Ek het nou so rukkie terug op Pikkelik se blog gelees van haar laaitie wat die kar met engine cleaner gewas het.
Ek het nog erger aangevang, maar op die ou einde was ek bly ek het die blik verf in die hande gekry.
Ek was seker so 7 of 8 jaar oud. Ek kan nie mooi onthou in watter Graad ek was nie, maar ek was wel al in die skool. Dit moes Graad 1 of 2 gewees het.
Dit wat ek aangevang het, kan ek ook nie so lekker onthou nie, maar my ma en pa het die storie tot vervelens toe vertel dus kan ek dit oorvertel.
My ma en pa het gesuip. Nie drink nie, suip. Veral my ma kon suip soos wat ek nog nooit selfs die toughste biker op die woesste bike rally sien suip het nie.
Die een Saterdag-middag toe was dit weer sulke tyd. Die gedrinkery het ‘n hoogtepunt bereik. My pa het toe ‘n pikswart DKW gehad en die karretjie was toentertyd al aan die oud word. Met ‘n “two-stroke” enjin. Hy was drankwinkel toe en die karretjie het so ge-prrr-prrr-prrrr-prrrr in die jaart in gery met die enjin wat in eerste rat idle. Die blou wolke “two-stroke” gasse het by sy uitlaatpypie uitgeborrel.
Hy het die DKW so half skeef onder die peerboom geparkeer en die huis in geslinger. Toe begin hulle verder suip en Gertjie begin verveeld ronddwaal…
Ek onthou ek het in die rondawel in die agterjaart ingeloop en die groot blik blink/silwerkleurige verf gesien wat my pa by Yskor gezoi het om die druiweprieel mee te verf. (Daai prieel was seker al maklik 5 jaar oud, gebou met square-tubing wat ook by Yskor gezoi was.)
As Gertjie die kar gewas het, het Pa gesê die kar moet blink.
Ek besluit toe om ‘n einde aan die alewige karwassery te maak. As ek die kar blink verf, dan gaan hy mos blink en hoef ek hom nie blink te was nie.
Ek kry toe ‘n groot kwas, sleep die blik blink verf na die kar toe en begin verf. Die hele kar. Die wiele ook. Die verf wat oor die ruite gedrup het, het ek smerig met ‘n stuk lap afgevee.
Die Duitse-Kak-Wa (DKW) het geblink. Die karretjie het geskitter in die son wat deur die peerboom se blare skyn. Ek was trots. Die karretjie het geblink want ek het self die hele karretjie met blink verf en ‘n kwas geverf.
My pa was kwaai, vrek baie kwaai, maar toe hy later die middag opstaan en buitekant kom, het hy die karretjie net een kyk gegee en begin lag. Ek kon onthou hoe sy oë getraan het soos hy lag. Twee weke later was die blink geverfde DKW verkoop en my pa het vir langer as 5 jaar droog gebly. Eers toe ‘n dronk persoon my ouer broer op sy fiets doodgery het, het hy weer begin suip en nooit weer opgehou nie.
My pa het, nadat hy die blink geverfde DKW verkoop het, ‘n stokou Mercedes gekoop. So ‘n “duifgrys” kleur. Een met ‘n afslaankap en kurwes wat deesdae Pamela Anderson sal laat plat lyk. Die kar se bakwerk was moer toe en sy enjin was gaar.
Aand na aand het ek vir Pa die lig gehou terwyl hy daai hele Mercedes uitmekaar haal. Stukkie vir stukkie. Part vir part. Die hele garage, spaarkamer en rondawel was later vol stukkies van die Mercedes. Ek het daarvan gehou om Pa te help met die kar. Spanners aangee, skroewe losdraai, parte in petrol uitspoel… Dit was vir my lekker. Pa was ‘n Pa. Pa was nugter. Man en Seun. Twee MANNE wat aan die kar werk. Saam. Dis hoe ek gevoel het.
Die dag toe Pa die panele natmaak (verf) het ek trots gevoel. Toe Pa vir my die “spray-gun” gee en my hand vat sodat ek ook ‘n proper “spray-job” kon doen terwyl die kompressor hard raas, was ek verby die wolke.
En die dag toe daai Mercedes aanmekaar gesit is en die enjin amper geluidloos vibreer… Ons die dak waarvan die kraakvars leer ingevryf is met “Dubbin” oortrek, was die lekkerste. Daar het byna permanent ‘n “Gunston” by my Pa se mondhoek uitgehang, maar selfs nie die sterk sigaretrook kon die reuk van ‘n kar wat nuutgeverf was en met nuwe leer uitgevoer was wegvat nie.
In die laat tagtigs het iemand die Mercedes uit Pa bevark terwyl Pa en Ma erg getrek was. Dit maak nie meer saak nie.
Die beste jare van my kinderlewe het gebeur omdat ek daai “two-stroke” DKW een middag met die kwas bygedam het.
Junie 5, 2008 at 4:21 nm |
Ek weet nou nie of ek wil lag of wil huil nie. Dankie Gert!
Junie 5, 2008 at 4:42 nm |
Ek het ook eers begin lag… maar daar is tog so bietjie “sadness” in die storie.
Ek het baie lekker hier gelees.
Junie 5, 2008 at 4:56 nm |
Dis ‘n sad mooi story, seker omdat die storie half sad is dat dit so mooi is…
Junie 5, 2008 at 5:33 nm |
(((Gert))) Dis ‘n kosbare storie.
Junie 5, 2008 at 7:59 nm |
Hey, dit is soos altyd lekker om hier by jou in te loer… Ek onthou dat ek baie jaloers was op my boetie oor hy ‘n blou overall net soos my pa s’n gehad het en altyd die lig vasgehou en spanners aangegee het. Hulle het ure in die garage spandeer.
Junie 6, 2008 at 8:39 vm |
Vat Jane en Roer nou die woorde uit my mond uit!!
Ek gee jou sommer ‘n hug! (((((gert)))))))
Junie 6, 2008 at 9:24 vm |
((((Gert)))) Hou vas aan jou nice memories!
Junie 6, 2008 at 9:52 vm |
Wat ‘n mooi memorie!
Junie 6, 2008 at 1:21 nm |
Baie baie kosbaar!!!
Junie 6, 2008 at 6:15 nm |
‘n Juweel… dankie dat jy dit met ons gedeel het Gert
Junie 6, 2008 at 10:43 nm |
dit was die mooiste storie wat ek in n lang tyd gelees het en ja, moet mens lag of huil?
Junie 9, 2008 at 12:49 nm |
Bittersoet.
Junie 10, 2008 at 6:18 nm |
Ek vang myself hierdie post aanhoudend lees.
Ek en my Pa het ook aan karre gewerk. Ek mis dit. My laaities is nog te jonk om spanners aan te pass, maar hulle probeer hulle bes.
Miskien is dit soos die Army nie iets wat almal verstaan nie.