‘n Lekker koppie koffie

Mandela was nog in die tronk, Huisgenoot het al begin suig en P.W. het sy vinger geswaai. En die winkels was Sondae toe. Gesluit. Die volk het kerk toe gegaan en nie “mall” toe nie. ‘n Paar kafees was oop, want die Sondag-koerante moes versprei word sodat die nasie kon weet van die vrotmelk skandaal wat oopgevlek was.

Die Donderdag-middag het ek my tentjie iewers anderkant Standerton opgeslaan en saam met die ander bikers begin suip en kak maak. Daar is ‘n dam of iets naby Standerton. (Wonder hoekom mens lekkerder kuier as daar ‘n dam, of ‘n rivier, of ‘n groot klip ens. is?)  Woes gedrink, nie gewas nie en ook nie tande geborsel nie. Dieselfde kouse gedra. Vuil grappe vertel. Arm gedruk. Tyre gegooi. En ‘n paar vure gemaak sodat ons vleis kon braai en met die hand van die rooster af eet. Teen Saterdag was almal moer vuil, maar ons bikes het geblink. Ons het gepolish en geshine aan die ysters totdat die blink chroom later jou oë kon verblind. Tot die tyres was gepolish met swart Kiwi. Iemand het nog my Kiwi met sy kak Nugget omgeruil. Kan nie opnthou wie se bike het die prys gewen nie, maar deurentyd was daar gesuip, gevloek en gebraai. En bikes gerev. En harde musiek geluister.

Soos alle goeie dinge, het dit ook toe op ‘n einde gekom en Sondag-oggend het die een na die ander bike of groepe begin vertrek.  Ek het gesukkel om aan die gang te kom, want ek het ‘n moerse babalaas gehad.

Toe ek uiteindelik in die pad val, was dit al laat oggend. Ek draai die krane oop en die goggas wat in my tande vasgevlieg het, het ‘n welkome smaak in my babalaas mond gebring waar ‘n hond moes gekak het.

Die winkels was gesluit in Standerton. By ‘n kafee het ek ‘n Coke gekoop, maar was lus vir koffie, wat nie daar te kry was nie en ek was nie lus om nog rond te soek nie. Toe vat ek maar nukkerig weer die pad nadat ek die Coke afgesluk het.

Dis toe dat ek iets gesien het wat amper soos ‘n visioen gelyk het. Ek dag eers ek yl of is nog dronk, knip my oë ‘n paar keer, vee die visor van my helmet skoon met ‘n vuil handskoen en besef ek droom nie.

Dit was seker net na 11:00, en daar, aan die kant van die kerk was tannies besig om ‘n tafeldoek oor ‘n paar tafels te gooi en koppies en pierings reg te sit.

“Fok dit” dink ek toe hardop. “Ek hoef mos nie weer na hierdie dorp toe te kom nie.”

Ek idle die bike stadig al om die blok sodat die enjin nie te hard moet raas nie, en toe ek sien die stomende kan kookwater is ook uitgebring, neem ek my kans waar.

Daar was ook nog nie heinings en mure met spikes bo-op wat die kerk omring het en karwagte nie, so ek ry oor die gras tot naby aan die tafels, skop die stand uit, klim af, loop na die tafel toe, haal my helmet af en sit dit op die tafel, groet die geskokte tannies vriendelik en maak vir my ‘n lekker koffie. ‘n Sterke. Twee opgehoopte lepels kitspoeier, 3 suikers en baie melk. Die een tannie begin hard protesteer, maar ek gee haar ‘n vuil kyk en sy bly tjoepstil.

Ek sluk my koffie. Lekker. Eet selfs vier driehoekige toebroodjies. Iemand moes in die koster of die hoof ouderling se oor gaan fluister het daar is kak aan die gang daarbuite, want toe kom daar ‘n man uitgestap en hy probeer met ‘n gedempte stem by my uitvind wat ek daar soek. Die dominee was seker besig om te bid, want hy fluister. Ek mompel toe net terug want my mond is vol broodjies en koffie.

Ek sluk die broodjies met die koffie af, tune hom hy moet tog net relax, loop na my bike toe, start en ry stadig uit die kerkgronde.  Natuurlik het ek oopgemaak toe ek voor die kerk in die stil straat af wegry.

Dit was ‘n lekker koffie daai. Deesdae is daar Wimpy en Shell Ultra Cities en die winkels is oop.

9 Responses to “‘n Lekker koppie koffie”

  1. Jaco Says:

    Hehehe, daai niersteen was dalk die kerktannies se revenge dat jy hulle so ontstig het.

  2. Rustig Says:

    Ek kan my al die gesig voorstel. Tannies het hulle koeksusters reguit geskrik vir “rider from hell”.

  3. Die Wolf Says:

    Ha! Ha! Ha!
    Was daai tannies geskok omdat jy motorfiets gery het en vuil was, of omdat jy nie in die kerk was nie en sommer voor die diens klaar is koffie drink? :mrgreen:

  4. TristonJ Says:

    whahaha! ooo vrek ek kan dit somer sien!! :lol:

  5. Da Mario Says:

    Wonder ek ook nou hoekom die lekkerste kuiers rondom water en groot klippe en braaivleis vure is.
    Maar deesdae is dit seker eerder swembaddens, lapa’s en braaivleis vure.

  6. Dellie Says:

    Hehe, ek kan my die stywe-lip anties voorstel…die verontwaardiging… :lol:

  7. Pikkelik Says:

    Whahahahaha, arme gemeente, hulle praat seker tot vandag van die noue ontkoming wat hulle gehad het… :-)

  8. platterfuss Says:

    Kry ek nou lus vir ‘rerige’ koffie… daai’s wat ons jare terug oppad see toe gedrink het… as mens stop vir die padkos… of in die veld, uit ‘n ’special’ keteltjie in ‘n special beker….

    ‘n Koffielus moet mos maar gestil word, kerk of te not! HEHE!!

    EINA pyn vir daai nierstene……

  9. Bloggers en hulle k*k… « Da Mario se gepraat… Says:

    [...] doodstil.  En hy noem toe dat hy eers weer die home-fires moes hoog kry… En nou anderdag kry GertGariep mos nierstene en vind uit hoe dit voel as vroue kraam en sy blog word doodstil.  En tussen deur [...]

Leave a Reply