Herlaai

Die afgelope week was vir my een van daai chaotiese, deurmekaar weke. Gisteraand toe ek vir Vroutjie en Skoonma uitgeneem het vir ete was lekker. (Ek is seker ek kry moremiddag tuisgebakte brood.)

Maar vanoggend toe ek opstaan, was ek so half depressief. My batterye het pap gevoel. Ek is nie seker of dit dalk die mid-life crisis is wat my begin tref nie. Wat maak ‘n man in elk geval as hy al klaar bike ry en die mid-life crisis tref hom? Hy kan nie ‘n bike gaan koop nie, want hy ry mos alreeds een.

So vroeg vanoggend toe maak ek vir Vroutjie wakker, pak ‘n jiffy sakkie vol houtskool, die waterbottel, ‘n sakkie suiker, kakpapier, die roostertjie, koffiepoeier, ‘n boksie long life melk, twee blikbekertjies en ‘n pakkie Koedoewors in die topbox, trek my leerklere aan, wag dat Vroutjie agterop klim en draai die krane oop.

By die Shell garage koop ek 6 langbroodjies en toe vat ons die pad. Die koue van die komende herfs het verfrissend in die lug gehang, maar die bike se enjin was lus vir oop pad. Ek en Vroutjie ook, so toe draai ek die kraan. Nie onverskillig nie, net sodat die spinnerakke uit ons koppe kon waai. Ook nie ver nie. Vanaf Roodepoort deur Krugersdorp en op die pad na Hekpoort.

Skaars het ons lekker begin ry, toe ek afdraai op ‘n grondpaadjie.  Waarheen die paadjie gegaan het, weet ek nou nog nie en ek het toe ook nie geworry nie. Ek het op ‘n oop stuk langs die paadjie stilgehou, die bike staangemaak, die jiffy sakkie aan die brand gesteek en ‘n sigaret saam met Vroutjie gerook terwyl ons gewag het dat die houtskool lekker begin gloei.

Die blou vlammetjies het nog op die kole gedans, toe gooi ek die koffiepoeier en suiker in die blikbekertjies saam met water en sit dit net so op die rooiwarm kole.  Toe die water borrels gooi, haal ek die bekertjies met my handskoene af en sit hulle eenkant. Die Koedoewors het gesis op die roostertjie, toe vat ek en Vroutjie elkeen ‘n langbroodjie, skeur dit oop en druk ‘n stuk wors in. Gooi melk by die koffie, en ons eet ontbyt en drink sterk koffie.

Dit was nie eers ver van die stad af nie, maar toe ek die broodjie hap en saam met ‘n mond vol koffie afsluk terwyl die son sy baan oopveg deur die vuil lug, toe voel ek weer mens. Ek en Vroutjie eet ons worsbroodjies, slurp aan ons koffie en vee ons hande aan ons broeke af.

Toe ek daar wegtrek, nadat ek seker gemaak het die vuur is dood en die laaste water ook daaroor uitgegooi het, het ek weer vry en verlos gevoel. Skoon, weg van al die gejaag van deur die week.

Die lewe het weer sin gemaak.

2 Responses to “Herlaai”

  1. hanlie Says:

    Ag hoe salig! Ek glo ook dat die eenvoudige dinge in die lewe die lekkerste is!

  2. Die Gestorwe Soldaat Says:

    Niks maak ‘n ou se kop so lekker skoon soos die vrede van alleen in die natuur wees nie! Om soggens op die stoep te staan, koffie te drink en die bobbejane in die berg te hoor – stadsjapies sal lag, maar dis daar is niks beter as dit nie! Hier’s dalk nie ‘n Woolies waar ek bly nie, maar dis fine. Die beste dinge in die lewe is regtig nog verniet!

Leave a Reply