Gebruik jy die Internet by die werk?

May 30, 2008

Daarmee bedoel ek nou vir ander goed wat nie eintlik iets met jou werk uit te waai het nie.

Party dae is dit stil. Die manne se bikes loop almal en ons swaai dus die spanner minder. Soos nou. Die juniors kan tyres regmaak, vonkproppe vervang, olie change ensovoorts. Dan is dit mos tyd om op die Internet rond te surf, kak email jokes uit te ruil, email vir jou pelle, wat oorsee toe na Londen en Perth toe gemoer het, te stuur en wat ook al jy wil doen.

Ek sit hier en blog. Vroutjie en die meisie wat haar help met die boeke is haarkapper toe. Hulle hare groei tydens werkstyd ook. En daarom kan hulle dit tydens werkstyd gaan sny en kleur en whatever.

‘n Ander ou is besig om Second Life te speel. Hy het gister begin, en as ek hom so kyk weet hy nie wat daar aangaan nie.

Frik, wat nou buitekant staan en rook, is besig met World Of Warcraft.

Die IT outjie voel duidelik ‘n fok vir sy werk, want ek sien hy is besig met sy eie blog en website en goed.

Die grootbaas is besig om aanlyn te dobbel en rook sommer daar in sy kantoor. Ek kan nie sy skerm sien nie, maar ek weet hy is besig om te wen want hy lyk ingenome. As hy verloor dan kan hy nogal perform daar in sy kantoor.

Die ander meisie wat die rekeninge doen lyk asof sy besig is met ‘n chatroom. Seker online-dating of iets. Sy soek hoeka al ‘n ou. Sy is ‘n brunette, 29 jaar oud en geskei. Geen kinders. Baie mooi. Sy soek ‘n man wat haar sal mooi oppas en waardeer. Sy mind nie as jy rook nie, maar jy mag nie te veel drink nie. Sy ry ‘n 1998 Suzuki GSXR 750. Sy kan dans. Haar eks man is ook nie meer in die prentjie nie, want hy het eendag hier aangekom en haar kak getune. Hier was meer as genoeg bikers om hom te ehm… verwilder. Dis ‘n oulike meisiekind daai, maar as iemand haar rondneuk of seermaak, dan is hier weer meer as genoeg bikers…

Jakes sit en fotos kyk wat iemand vir hom vanaf Mosambiek gestuur het. Franky, die enigste ou hier met ‘n mullet, is al huistoe. Dit is mos Vrydag.

En so kan ek aangaan. Hier by die werk mag ons die Internet gebruik vir persoonlike goed, maar ons mag nie maatskappy se naam gebruik nie want die grootgrootbaas laaik dit nie as die mense weet hy en sy werkers gaan na wilde suip rallies en kyk stripshows nie en facebook en myspace word deur die server geblok. Blykbaar te veel videos en goed wat die bandwidth vreet.

So, ons gebruik die Internet by die werk, natuurlik op die werk se onkoste en niemand mind daaroor nie.

Ek weet wel daar is plekke waar mense hard gelimit word oor Internet gebruik by die werk. Hoe is dit daar waar jy werk? Kan jy darem blog by die werk?


Ek is alweer moerig. Of dalk nie.

May 28, 2008

Eintlik weet ek nie so lekker wat ek is nie.

Sien, vandag toe ek ophou spanner swaai en die tools neersit vir middagete, toe sien ek uit na my kos. Die hamtoebroodjies en plastiekhouertjie vol sop. Wat Vroutjie vir my gemaak het. Met liefde. En ek weet haar toebies en sop is vrek lekker. En dit is koud en ek sien uit daarna om die sop warm te maak in die kombuis se microwave. Sodat ek kan eet en weer krag kan kry vir die res van die dag en sommer ‘n warm gevoel in my hart ook kan kry omdat Vroutjie so lief is vir my.

Maar toe ek my kosblik uit my rugsak haal, is my kosblik leeg. Een of ander doos het my toebroodjies en sop gesteel. Daar is net ‘n paar krummels in my kosblik en teen die kant van die plastiekhouertjie is daar ‘n streep droogwordende sop soos die dief dit uit die houertjie gegooi het. Toe is ek moerig. En honger. Ek ry toe maar garage toe en gaan koop ‘n pastei en ‘n plastiekbekertjie vol koffie.

Maar nou, net voor uitvaltyd val iets anders my by. My beursie en selfoon was ook in my rugsak. Die dief het dit nie gesteel nie. Dalk was die dief net regtig honger, want hy of sy kon netsowel my beursie en selfoon ook gegaps het.

So, nou weet ek nie meer of ek nogsteeds moet dink die dief is doos en of ek moerig is of nie.

Edit: Ek is moerig want mens vat nie sonder om te vra nie en steel is steel. Dus is ek de bliksem in en as ek die kosdief vang kak hy.


GG - Uitgawe 5

May 26, 2008

Weer tyd vir ‘n GG. Hene, die vorige uitgawe was meer as ‘n maand terug.

1. Dis Winter en Koud!

Volg hierdie maklike tips en oorleef die winter.

a.) Onthou, jy kan nie hiberneer en net in jou bed bly nie. Die baas gaan jou fire as jy nie gaan werk nie.

b.) Eet. Jy sal moet eet. Dit is nie nou die tyd om te worry oor wintervet, dik dye, bierpense en hangtiete nie. Jy wil oorleef. As jy nie eet nie, het hy nie energie nie en kan jy dalk verkluim. Jy gaan in elk geval so baie ruk en bewe van die koue dat jou lyf meer oefening gaan kry as wanneer jy gym toe gaan.

c.) Biltong. Dit is baie belangrik om ‘n groot voorraad biltong aan te hou. Jy wil nie onnodig Spar of Checkers toe ry as jy honger word nie. Jy kan longontsteking in die koue opdoen as jy onnodig winkel toe ry en in die ry staan waar almal snot op jou nies.

d.) Rooiwyn. ‘n Paar bottels vir wanneer die koue te erg deur jou sny.

e.) Laat staan jou fiemies en eet groentesop. Dit is lekker en maak jou van binne af warm. As jy nie kan kook nie of nie lus is om te kook nie, koop ‘n paar blikkies by Woolies.

f.) ‘n Vuur. Nee wat, moenie op Eskom vetrou nie. Jou kragopwekker gaan in elk geval waarskynlik nie die stoof, verwarmer, TV, ligte en vistenk aan die gang kan hou nie. Maak ‘n vuur. ‘n Kaggel is romanties. As jy nie ‘n kaggel het nie, kry ‘n gasverwarmer. Lekker! Of maak ‘n moerse vuur buitekant.

g.) ‘n Wolduvet. Jy kan nie wil koud slaap nie. Daar in Chrissiesmeer is ‘n winkeltjie wat lekker duvets met ‘n katoen oortreksel en wol binnekant verkoop. Bethal, Ermelo, en nog so ‘n entjie. Chrissiesmeer is klein, jy sal die winkel kry.

h.) Voorbehoedmiddels. Maak seker jy het genoeg. (As julle dit gebruik en nie besig is om die gesin uit te brei nie.) As jy ‘n man is wat jassies gebruik en jy moet Shell garage toe gaan in die koue om ‘n pakkie jassies te gaan koop… tsk… tsk.. die koue krimp jou slang na ‘n wurmpie.)

i.) Onderklere vir jou vrou of meisie. Wat, is ek mal? Sy gaan mos koudkry!!? Nee. Onthou, die kaggel of verwarmer of vuur gaan jou plekkie lekker opwarm, en as jy vir haar die onderkleertjies gee, kan julle lekker warm onder die wolduvet inspring. Dis nou nadat julle saam ‘n stomende bad by kerslig geniet het. Kry die idee? As jy nog single is, shame, die lewe is kak… en koud… en alleen.

2. Boerekos

Jy is moeg vir MacD. Kentucky is toe want die krag is af. Steers het jy vanoggend EN vanmiddag geëet. Die hond het die oorskiet opgevreet. Maak self kos. Boerekos. Persoonlik dink ek hulle Biltong-resep gaan vir ‘n pot kak, maar nou ja, elkeen het sy eie geheim en resep hoe om biltong te maak. Die res van die resepte lyk almal watertand. As jy ‘n “Knuppeldik aan Koningskos” boek het, is jy nog beter daaraan toe. En ek sê dit sommer weer, al het ek al by vorige posts: As jy ‘n man is en JY kook lekker kos, het jou vrou meer tyd om te rus en meer tyd vir jou. Verstaan?

3. Nutsman - Hier is jou helper.

Oulik! Oulik!

Jaco van Wosonki het nou die dag vir ons gewys hoe dit gedoen word om ‘n afdak te bou. Ek het gesien daar was so ‘n bietjie gesukkel en het nou maar net gewonder of hierdie helpertjie volgende keer kan kom help.

Soos julle kan sien, weet hy van leer klim.

4. Wyn vir die pyn.

Lees veral Boerinbalingskap se kommentaar.

So elke nou en dan tref dit my dat ek eintlik binnekort trou en dan skrik ek wakker en trek my leêr en to-do list nader en raak beangs en spring dan aan die werk vir so ‘n uur of twee, net om weer oor twee weke die oefening te herhaal.

5. Hitler en die vreemde vark.

Kyk, Soldaat kan ‘n hond uit ‘n bos uit skryf. Jy het waarskynlik al die storie op sy blog gelees, maar dit maak nie saak nie. Gaan lees dit sommer weer. Dit is die ideale storie om jou op te kikker terwyl jy die koue aande trotseer. Die storie verskyn een van die dae ook in DGS se bundel. :smile: Of hoe, Soldaat?

6. Lambertsbaai

Lambertsbaai is een my en Vroutjie se gunsteling plekkies. Indien jy nog nie daar was nie, sit verlof in, pak jou saalsakke en vat die pad. Bloggenoot het baie fotos om jou lus te maak en te oortuig jy sal MOET gaan.

7. Dikbek nurse.

Al wat ek hier kan sê is dat ek Rosalind beste wense toewens en hoop en bid dat sy en al die ander mense by daai hospitaal gou weer op die been sal wees.


Aaklige tye

May 26, 2008

Thanks vir die video wat jy gepost, het Pikkelik.

Ja, daar was natuurlik ook die aaklige tye in die SAW.

Salueer nie net die soldate in die berigte hieronder wat gesneuwel het nie, maar ook al die ander. En onthou hulle families ook.

Die kak ding van oorlog is dat mense doodgaan.


R.I.P. Adri Juyn

May 24, 2008

Die raaisel rondom mnr. Adri Juyn (agt-en-sewentig), beter bekend as oom Adri, is gistermiddag opgelos toe sy lyk ongeveer 4 km vanaf die plaas waar hy verdwyn het, in die Vaalrivier gekry is. Sy seun, Attie, het omstreeks 16:45 bevestig dat dit wel sy pa se lyk is wat in die rivier gekry is.

Juyn het vandag presies drie weke gelede op 3 Mei op sy geliefde familieplaas, Kromdraai, gaan stap en nooit weer teruggekeer huis toe nie.


Nog army shit

May 22, 2008

Ja, sorry vir die woord in die titel. En die wat volg.

Dit was deel van army-taal. En kan nog erger word. Ek dink nie die spreukwoord moet lui “vloek soos ‘n matroos” nie. Ek dink dit moet wees “vloek soos ‘n kanondonkie” en as jy die dag regtig bemoerd is, “vloek soos ‘n boknaaier”. Hene, daai ouens wat op die pap geloop kon vloek. (Hulle loop op die pap, want hulle eet dit in die oggende in die menasie en dan stap hulle sonder ophou. Hulle gebruik nie diesel nie en hulle gebruik klein skietgoed soos die R1, R4 en LMG. En die 60mm mortier. Party kere ry hulle meer Ratel as wat hulle loop, dan gebruik hulle minder pap en meer diesel en groter wapens soos die 81mm Mortier en Ratel 90 vir tenkafweer of so iets.)

As julle niks gedoen het in die weermag nie, soos ‘n troep wat ‘n ruskans kry, dan het hulle bal gehang. Of ballas gebak.

As ‘n laer rang saam met ‘n hoër rang kak gepraat en gekuier het, dan het die laer rang piele gevleg. (En ‘n opfok of ‘n bosbus net daarna gekry om hom weer op sy plek te sit.)

As die kanonne geblaf het en die vuurpyle gehuil het, dan was dit pielstyf op die stelling.

As jy grappe oor iemand met rang gemaak het, soos byvoorbeeld oor die bombardier terwyl julle in die aand die kaserne se vloer polleer en almal lag, dan het jy gat gevat. Gat vat het ‘n wye betekenis in die weermag gehad. As jy jou stem maak soos die samjoor wanneer hy die battery dril, dan vat jy gat. As jy praat soos die luitenant met die lisp, dan vat jy gat. As jy maak of jy pyp rook soos die RSM, dan vat jy gat. Net ‘n laer rang kon gat vat met ‘n hoër rang. ‘n Hoër rang fok die laer rang op.

As jy iets gedoen het wat niemand ander gedoen het nie, dan was jy op ‘n eiland. Of jy is die eiland.

Kos:

Hawermout - Witpap

Chicken A La King - Mortierhoender. Die hoender was met die mortier geskiet, daarom is die hoender in stukke.

Dun gesnyde taai beesvleis - Tentflappe. Gewoonlik saam met so ‘n bruinerige sous bedien. As jy weet hoe lyk ‘n bruin army-tent, 16×16, sal jy weet hoekom daai vleis tentflappe genoem was.

Dikker gesnyde taai beesvleis - Kwê-tyre of Ratel-tyre. Die vleis was taaier as die mynbestande voertuie se wiele.

Ek kan nie eintlik aan nog veel name dink vir kos nie. Ons in die Artillerie het nogal lekker geëet. Ek het army-kos gelaaik oor die algemeen.

O ja, daai harde, taai vis met die krummels om het ons “Waap!” onder teen die staaltafels in die menasie vasgeklap en die volgende oggend klap jy op die tafel na ontbyt en dan val die stukke harde vis weer af soos jy uitloop. En die RSM het Sondae gesê hy eet nie beestong nie, want die bees het met daai einste tong die koei se poes gelek. Sy woorde.

Tree aan met ‘n projektiel beteken jy gaan opgefok word deur met die projektiel op jou skouer te hardloop totdat jy kots. En dan nog ‘n ruk om seker te maak jy is goed opgefok. Dieselfde met “tree aan met ‘n sandsak.”

Jou kak gaan draai beteken ook jy gaan opgefok word.

Tree aan kan iets onskuldig beteken het soos val in die afdeling in dat julle kan gaan eet. As daar egter ‘n weermagambulans en ‘n medic ook gewag het in die omgewing waar aangetree moet word, dan het julle gat gevat, slap geword, rondgefok, op die bombardier se battery gepis, en nou gaan julle kak draai en die fokken son nie weer vir julle opkom nie!

Sing ding! Liks!!! Aks!! Liks! Aks!! Sing ding!!!!

In die Artillerie, na JL’s het meeste van die onderoffisiere so gedril: Liks! Aks! Liks! Aks! Liks! Aks! Eiiiissh!

So, ek dink die uitdrukking van “Eish!” kom nie van die brandewyn advertensie af nie, maar van SAW bombardiere wat die brandewyn elke aand gedrink het. As die bombardier of sersant eers “Sing ding!!” gegil het terwyl ons looppas mars was, dan moes jy sing. Hardop. Gees vang. Army liedjies. Aag man dis lekker in die aaaarmy…. was nie een van hulle nie. Daai liedjie was vir in die veld in die aand by die vuur. “Hak! Hak! Poes! Poes!” was die beste liedjie om by die bombardier se pas in te val. “E! L! X! L! X! E!”, uitgespreek soos die alfabetletters was ook gewild. En nog ‘n klomp ander sif liedjies soos:” Al die meisies, trek julle panties af, al die meisies trek julle panties af,” gesing volgens die pas van die bombardier.

As iets lekker was, was dit piele. Byvoorbeeld: Die chopper drils was piele!

En nog woorde en frases:

Balsak: So ‘n worsvormige bruin seilsak waarin jy jou kak gepak het.

Dixies: Twee staal/alluminium reghoekige bakkies met handsvatseltjies wat inmekaar pas.

Kaksak - Onderbroek

Pisvel - Matras oortreksel

Is jou tampon skeef?” - Dit wat die luitenant vir jou gevra het as jy tydens “Vasbyt” moeg geword het.

“Die kak sit wit” - Seker maar ‘n dubbelbetekenis. Op die grens het die kak wit gesit as die MiG’s naby was of as die vyand afgekak het onder die bestoking.

R&R - Eintlik is ek nie seker hoe spel jy dit nie. Rum & Raspberry. Ek dink die ander korpse het ‘n ander betekenis gehad. Soldaat help uit!

Petrol, Olie En Smeermiddels - Tydens pas uit die bos ‘n gesegde vir ‘n mooi girl. (Werk die een maar self uit.)

Poesbedroef - Hartseer, seker as ‘n meisie jou met ‘n “Dear Johnny” afgesê het. Dit was partykeer ook gebruik vir iemand wat stukkend dronk was van al die rum en dronkverdriet gekry het.

Daar was nog baie woorde vir ‘n meisie, soos “slymsloot”, “wip” ensovoorts, maar ek gaan nie dit alles hier noem nie. Dit is meestal vieslike woorde.

Hartseer - Seker enige tyd en plek gebruik deur iemand met rang. Voorbeeld: Wat is jou kak, hartseer? Wil jy vir mammie hê?

Grootsak - Rugsak

Bakleitrui/BattleJacket - Die ding waarin jy jou ratpack, waterbottel, bomverband, magasyne, handgranaat ensovoorts pak.

Hene, hoe meer ek skryf, hoe meer onthou ek. Tyd vir bal hang.

Valkiri, demo terrein by Lohathla

G5 en kanontrekker. Daai boks in die middel wat soos ‘n kajuit lyk, is die “aapkas” waar die bediening sit. Die No.1 sit links voor langs die drywer. Die Nommers 2-8 sit in die “aapkas”. Die No.1 is baas, koning van die kanon. Die No.8 is die tweede in bevel. Die No.3 werk die visier. No. 2 trek die tiet en sien om na die sluitstuk. Nommers 4 en 5 werk tussen die bene met die rammer en lugbottel ens. No. 6 en 7 is ook ‘n amminusienommer saam met No. 8. Ek kan verkeerd wees. Die G5 het ek in die laaste jare gewerk.

Valkiri

Die Kwê hierbo het die kort bak en net twee agterwiele. Een links en een regs. Ek dink dit was die Kwê 50. Die Kwê 120 het twee wiele aan elke kant agter gehad, agter mekaar en nie dubbeld langs mekaar nie, en kon 10 ton dra. Die kajuit was mynbestand.

DGS behoort ‘n proper foto van ‘n Ratel te hê. (Daai een waar hy op die Ratel sit en rook.)

En dan tag ek sommer almal wat in die army was om nog byname, woorde, gesegdes en frases to post.


Kouse in die pot.

May 22, 2008

Vrotpootjie

Nog ‘n weermagstorie wat ek onthou het nadat ek van Soldaat se possie Die jippo-guts in Braam se kraag gelees het. En dis nog ‘n sif storie.

Vrotpootjie. Atleetvoet. Stinkvoete. Vrotvoete. Noem dit wat jy wil.

Ek was nog ‘n troep en net voor ‘n laaaaang veldoefening het ons ‘n 7 dag pas gekry. Toe gaan ek na ‘n bike rally toe en spandeer die naweek daar deur te drink en te suip. En die ablusieblokke te gebruik. Kaalvoet te stort.

Toe die pas verby was en almal begin regmaak vir die laaste oefening voordat ons Grens toe gaan, is daar ‘n klankie wat om my voete hang. En my twee trappers jeuk so effens tussen die tone. Ek gooi die Mycota wat ek by my gehad het dat die poeier dik lê tussen my tone en die toestand verbeter.

Wragtig een aand toe my kouse buitekant op die draad hang, het een of ander fokker dit gesteel. Ek weet nie wie was so fucked-up om kouse te steel nie, maar in die weermag was jou goed gesteel van die draad af as dit nie gesluit was nie. Ons hemde, broeke en overalls het ons met ‘n ketting deur die moue en dan met ‘n slot aan die draad vasgesluit.

Toe gaan ek veld toe met net 2 pare kouse. Een paar wat stink en vrot aan my voete en die ander paar in my grootsak.

Die dag toe ons uitry veld toe, begin dit saggies te reën. En dit hou nie op nie. En die Kommandant wat die bevelvoerder vir die oefening was smaak dit dik stukke want die weer is kak en goor en die kanoniere kak af. En dit was vrek koud terwyl die RSM met sy kortmouhemp rondloop en die moraal opbou. En ek met die min kouse. My voete vrot en al was ek elke aand ‘n paar kouse, bly dit nat want dit hou nie op reën nie. Ek het onderhandelinge aan die gang met die korporaal van die KM, 2 pakkies sigarette en so aan, maar dis nog vroeg in die oefening en almal het nog sigarette, so ek wag vir my ekstra kouse. En my voete vrot.

Na twee weke ruil ek sigarette en kry by ‘n ou ‘n klein botteltjie kaliumpermanganaat kristalle. Die goed vlek my voete bruinpers, maar die swamme lyk asof hulle weggaan. Teen daardie tyd het my voete al soos ‘n vrottende karkas geruik as ek my stewels uitgetrek het. Eintlik het die reuk al deur die stewels geslaan. ‘n Verstikkende stank.

Een ou vertel toe dat dit my kouse is wat die hele tyd my voete weer met die swamme besmet. Daar was geen warm water nie, so ek kon my kouse nie behoorlik was nie. Die stukke vrot velletjies wat van my voete afgeval het, het al deel van my kouse geword. Ek wou ook nie medic toe gaan nie, want daai medic sou vir die bombardier gesê het my kouse is vuil, en dan kry ek ‘n opfok met my seer voete en al. En nog een as die bombardier agtergekom het my kouse was gesteel. En sommer nog ‘n opfok by die luitenant ook. En een by die sersant. En die staf. En die samjoor. En die RSM. En die kaptein. En die majoor. ensovoorts. Elkeen in die army wou mos die ander wys “hoe om ‘n troep goed op te fok.”

Toe maak ek plan.

Die staflede (die met rang) het per span so ‘n bruin oopvou dieselstofie gehad. Ek dink die ding se naam was “Bosveldbrander” of so iets. (Hoe laer die rang, hoe meer mense moes ‘n stofie deel. 15 Drywers, wat kanoniere was, het een stofie, 4 “one pip” luitenante het een stofie, die bombardiere vat die troepe se stofies. Die sersante vat die stofies by die bombardiere en so aan. ‘n Tipiese army fokop wat eintlik net beteken die troepe het nie stofies nie en hulle eet koue kos.) Jy gooi sy tenkie vol diesel, en dan pomp jy hom en steek hom aan en as hy eers brand dan suis hy gesellig en jy kook lekker boeliebief in jou dixie. Die majoor het gedink hy was smart, so hy het blou spiritus gehad om sy Bosveldbrander mee te “prime”.

My plan begin toe vorm aanneem. Ek volunteer om douvoordag in die koue op te staan en die gasstoof van die veldkombuis aan die gang te kry sodat die offisiere se water in die groot kan kan kook vir hulle koffie. Na so twee aande toe steel ek die majoor se spiritus uit sy tent terwyl hy langs die vuur gesit en suip het.

Ek gooi die spiritus in my drie pare stewels om hulle goed te ontsmet met die alkohol. En die volgende oggend toe gooi ek die eerste paar vuil, sif, vrotpootjie verrottende kouse wat soos ‘n dooie dier ruik, in die waterkan wat lekker kook vir die offisiere se koffie. Ek kon sommer sien hoe die swamme, skimmels en vrot voetvelle uit die kouse kook. En die tweede-luitenante, luitenante, kapteine en die majoor drink hulle koffie. Lekker. Ek hou so aan vir seker nog twee weke toe raak die KM korporaal se sigarette op en ek ruil sigarette vir kouse.

Die pers kristalle en my kouse wat elke oggend gekook word kry die vrotpootjie onder beheer. Toe dit net lig besmet is en baie beter lyk, gaan ek medic toe. En raai wat? Hy sê dit is die veldstort want baie ouens het al kom kla van vrotpootjie en voordat ons ons weeklikse paar sekondes stort kry, laat hy almal deur ‘n sinkbad loop waarin kaliumpermanganaatkristalle opgelos is. Ja, wel, eintlik was dit die veldstort want ek het met my vrot voete ook daar ‘n paar sekondes natgemaak, geseep en afgespoel. En die swamme daar gelos vir diegene wat in die ry wag vir hulle beurt…  :mrgreen:


Om te moer of nie?

May 20, 2008

Party mense moet net gemoer word. Hulle moet ‘n moerse vuis kry.

Die naweek was ek en Vroutjie na ‘n verjaarsdagpartytjie toe.  Daar aangekom maak die manne solank vuur en knak ‘n bier.  Die vrouens ruil resepte uit en maak slaai in die kombuis.  Heel rustig.

Toe daag daar een of ander fuck-up op wat aan ‘n erge graad van ‘n minderwaardigheidskompleks moet ly of iets.  Eintlik is hy net ‘n pap vrot muis.  Dis die ou wat gemoer moet word.

Hy sê sy vrou so sleg voor almal dat die see haar nie kan afwas nie.  En elke keer as sy krimp van skaamte, dan lag hy en kry lekker.  Niemand steur hulle aan hom nie en probeer wegpraat van die persoonlike goed waarmee hy sy vrou tot in die grond in afkraak en vertrap, maar as die stupid tappet die geleentheid kry, dan trek hy los en sê sy vrou sleg.  En lag sy gat af.

Ek sien hoe seer kry sy vrou en begin planne maak om hom te moer.  Nie daar onder die lapa waar ons kuier nie, want daar is kinders ook wat daar rond speel.  Miskien daar agter in die donker as hy ‘n draai loop…

Ek sit toe rustig en kuier en wag dat die ou opstaan.  Daar kom ‘n dogtertjie aan en vat ‘n handjie vol Simba chips uit die bak wat op die tafel staan.  Dit is toe Muis se dogtertjie.  Hy sê haar so sleg en tart haar so baie omdat sy eet, “vet seekoei”, en so aan totdat sy huil. (Sy is glad nie naby aan oorgewig nie.)  Toe voel hy lekker.  Daai vieslike, smerige smile sit breed oor sy gevreet.  Ek kon sommer sien hoe sy dogtertjie se hele wese wegkrimp.

Ek staan op en Vroutjie trek my sterk in die stoel terug met haar klein handjie.  Haar oë vertel sy weet wat ek wil doen en dat ek nie moet nie.  “Susan* gaan dit ontgeld as hulle by die huis kom en dan is jy nie daar nie.” fluister Vroutjie in my oor.

Toe sit ek eers en dink.  Moer ek vir Muis, haal hy dit later by sy huis op sy vrou en kind uit.  Dan maak ek eintlik kak vir sy vrou en dogtertjie.

Ek hou my toe maar in.  Later vertrek Muis en ek hoor by die mense dat hy dit al lank doen.  By die huis mishadel hy haar nie net verbaal nie, maar rand haar ook fisiek aan.  Susan wil hom nie los omdat hy haar mishandel nie want sy is ‘n huisvrou en wil nie wegbreek sonder ‘n inkomste nie.  Hy manipuleer haar ook so en sy is so vasgevang deur hom dat sy dink dit is onmoontlik om iets aan haar situasie te doen.

So nou dink ek iets is gladnie reg nie.  Die Fok kan mos nie wegkom hiermee nie?  As ek hom moer, haal hy dit op sy vrou en kind uit, so ek gaan dit erger maak vir hulle.  Sy vrou wil nie Polisie toe gaan nie, want sy is te veel vasgevang deur hom.  Sy vrou wil nie haar dogtertjie vat en hom verlaat nie, want sy is te afhanklik van hom.

So nou hou hy aan.  WTF?

Vroutjie het met iemand gaan praat wat maatskaplike werkers het en sielkundiges vir mishandelde vrouens.  Ek hoop hulle rig iets uit.

En die ergste van alles? As ek Rot se elmboë agtertoe breek, sy neus skeef slaan, sy ribbes afskop en sy vingers breek, gaan ek skuldig bevind word in ‘n aanrandingsaak teen hom.  Maar hy kom skotvry terwyl hy sy vrou en kind mishandel.

Is dit nou hoe die samelewing werk?  Die laagste slymsleepsel, ‘n man wat vrouens mishandel, kom skotvry?

Ek hoop regtig die maatskaplike werkers en sielkundiges kan Susan se wese so ver herstel dat sy ‘n saak teen Rot kan maak.  Dat sy kan wegbreek.

My hart bloei vir elke vrou wat deur ‘n vark mishandel word.

En vir die familie wat vir Vroutjie sê sy “meng in” omdat sy die organisasie en maatskaplike werkers gekontak het: Loop kak ‘n baksteen.  Dit is van alles onder die mat invee en niksdoen dat dinge so ver vorder.

* Susan is nie haar regte naam nie.


Begrafnisse

May 15, 2008

‘n Begrafnis suig. Dis hoe ek daaroor voel. Nou nie die kis wat afsak en die grond wat daaroor gegooi word nie. Die mense.

Die dominee preek en almal luister en beaam. Dit was ‘n goeie ou. Dis hoe die lewe werk, stof tot stof… warra warra warra.

Die ou is dood en gaan begrawe word. In die kerk en by die graf en die teedrinkery daarna hou baie van die mense hulle hoogheilig en praat net goed van die ou. Die ou wie se liggaam stadig in ‘n houtkis in die grond afsak.

Hou op om skynheilig langs ‘n graf te staan en praat goed van mense terwyl hulle nog lewe.


Ek eet vanaand pap en braaivleis

May 12, 2008

Nie dat in die algemeen spesiaal is nie, maar vanaand is dit. More-aand as ek pap en braaivleis eet, dan eet ek en Vroutjie dit na werk. More is ons luilekker dae iets van die verlede, die einde van ons kort rustydjie en val ons weer volstoom by die werk in.