Kouse in die pot.

Vrotpootjie

Nog ‘n weermagstorie wat ek onthou het nadat ek van Soldaat se possie Die jippo-guts in Braam se kraag gelees het. En dis nog ‘n sif storie.

Vrotpootjie. Atleetvoet. Stinkvoete. Vrotvoete. Noem dit wat jy wil.

Ek was nog ‘n troep en net voor ‘n laaaaang veldoefening het ons ‘n 7 dag pas gekry. Toe gaan ek na ‘n bike rally toe en spandeer die naweek daar deur te drink en te suip. En die ablusieblokke te gebruik. Kaalvoet te stort.

Toe die pas verby was en almal begin regmaak vir die laaste oefening voordat ons Grens toe gaan, is daar ‘n klankie wat om my voete hang. En my twee trappers jeuk so effens tussen die tone. Ek gooi die Mycota wat ek by my gehad het dat die poeier dik lê tussen my tone en die toestand verbeter.

Wragtig een aand toe my kouse buitekant op die draad hang, het een of ander fokker dit gesteel. Ek weet nie wie was so fucked-up om kouse te steel nie, maar in die weermag was jou goed gesteel van die draad af as dit nie gesluit was nie. Ons hemde, broeke en overalls het ons met ‘n ketting deur die moue en dan met ‘n slot aan die draad vasgesluit.

Toe gaan ek veld toe met net 2 pare kouse. Een paar wat stink en vrot aan my voete en die ander paar in my grootsak.

Die dag toe ons uitry veld toe, begin dit saggies te reën. En dit hou nie op nie. En die Kommandant wat die bevelvoerder vir die oefening was smaak dit dik stukke want die weer is kak en goor en die kanoniere kak af. En dit was vrek koud terwyl die RSM met sy kortmouhemp rondloop en die moraal opbou. En ek met die min kouse. My voete vrot en al was ek elke aand ‘n paar kouse, bly dit nat want dit hou nie op reën nie. Ek het onderhandelinge aan die gang met die korporaal van die KM, 2 pakkies sigarette en so aan, maar dis nog vroeg in die oefening en almal het nog sigarette, so ek wag vir my ekstra kouse. En my voete vrot.

Na twee weke ruil ek sigarette en kry by ‘n ou ‘n klein botteltjie kaliumpermanganaat kristalle. Die goed vlek my voete bruinpers, maar die swamme lyk asof hulle weggaan. Teen daardie tyd het my voete al soos ‘n vrottende karkas geruik as ek my stewels uitgetrek het. Eintlik het die reuk al deur die stewels geslaan. ‘n Verstikkende stank.

Een ou vertel toe dat dit my kouse is wat die hele tyd my voete weer met die swamme besmet. Daar was geen warm water nie, so ek kon my kouse nie behoorlik was nie. Die stukke vrot velletjies wat van my voete afgeval het, het al deel van my kouse geword. Ek wou ook nie medic toe gaan nie, want daai medic sou vir die bombardier gesê het my kouse is vuil, en dan kry ek ‘n opfok met my seer voete en al. En nog een as die bombardier agtergekom het my kouse was gesteel. En sommer nog ‘n opfok by die luitenant ook. En een by die sersant. En die staf. En die samjoor. En die RSM. En die kaptein. En die majoor. ensovoorts. Elkeen in die army wou mos die ander wys “hoe om ‘n troep goed op te fok.”

Toe maak ek plan.

Die staflede (die met rang) het per span so ‘n bruin oopvou dieselstofie gehad. Ek dink die ding se naam was “Bosveldbrander” of so iets. (Hoe laer die rang, hoe meer mense moes ‘n stofie deel. 15 Drywers, wat kanoniere was, het een stofie, 4 “one pip” luitenante het een stofie, die bombardiere vat die troepe se stofies. Die sersante vat die stofies by die bombardiere en so aan. ‘n Tipiese army fokop wat eintlik net beteken die troepe het nie stofies nie en hulle eet koue kos.) Jy gooi sy tenkie vol diesel, en dan pomp jy hom en steek hom aan en as hy eers brand dan suis hy gesellig en jy kook lekker boeliebief in jou dixie. Die majoor het gedink hy was smart, so hy het blou spiritus gehad om sy Bosveldbrander mee te “prime”.

My plan begin toe vorm aanneem. Ek volunteer om douvoordag in die koue op te staan en die gasstoof van die veldkombuis aan die gang te kry sodat die offisiere se water in die groot kan kan kook vir hulle koffie. Na so twee aande toe steel ek die majoor se spiritus uit sy tent terwyl hy langs die vuur gesit en suip het.

Ek gooi die spiritus in my drie pare stewels om hulle goed te ontsmet met die alkohol. En die volgende oggend toe gooi ek die eerste paar vuil, sif, vrotpootjie verrottende kouse wat soos ‘n dooie dier ruik, in die waterkan wat lekker kook vir die offisiere se koffie. Ek kon sommer sien hoe die swamme, skimmels en vrot voetvelle uit die kouse kook. En die tweede-luitenante, luitenante, kapteine en die majoor drink hulle koffie. Lekker. Ek hou so aan vir seker nog twee weke toe raak die KM korporaal se sigarette op en ek ruil sigarette vir kouse.

Die pers kristalle en my kouse wat elke oggend gekook word kry die vrotpootjie onder beheer. Toe dit net lig besmet is en baie beter lyk, gaan ek medic toe. En raai wat? Hy sê dit is die veldstort want baie ouens het al kom kla van vrotpootjie en voordat ons ons weeklikse paar sekondes stort kry, laat hy almal deur ‘n sinkbad loop waarin kaliumpermanganaatkristalle opgelos is. Ja, wel, eintlik was dit die veldstort want ek het met my vrot voete ook daar ‘n paar sekondes natgemaak, geseep en afgespoel. En die swamme daar gelos vir diegene wat in die ry wag vir hulle beurt…  :mrgreen:

6 Responses to “Kouse in die pot.”

  1. Die Gestorwe Soldaat Says:

    Oooh goodie! Ek sien al ou Braam kots weer as hy hierdie storie hoor! Ek wonder hoeveel keer het my troepe dit met my gedoen…?

    Verskoon tog - moet gou draf - ek voel ‘n opwelling…

  2. Jaco Says:

    Ek is nou moers bly dat ek net ‘n gewone troep was.

  3. Da Mario Says:

    Genadiglik het ek nooit in die weermag athlete’s foot gekry nie. En ek kon ook nooit verstaan hoekom mense klere sal wil steel nie.
    Maar ja, bosfase is soms maar lekker toss…

  4. Rustig Says:

    Ek was darem ook gespaar van al daai siektes. Hoekom was al die RSM’e sulke vet ou mans met sulke kak attitudes en die woordeskat van ‘n aap? Almal wat ek teëgekom het ook gesuip soos visse en hulle nukke die volgende oggend op jou uitgehaal.

  5. krista Says:

    Eeeewwwwwwwwww!

  6. René Says:

    O . M . GAAAAWD!!! Wat julle mansmense ook nie sal doen nie…!

Leave a Reply