Die date wat ek nooit sal vergeet nie.
April 29, 2008En al die kak daarna nog minder…
Ek was in die SAW. Net klaar ingeklaar en iewers tussen ‘n gunner word of na die pakkies toe gaan wat boknaaiers sou word. Daar was ‘n halwe lugleegte. Omtrent die helfte was G1K1 geklassifiseer en toe word die mediese ondersoeke vir ‘n paar dae gestaak. Voordat almal G1K1 was, was dinge nogal rustig. G1K1 beteken kortweg dat jou kop en liggaam reg is sodat die weermag jou maar van ‘n kant af kon begin opfok.
Ek was een van die wat al klaar G1K1 was, maar baie was nie, so ek begin relax want dinge was toe gladnie so rof soos al die stories wat ek gehoor het voordat my pa my daar gaan aflaai het nie. My pa het my daar gaan aflaai om seker te maak ek ry nie trein nie want hy was bang ek klim langs die pad van die trein af en hike iewers heen en sluit by ‘n biker gang aan en kom in die kak en verneder die familie, die kerk, my ou skool en die apartheidsregering en almal wat blank is.
Ek moes in elk geval van kleins af help met die was en stryk in die huis en my eie bed opmaak en my pa se skoene skitterblink polish, so daai eerste ruk relax ek lekker. En baie van my pa se drink-buddies wat saam met hom by Yskor gewerk het en wat ook in die weermag was, het vir my tips gegee en nog ‘n klomp ander waarhede sowel as kak gepraat.
Daar was ook baie “roer-jou-gat-en-wag” oomblikke. Dit was tydens een van die oomblikke toe ons in die son gestaan en wag het, dat ek kak begin uitdink het.
Toe reken ek, daai blonde meisie wat nou by die PU vir CHO onderwys swot, is mos oulik en ek ken haar van lank af. Al gevry en gesoen en alles en ons gaan mos uit. Al sit ek nou hier in die son en sy swot seker. En ek onthou hoe lekker sy geruik het en hoe mooi sy gelyk het en die trane in haar blink ogies en hoe ferm haar borste teen my gevoel het toe ek haar ‘n laaste drukkie gegee het en haar sagte lippe… en net daar besluit ek bogger die nonsens wat hier aangaan.
Toe kak een of ander bombardier nog op my kop ook want hy het geskree ons moet opstaan toe die luitenant aankom, en ek sit en dagdroom en planne uitdink en spring heeltemal te laat op aandag. Ek het die meisie se adres in my kop gehad. Van Rooy Straat. Sy het daar by familie gebly terwyl sy swot.
Van die ouens het dagga iewers by iemand gekoop, so ek dag toe as die persoon dagga kan verkoop kan hy seker ook ‘n briefie gaan aflewer. Ek hou toe die ouens dop en sien hulle koop dagga by ‘n korporaal wat in die kombuis werk.
Ek nader die korporaal en vertel hom wat hy moet doen of ek vertel van die dagga. Hy wou nog rang trek, maar hou net sy bek met die verstandhouding dat hy niks weet as ek niks weet nie en ook net een keer.
Die Woensdag-aand so teen 20:30 toe is ek reg. Ek het spesifiek die Woensdag gekies, want Woensdae middae was sport gewees en die staflede het nie by die bungalow opgedaag na aandete nie. Hulle het gaan suip op Woensdae en ook sommer effens laat vir inspeksie opgedaag die Donderdag-oggende. En ook nie almal nie, net die wat aan diens was.
Teen 21:40 was ek oor die draad en dertig sekondes later was ek agterop die blonde meisie se scooter en oppad na Van Rooy straat. Sy het nie na haar familie sy huis toe gery nie, maar na die sport terrein daar naby, langs die Mooirivier. En in die donker gestop.
Ek dink nie ek het eers van die kos wat sy in haar rugsakkie gepak het, geëet nie. Ek sal nou nie eksplisiete details hier blog nie, maar na ‘n lekker lang vry was ek teen 22:30 terug oor die draad en besig om my browns vir inspeksie reg te kry. Met ‘n groot smile op my gesig. En half dromerig en verlief van voor af. Niemand anders het geweet nie, en ek het vinnig ‘n sigaret aangesteek toe iemand vra wat ruik so lekker. Dit was die meisie se parfuum wat aan my afgesmeer het. Ek berei saam met die ouens inspeksie voor in die donker, want 22:00 moes die ligte af, en gaan slaap die aand lekker onder die bed. Ons het onder ons beddens in ons slaapsakke geslaap want dan hoef ons nie in die oggende weer die bed op te maak nie. Dis nou behalwe as ‘n staflid onverwags opgedaag het en al die beddens omgegooi het en die brandblusser en brandkraan gespuit het en sand en die asblik ens. in die bungalow of tente uitgegooi het omdat die ouens onder hulle beddens slaap. Woensdae aande was een van die “veilige” aande.
Die Donderdag-oggend om 05:45 toe ons regstaan vir inspeksie en ek nogsteeds droom oor stywe gladde boudjies en tong-soene, daag die staflede op vir inspeksie en ek kom agter hier is groot kak. Die bombardier en sersant staan buite en rook en ‘n vreemde stafsersant wat ons nog nooit voorheen gesien het, loop vinnig deur en slaan nie ag op ons beddens of die vloer of die wasbakke nie. Hy het sulke donker oë gehad en kyk net ons gesigte uit. My hart het begin klop en dit het gevoel asof my maag wil werk. Hy kyk ook nie daai kyk wat hulle jou gegee het om seker te maak jy het ordentlik geskeer nie, dit was anders. Hy kyk nie eers vir my nie maar loop net reguit verby. Toe panic ek eers, want ek het uitgesonder gevoel. Eers later toe my maag bedaar het en ek mooi kon dink, het ek besef hy kyk die korter ouens uit.
Skielik toe pluk hy ‘n ou vorentoe weg van sy bed af en gooi sy hele kas uit, pluk sy bed en begin al sy goed deursoek. In sy “civvie-sak” kry die Staf toe dagga.
“O shit!!!!!” dog ek toe hulle die ou wegvat en my maag draai en kook. Dit was nie ek nie, maar wat as die korporaal van die kombuis dink dit was ek en vertel van die briefie!!???? Hulle kon op enige manier van die dagga uitgevind het, maar nou juis met my luck op daai tyd, die aand nadat ek onwettig uit was, word ‘n ou gevang met dagga. En wat as die korporaal vertel van die briefie?
Tydens ontbyt het ek my varkpan net so vir iemand gegee en nie aan die kos geraak nie. Ek is seker een van die min ouens vir wie army-kos lekker was, maar daai oggend kon ek nie eet nie.
Teetyd toe kom haal die luitenant my en vat my na die kaptein toe. Ek het sommer geweet ek is diep in die kak, maar besluit as hulle nie weet wie die meisie is nie, gaan ek niks sê nie. Ek was baie bang sy kom ook in die kak en toe besluit ek al het sy erken dit was sy wat my kom haal het, gaan ek dit ontken, kom DB of wat.
‘n Sersant dril my toe in. Links!! Reeeeegs! Liiiinks! Reeeeegs! ensovoorts en halt my voor die kaptein se tafel.
Die kaptein het skaars opgekyk toe ek daar halt en salueer. Toe eers kyk hy my vas in die oë en vra vir my: “Viljee! Wat beteken 20:30 Woensdag? 20:30 Woensdag. Wat beteken dit?”
O fokker, dink ek toe. Die ou weet net van die briefie. Dis al. Niks van die meisie nie. Die korporaal het gepraat en vertel. Maar ek het in die rowwe buurt grootgeword en altyd geweet om as jy aangejaag het en niemand weet nie, jy jou storie net reg moet hê. Dit wat ek volgende gaan sê gaan bepaal of ek in die kak gaan kom of nie.
Toe lieg ek sonder om ‘n oog te trek of te bloos terwyl ek daar op aandag staan.
“Kaptein, dit beteken ‘n meisie moes geld by my kom haal het want ek help haar sodat sy vir haar eerste semester se studies by die PUK kan betaal.”
Die kaptein het sy hande saamgevou op die tafel en vir my gesê: “Viljee. Volgende keer fok ek jou op. Jy gee nie geld deur die draad aan nie. Jy kom praat met my.”
“Ja, kaptein!”
Die sersant het skielik weer verskyn en my uit gedril. My maag het bedaar. Alles was weer reg en die meisie se warm, sagte lyf het weer in my gedagtes gedans. Die meisie wat ek liefgekry het, lank voordat ek Weermag toe gegaan het. Die meisie met die stoute, vrolike ogies. Die meisie wat ek eers weer oor ‘n paar maande gesien het.
Die meisie met wie ek later getrou het en wat vandag nog my Vroutjie is.
Posted by gertgariep














