin Renault en ek wonder waar sy haar lisensie gekry het en hoe lank daai karretjie nog gaan loop. Maar die karretjie hou, hy rev hoog toe sy wegtrek en ruik erg na gebrande olie, maar sy ry hom. Sy haal die ou man op die fiets stadig in en steek hom verby.

Ek en Vroutjie trek ook weg, en om my ego finaal te herstel draai ek die bike oop en jaag met ‘n kak spoed verby haar en die man op die fiets. Ek en Vroutjie het nog lekker gery. Laat die middag toe ons terug by die huis is, braai ek die mielies en ‘n stukkie Koedoewors, toe dink ek weer an die vrou en hoop sy het genoeg kos vir haar en haar kinders. Ek wou nie die kos geneem het nie, maar sy het so gelukkig gelyk toe ek dit na ‘n geredekawel geneem het, dat ek dit nie weer kon terug gee nie. En die ou man op die fiets het seker lekker diep aan sy Zamaleks geteug en vir sy pelle vertel hoe die ou met die bike sy gat af geval het toe hy op die spanner gespring het.

Die naweek was eintlik heel lekker. Ek het nie die gras Saterdag gesny nie, en het vanaand laat gewerk, so moremiddag sal ek dit maar moet doen. Met ‘n bier in die hand terwyl die vuurtjie solank begin kole maak. Dinsdae is juis lekker dae vir braai.

3 Responses to “Partykeer kan mens iets net nie van die hand wys nie”

  1. Da Mario Says:

    Baie lekker storie hierdie… en ek’s verlig jou ego is nou weer in plek! :lol:

  2. knersis Says:

    My moer, het ek nou lekker gelees aan hierdie storie van jou. As jy ooit ‘n boek skryf, of enige iets wat geskryf kan word moet jy maar vertel waar ons dit kan kry – ek staan al klaar in die ry. En ook, soos hulle sê innie klassieks, ‘n bier is ‘n bargain teen enige prys, en ja, ek stem saam, enige dag is ‘n goeie dag vir ‘n braai.

  3. DGS Says:

    Hel, ek het nou gelê soos ek lag! So kom ‘n man party dae oor! Great staaltjie!

Leave a Reply