Die naweek

Ja, ek weet dis nou al Dinsdag, maar ek moes eers herstel. Die naweek het Vrydag begin met ‘n rampartytjie. Op ‘n plasie daar iewers anderkant Heidelberg.

Die plan was dat dit net ‘n rustige aand sou wees. Elkeen bring ‘n vleisie en ‘n paar biere en so aan. Net die manne wat braai, bier drink en kak praat terwyl die vrouens iewers heen gaan.

So, agtuur toe daag ek op met my pakkie vleis, 12 biere (Black Labels, Man Sized) en ‘n paar pakke Simba chips en ook natuurlik ‘n sakkie biltong. Ek moes al sesuur daar gewees het, maar die verkeer het my opgehou. En ek het so half verdwaal.

Die vuurtjie knetter rustig en ons braai en drink bier en praat kak. Toe bel een ou sy vriendin om te hoor wat die vrouens doen. Sy vriendin is toe lekker gesuip en die vrouens hou kliphard partytjie. Die vrouens stuur die foon rond en lag en giggel en mens kon hoor hulle het een moerse jol.

Kak! Besluit ons toe. Dis die vrouens wat voor die tyd gekla en kerm het ons mans moet ons gedra, en dis waarom ons heel rustig en stemmig braai, terwyl hulle tekere gaan. WTF?

Ons klap toe geld saam want iemand ken ‘n plek waar hy nog drank kan gaan koop. Baie hout word op die vuur gegooi, die mannetjie wie se bachelor’s dit is moet bier sluk sonder ophou en die hi-fi se speakers word na buite geskuif en kliphard gesit.

Ek bel toe rond en reel ‘n stripper. Sommer so sonder dat ek haar of ‘n foto van haar gesien het. Die ou wat drank gaan koop het was nie lank weg nie, en toe begin ons behoorlik drink en bachelor’s hou.

Net na tien toe daag die strippers op. ‘n Blondie met yslike, massiewe tiete EN ‘n brunette met ‘n lyf so slap soos ‘n wilgerlat. Tussen die Stroh en bier deur en die selfoon sein wat swak was en die geraas in die agtergrond het daar ‘n misverstand ontstaan toe ek gebel het, so toe daag daar twee strippers op.

Die twee raak van hulle klere ontslae op die verhogie wat ons vinnig in die sitkamer ingerig het en ons cheer en suip. Ons rafel toe lekker uit. Na die stripshow het die twee dames ‘n paar doppe gedrink en ‘n rukkie saamgekuier voor hulle weer vertrek het. Oulike, Afrikaanse meisies gewees.

En ons gooi buite nog vrek baie hout op die vuur en drink. Een of twee ouens het al klaar gekots en was naby aan uitpass.

Later staan ons buite en kyk hoe ver kan ons die lee bierbottels gooi. (Tydens die amper onmootlike taak van skoonmaak, blyk dit toe dat ‘n hele paar ouens sommer vol bierbottels ook gegooi het. En ‘n paar glase en ‘n potplant.)

Hiervandaan kan ek nie so lekker onthou nie.

Een of ander tyd het iemand se vrou hom kom haal. Ons dag toe dis nog ‘n stripper en begin cheer. Sy was baie vies en vinnig en kwaad saam met haar man daar weg. Nog niks weer van hom gehoor nie. Ek dink nie hy mag ooit weer uitgaan nie en moet seker vir twee weke in die hondehok slaap.

Saterdag-oggend toe word ek met ‘n vieslike babalaas op die sitkamermat wakker. Opgekrul onder my baadjie. My mond was kurkdroog en ek strompel toe op om water te gaan soek. Daar buite staan toe wraggies nog ‘n paar ouens en kuier. ‘n Groot ligbruin hond staan en eet vleis van die rooster af. En die son is vrek skerp. Brand amper my retinas stukkend. Ek kry toe water en sluk totdat dit voel asof my maag gaan bars. Nog ‘n paar siele ontwaak. Die grasperk was besaai met bierbottels. Party nog vol. Ons wonder nogsteeds wie het daai groot potplant so ver gegooi? Of was hy tweekeer of driekeer gegooi, want hy het op sy kant gelê, met die meeste van die grond uitgespat, net kort voor die verste bierbottels.

Ons begin toe maar skoonmaak. Kon nie glo ons het so baie bier gedrink nie. Een ou was nog gesuip of iets, want hy druk net die ligbruin hond eenkant toe en eet ook vleis van die rooster af. Teen elfuur was alles skoon en die wat nognie huistoe was nie, het gesit en kyk na die fotos van die strippers.

Vroutjie bel toe ook en laat weet ek moet onthou dat ons by vriende om sewe-uur ‘n formele ete het. Sy het nie baie goed geklink nie en het self ‘n moerse babalaas gehad. Die vrouens het hard gekuier.

Toe ek by die huis kom, was ‘n paar van hulle besig om op te ruim. Hulle het sommer daar gaan verder kuier. Te oordeel aan die hoeveelheid drank wat daar verorber is, en die paar bottels wat ek uit die flippen koue swembad moes haal (wat het daar aangegaan?), was daar net so woes gesuip.

Na ‘n middagslapie maak Vroutjie my wakker en sê ek moet begin regmaak vir die ete. Ek wou toe nie gaan nie, maar sy kry my op deur net so kaal en skoon en vars uit die stort…

So toe vertrek ons later. Netjies aangetrek. Ek met die voorneme om niks, of net baie min te drink. Water en koeldrank en so aan.

Daar aangekom sien ek die sherry is in groterige wynglase. OBS, dag ek toe. En ek laaik Old Brown Sherry net mooi FOKKOL. NIKS.

Het die mense dan nie ordentlike klein glasies vir die sherry nie? vra ek myself toe. Ek neem toe maar ‘n glas en hou my asem op en gooi die spulletjie in my mond af en sluk alles met een slag om dit so gou as moontlik verby te kry. En skrik. En slaag net-net daarin om asem te kry. Daar was nie sherry in die glase nie, maar Stroh. So toe sluk ek ‘n groot glas vol Stroh af. En almal lag. Ha ha ha grappie.

Na so tien minute begin ek toe gesuip raak van die Stroh, soos almal wat reeds daar is, en die gekuier begin in alle erns. Die aand kry lewe.

Ek skiet toe sommer ook vraat en eet soveel as moontlik met die hoop dat ek nie weer gesuip gaan raak nie, maar na die Stroh was ek klaar gesuip, so dit help nie.

En iemand onthou Vroutjie het nie haar Stroh gedrink toe ons daar aankom nie. En ek volunteer sommer om dit te drink. Lekker.

En daar kuier ek alweer woes. Tot lank na middernag.

Sondag-oggend toe ek wakker word, was ek heel verbaas. Hene, dis cool – ek het gladnie ‘n babalaas nie. Toe besef ek dit is omdat ek nog lekker dronk is.

Eers in die namiddag het die Stroh uitgewerk en die babalaas my geklap. En gister-oggend, toe voel ek eers kak. Soort van ‘n na-skok.

So, dit was my woeste naweek en hoekom ek nou eers, Dinsdag, daaroor blog, terwyl ek nog oor ‘n paar goed wonder, soos:

1. Die potplant.

2. Het van die vrouens geskinny-dip??? Want hoekom was daar handdoeke op die wasgoed draad, maar geen klere of swemklere nie? As mens in die swembad val of gestamp word, moet jou klere mos nat wees. As jy met ‘n bikini of iets geswem het, moet dit mos nat wees. Maar as net die handdoeke waarmee afgedroog is op die draad hang…

3. Die groot ligbruin hond. Wat is sy naam? Hy het vriendelik gelyk. En ek dink hy het iewers deur die nag heeltyd ‘n flenters gekoude tennisbal ook teruggebring wat ek vir hom gegooi het.

4. Die vrouens het mos nie beplan om by die huis verder te gaan kuier nie, so hulle het mos dan nie swemklere saamgebring nie. Of het hulle?

12 Responses to “Die naweek”

  1. Dellie Says:

    Whahahaha! Simpatie met die babelaas – ek ken ook van jukskei speel met bierbottels, en die nagevolge daarvan. :lol:

  2. Da Mario Says:

    Whahahaha!! :lol:
    Hierdie is voorwaar ‘n woes lekker storie, ek kan nie eers onthou wanneer ek laas so lekker gekuier het of gelag het vir julle eskapades nie! En ek dink die vrouens het wragtig geskinny dip, maar as jy kla oor die koue van toe jy die goed uit die swembad moes haal, dan was hulle wild gekuier toe hulle ingeklim het…

  3. Gert Gariep Says:

    Dellie, ek dog dan ons die enigstes wat sulke speletjies met bierbottels speel. Bly om te hoor ander mense het ook al die nagevolge daarvan ervaar. :mrgreen: Ons het dit darem op ‘n plaas gespeel. Daar is genoeg plek. In ‘n woonbuurt kan die bottels dalk die buurman se dak of sy ruite tref. En in hierdie nuwe townhouse komplekse wat so groot soos vuurhoutjieboksies is wat ek sien deesdae orals gebou word, kan die bottels dalk jou buurman se buurman wat in die kompleks agter jou bly se buurman se dak tref.

    Da Mario, ek kry baie vinnig koud. Upington is vir my koel in die somer, en die see by Mauritius is ook koud vir my. Die son het die swart plastiekpypies van die swembad se (kak) sonverwarmer op die dak binne ‘n paar jaar stukkend gebrand. Die seil wat die hitte moes “binne hou” het binne maande sy gat gesien, stukkend gevreet deur die chloor, toe los ek maar die spulletjie en die swembad bly koud.

    En Vroutjie lag net as ek wil weet wie het kaal geswem. Die vrouens praat glo nie uit nie. Wat ek dink unfair is. Ek het dan hier op die blog van die twee strippers en die suipery en alles vertel.

  4. Wipneus! Says:

    Hier het julle vir goud gegaan en woes geparty! Wanneer laas het ek so gepartytjie?
    Gelukkig was dit op ‘n plaas!

  5. knersis Says:

    Gert, dit was nou ‘n moer lekker storie om te lees. Kan sommer sien julle het vir ‘n plek in die A-span gekuier, mooi man!

    So terloops, ek trek my oop uitnodiging dat jy enige tyd op my plot kan kom braai sommer summier terug. Magtig! As ek vir Vroulief moet verduidelik hoekom die blompotte die wêreld vol lê slaap ek sommer vir ‘n maand lank op “welkom”.

    En jy weet wat hulle sê hoekom ‘n mens dors is die volgende oggend nê? – want jy het nie genoeg gedrink nie, natuurlik! (whaha)

    Ja-nee, lyk my dit moes ‘n wonderlike naweek gewees het, want jy wonder steeds, het hulle ge-skinnydip? En wat van die hond en daardie potplant(e)? Hmmn, Maak mens wonder…

    Okay, op ‘n meer ernstiger noot, Gert – waar is jou argiewe my maat? Hoe kan ‘n mens nou ooit op daardie jems van jou afkom wat jy gister-week en gister-maand gepos het? Dan het ons droewige klompie ook darem iets om ons aan die go te hou terwyl jy babbaleer.

    Mooibly ou grote!

  6. Gert Gariep Says:

    Nee, jong, Knersis. Hoe kan jy nou sommer die uitnodiging terugtrek? Jy moet onthou, ek kuier baie min so erg diep woes. Oor die argiewe… ek sal bietjie gaan krap daar by die WordPress dashboard, maar jy moet onthou as ek aan ‘n ding krap, breek dit dalk…

  7. gertgariep Says:

    Ok, daar is die argiewe. Heel bo links, onder “archives”. April, Maart, Februarie en Januarie s’n.

  8. knersis Says:

    Dankie vir daardie argiewe, Gert. Nou kan ons lekker lees en opvang. Nee, ek terg net. Die uitnodiging staan nog. Ek verkoop hopelik binnekort die dêm plot, dan kan ek ook daar in Sonkind se land gaan nesskop naby daardie plat-berg en gaan kreef soek saam Skoor en kie. Maar voor ek hier trek sal dit lekker wees om vir oulaas die braai te laat brul vir alles wat hy het. Dink dit sal lekker wees om ‘n braai te gooi vir al die bloggers wat hierlangs bly om die okkasie te vier.

  9. Da Mario Says:

    Ek dink dis tyd dat jou vroutjie ook ‘n blog kry. Iets soos “GertGariep se vroutjie” sodat ons almal kan weet wie sy is. Dan kan ons (en jy) daar gaan lees oor wie wat aangevang het! :D

  10. neykie Says:

    eish, dit klink rof.

    Ek het al eenkeer een te veel Jagermeister gedrink en twee van my kar se rims lekker opgeneuk. So op die ou end het die aand my ‘n aardige R2500,00 gekos.

    nooit weer nie….altans nie gou nie

  11. Die Gestorwe Soldaat Says:

    Jy moet op Vroutjie se selfoon of of kamera loer, Gert. Dalk is daar ‘n paar stukkies evidence… En nog so lekker possie! Great stuff!

  12. Dellie Says:

    Julle was op ‘n plaas? Dis gaaf. Ons was by ‘n vakansie oord – die hele oord was doodstil toe ons 3uur die oggend besluit om bietjie op te ruim… toe juksei ons die bottels in ‘n drom in. Met klangelang! wat weergalm oor die vlaktes elke keer as ons raakgooi. Die res van die oord was nie impressed nie. Hulle het ons amper uitgegooi… :oops:

Leave a Reply