Na aanleiding van René se tag.
Hoe het ek en Vroutjie ontmoet? Dit was eintlik ‘n hengse deurmekaarspul gewees.
Langs ‘n reguit stuk pad daar naby Vanderbijlpark se plotte was ‘n kafee gewees met ‘n groot stuk oop grond voor die winkel. Daar het ek Saterdag-aande saam met van my pelle wat vroeg uit die skool gedrop het gesuip en ons het “drags” gejaag. Natuurlik tot groot frustrasie van die mense wat daar naby gebly het. Van die mense het natuurlik ook die spietcops gebel. Maar ons het ons planne agtermekaar gehad. Verder weg in die ander strate op strategiese plekke het van die ouens wat CB’s in hulle karre gehad het gaan stop en dan het ons kodewoorde gehad wat die ouens deurgestuur het as die spietcops of polisie oppad was.
Die een aand toe was ek weer daar saam met die Yskor-tappets. Ons jaag en kuier en lawaai. Ek was nog besig om ‘n doughnut in die pad te gooi toe ek skielik hierdie sitvlak raaksien. Twee sulke stywe boudjies in ‘n moer stywe denimbroekie. Die bike swaai amper onder my uit en ek ry amper in ‘n ander kar vas wat daar naby geparkeer was.
Die Stywe Boudjies het intussen in die kafee in verdwyn toe sien ek net die karre trek weg in alle rigtings. “Die hoender het ‘n eier gelê” en “Die duif het weggevlieg.” en “My broer se hond het kleintjies gekry” ens. gons oor die CB. Die spietcops is oppad uit alle rigtings. Dis net vloekwoorde en tyres soos die karre wegkom.
Die Stywe Boudjies kom verward uit die kafee gestorm met angs in haar blou ogies. Die laaste karre verdwyn en daar staan Die Stywe Boudjies. My Kawa het gevrek en daai paar sekondes wat ek stilgestaan het, het sy gesien as ek wag vir haar om agterop te klim. Toe klim sy op. Die Kawa het nog een stotter gegee toe swaai die revs in die rooi in en ek los ‘n streep en die voorwiel lig hoog soos ek daar wegtrek. Ek ry net ‘n entjie, draai by ‘n grondpad in en van die pad af tussen die gras in skakel ek die bike af.
Ek kyk toe mooi hoe lyk Die Stywe Boudjies en daai mooi gesiggie laat my erger stotter as die Kawa met die vuil lugfilter. En daar slaat ‘n skaamgeit my ook nog. Toe is sy nog ‘n klein snip ook want skielik is dit my probleem omdat haar vriendin vir haar op die Vespa weggery het en dis ek wat hier tussen die gras in gery het en ek moet sorg dat sy haar vriendin, die Vespa en haar huis weer kry. Nou dadelik want is ek siek in my kop of vir wat vat ek haar hier tussen die gras in? En sy hou haar nie op met mannetjies wat nog in die skool is en dink hulle is grootmeneer nie en as ek haar nie nou huistoe vat nie gaan sy gil en skree. Toe huil sy. En ek wens sy wil eerder gil en skree. En ek wil haar nie huistoe vat nie want die spietcops staan langs die teerpad in die gras en wag want hulle weet een of ander tyd moet die ouens wat resies gejaag het ook huistoe gaan en baie van die ouens se karre is nie padwaardig nie of hulle is gesuip of hulle het nie lisensies nie. My Kawa se agterwiel was erg baie glad. Ek het die ou tyre opgesit want ek het mos gaan doughnuts gooi en wou later die aand parrafien op die pad gooi en een van die ouens dit aan die brand laat steek het terwyl ek spin.
Die Stywe Boudjies het intussen Snip Met Die Engelgesiggie geword en ek het nie geweet wat om te doen sodat sy sal ophou huil nie. Met die wegjaag het sy haar helmet net deur haar arm gehaak. Ek sê haar toe net om die ding op te sit en as ons afgetrek word moet ons net niks weet van die drags wat daar gejaag is nie en ons moet sê ons kom van Fochville af want ek dink die teerpad is die een wat Fochville toe loop.
Ek vat toe maar ‘n kans en ry. Die spietcops trek my nie af nie en ek ry verby. Snip Met Die Engelgesiggie word toe Snip Met Die Engelgesiggie En Tieties Wat Lekker Teen My Rug Druk so ek rem ekstra hard by die stopstrate.
Sy trek my broekspype na watter kant toe ek moet draai en toe ek voor haar huis stop, staan daar ‘n tannie in die voortuin rond. Ek wou nog net aflaai en wegtrek maar ‘n hond lek aan my skoene en die hek het agter my toegeklap. Die skaamgeit slaat my weer. Ek stel myself voor.
“Gert…uh…Gerhard, tannie.”
En die tannie is sarkasties en laat my nog meer skaamkry. “Gert-Uh-Gerhard wil jy koffie hê?”
Al wat ek uitgekry het is ‘n “Nee.” Sonder ‘n dankie of iets.
Snip Met Die Engelgesiggie En Tieties Wat Lekker Teen My Rug Druk kry toe ‘n naam. Meidjie.
“My Meidjie, gaan sit die ketel aan dat ek vir hom koffie maak. Nee wag, laat hy tee drink.”
Meidjie het in die kombuis doenig geraak en ek het op die punt van ‘n sitkamerstoel gesit met ‘n mond vol tande. Ek wou net op my bike klim en fokkof want skielik was ek diep erg mens-sku ook. Toe Meidjie met my tee en lekker groot stukke boerbeskuit opdaag, voel ek effens beter. Totdat ek die beskuit te lank in die koffie gehou het en net toe ek wou hap val die geweekte stuk beskuit op die mat. Dinge kon nie erger nie, of hoe? Dit kon. Om een of ander rede probeer ek die pap stuk beskuit met my vingers optel en die stuk breek net verder. Die Tannie kom red deur die stukke op te vee in ‘n skoppie in en te sê ek moenie worry oor die kol op die mat nie. “Dis wêreldsgoed.” En sy laai my bordjie met nog beskuit en vul my beker met vars tee. Die teeblare het nog bo-op gedryf. Toe eers sien ek Die Tannie is moerse cool want sy het ‘n tattoo op die bokant van haar linkerhand en op haar enkels ook. Meidjie sit en giggel omdat ek so lomp met die beskuit was. En net daar besluit ek: Ek gaan nog so drie van hierdie lekker beskuite eet, dan skuif ek. Ek gaan net vinnig koebaai sê en op my bike klim en deur die strate in die nag jaag dat die wind om my suis. Maar Die Tannie Met Die Tattoos wou eers my palm lees en kaarte gooi. WAT!? dag ek toe. Maar sy bekyk my palm en gooi tarot kaarte en glimlag net geheimsinnig. Hel, ek was bang ek gaan tronk toe as iemand uitvind Die Tannie lees handpalm en het tarot kaarte in haar besit. Dit was 1982.
Ek weet nou nog nie hoe dit gebeur het nie, maar later toe sit ek daar sulke lang glase vol yskoue bier en drink. Meidjie word Esmeralda en Die Tannie word Tannie Esmeralda.
Nou kyk nou mooi hier hoe kan vroumense met ‘n man se kop smokkel: Eerste het ek ‘n pragtige sitvlak gesien. Toe red ek ‘n meisie deur met haar weg te jaag. Toe is dit my skuld. Toe kry ek tee al wou ek nie koffie gehad het nie. Toe wil ek net fokkof. Toe sit ek en kuier en wil nie meer fokkof nie. Iewers tussendeur het ek nog gaan staan en verlief raak ook. O ja, en i.p.v. fokkof en verdwyn soos my plan aan die begin was, het ek heelhartig ingestem om die volgende dag, Sondag, daar middagete te gaan eet.
Die Sondag het ek my pens styf gaan eet daar. En toe begin die kak so effens…
Die skaamgeit slaat my weer, ek moet swot vir die matriekeindeksamen want ek wil nie ook ‘n Yskor-tappet word nie, Esmeralda was in matriek toe ek in Std. 6 was, dus was sy uit die skool toe ek Std.7 toe gegaan het en sy maal in my gedagtes sonder ophou. Ek jaag my Kawa verby 220km/h op die pad tussen Vanderbijl en Vereeniging maar die wind wil nie die watte uit my kop waai nie. My pa en ma kruip rond soos wat hulle suip en die skoolhoof sit op my kop. Ek was skaam om vir Esmeralda uit te vra, maar Cupido het met ‘n groot pyl my hart deurboor.
Toe vra ek en sy sê ja. Maar eers as ek klaar vir die volgende vak geswot het en ‘n oop tydjie gehad het. Kan jy dit glo? Weereens die klein Snip. (Ja, OK, dit was seker ook maar goed want met haar aansporing en die skoolhoof se uitkakke het ek matriek met 3 onderskeidings geslaag.)
En die kak tref met gereelde intervalle. Ek kon nie vir Esmeralda saam vat matriekafskeid toe nie omdat sy ouer as ek was en al gewerk het, so toe gaan ek nie. Ek het een Saterdag toestemming gegee dat Tannie Esmeralda ‘n tattoo op my linkerkuit kon doen, so ek het eindeksamen gaan skryf met ‘n langbroek. My Ma en Pa was cool oor die tattoo, maar van die ander snob-familie het ‘n tantrum gegooi en kak gemaak. Hulle het niks reggekry nie, want for-fuck-sakes: Ek was al 18, oud genoeg om weermag toe te gaan en die vyand op die grens dood te skiet en oud genoeg om self te besluit of ek permanent ink onder my vel wil hê. Die hele ding was totaal uit verband uit geruk deur veral die kerk, maar op die ou einde het ek die eindeksamen suksesvol afgelê en die dag wat ek my laaste vak klaar geskryf het, my tweede tattoo gekry. Intussen het ek nog baie gekry. My nuutste een minder as ‘n maand terug. (En ek kyk rond en spaar geld vir ‘n lekker design vir nog een. Vroutjie ook. Ons laaik ink.)
Die oproepinstruksie van die SAW het in my laai by die huis gelê. ‘n Onheilspellende ding waaraan ek nie wou dink nie. Tannie Esmeralda het al haar sente bymekaar geskraap en my Pa het op die perde gewen, so Esmeralda kon gaan swot by die PUK, Potchefstroom. (My Pa se weddenskappe op die perde is tyd vir ‘n hele paar inskrywings op hulle eie.)
Die Desember voordat ek weermag toe moes gaan en Esmeralda moes gaan begin swot, was hemels. Ons het die wêreld platgery op my Kawa en sy het agterop gesit en haar warm vroulike lyf styf teen my vasgedruk.
Die dag toe ek my Diens moes gaan doen was snot en trane, myne ook, maar ek het ook plan gemaak. (Dit was Esmeralda wat my kom haal het die dag toe ek belsuit het om op AWOL te gaan en toe het ons daar langs die Mooirivier by Fanie piekniek gehou en gevry. Ek het iewers op die blog al daaroor geskryf.)
Die eerste 7-dag pas wat ek gekry het, het Tannie Esmeralda vir my die spaarkamer reggemaak. Deur die streng roetine wat volgens die weermag se beleid by my ingedril was, het ek vroeg opgestaan en my bed opgemaak. Tannie Esmeralda het toe gesien net haar dogter se bed is deurmekaar die volgende oggend en haar eie afliedings gemaak. Die middag is daar ‘n dubbelbed afgelaai. Tannie Esmeralda was nog altyd ‘n moderne vrou sonder hang-ups en kak. Twee aande later toe begin ons woeps. Tannie Esmeralda se woorde toe die dubbelbed afgelaai was: “Julle twee is so lus vir mekaar en ek wil nie hê een van julle moet seerkry deur van die enkelbedjie af te tuimel nie.” Dit was ook Tannie Esmeralda wat palm lees en tarot kaarte gooi wat die rooiwyn en rou eier in my keel afgegooi het. Toe maak ek en Esmeralda soos hasies. Tannie Esmeralda het my ook nog ‘n paar ander goed geleer soos jou sigaret se filter met opgerolde Bloekomblare, bedruip met pepermentolie, te vervang as jy verkoue het. Niemand behalwe sy self weet wat is alles in daai plat blikkie salf wat sy aanmaak nie, maar ek ken baie mense wat sal hoog en laag sweer daai salf het hulle genees van maagswere, aambeie, ekseem, keelseer, vratjies, impotensie, verkoue, waterpokkies, kinkhoes, pitswere, pynlike maandstondes, migraine ensovoorts.
Na nog ‘n klompie maande het ons besluit om te trou en ligtelik planne gemaak. Die familie wou ‘n groot opskop gehad het. Die weermag het my ‘n hongerloon betaal en Esmeralda het nog geswot. Sy wou nie meer onderwyseres word nie, maar ‘n GR. Sy het Rekeningkunde nagraads begin swot. Gelukkig is sy vrek slim so sy het haar vakke gecum en ook begin klas gee in die aande vir ‘n ekstra inkomste. Die tyd het verby gesleep. Stadig. Ek was Grens toe en sy het haar besig gehou deur te studeer. Van my makkers, wat sy ook leer ken het, het gesneuwel. Die tye wat ek pas gehad het, het ons die motorfiets gevat en gery. Om alleen te wees. Om saam te wees.
Sake het finansieël beter begin gaan en ons het die troue beplan. Die familie ook. Die Familie het die troue al meer begin beplan. Die gaste, die venue, die kos, die dit, die fokken dat. Tannie Esmeralda het gesê as ons wil trou moet ons trou en as ons nie wil nie, moet ons dit los. My ouers het belowe om nie te suip nie en nie hulle name gat te maak nie. Yeah, sure. Die kerk wou geld gehad het vir die gebruik van die gebou. Die dominee moet ekstra betaal word vir sy dienste. Ons het nie ‘n probleem daarmee gehad nie, fair is fair. Maar alles het opgetel. Die familie wat ons niks laaik nie se kos, hulle drank, die saal… En wat van die wittebrood?
Aikôna, besluit ek en Esmeralda toe. Maak die begroting vir die troue kleiner en die vir die wittebrood groter. For fuck sakes, dit is ONS wat trou.
Die begroting vir die familie wat wil suip en vreet word toe R0.00 en ons trou vinnig in die hof een middag en gaan woeps in ‘n hotel op Mauritius vir die wittebrood. Ons het darem geswem ook, op ‘n koraalrif gaan duik en ‘n vis probeer vang vanaf ‘n skiboot. En ‘n moerse groot skulp gekoop.
So toe word Esmeralda Vroutjie en Tannie Esmeralda word Skoonma.
So dit is my storie, kort opgesom van waar ek Vroutjie se agterstewe as twee mooi stywe mosbolletjies in ‘n denimbroekie gesien het tot waar ek en Vroutjie die 15de Oktober 2008 ons 21ste huweliksherdenking sal vier. Vir die jong latte kan dit lank klink, maar dit is nog eintlik baie kort en ons sien uit na nog BAIE jare saam met mekaar. Ons het nie kinders nie. Ons het net vir mekaar.
Vroutjie is soos ‘n goeie rooiwyn. Sy word elke jaar net mooier en ek word net vrek flippen moer fokken baie liewer vir haar.
June 11, 2008 at 4:15 pm |
Ag jirre ma – is dit nou nie ‘n stunning love-story nie! Ek dink Skoonma is moerse cool! Nou kort ons nog net ‘n foto! skimp skimp
Ai Gert, jy het so ‘n unieke manier om ‘n ding te vertel!! Thanx!!
June 11, 2008 at 5:34 pm |
Jy laat my nou dink aan Oom Langenhoven met sy bietjie-ouer-as-hy vroutjie vir wie hy so lief was. 10 uit 10 Gerhardus.
NS My boetie was een van daai Yskor ‘appies’ of tappets soos jy hulle noem.
June 11, 2008 at 5:53 pm |
Goeie een, Gert. LOL! vir daai beskuit wat geval het.
Oom Langenhoven was 10 jaar jonger as sy Vroutjie. Ek self is 12 jaar jonger as my vrou.
June 11, 2008 at 6:09 pm |
Ek hou baie van die storie Gert – dis nou ‘n meant to be, niks nonsens nie, kom ons wees net lief vir mekaar, romanse.
June 11, 2008 at 6:46 pm |
Magic… Mag ek sê die lekkerste storie sover… Gert jy en jou Vroutjie is special!!!
June 11, 2008 at 8:53 pm |
Jy’t my in trane gehad met die beautiful verhaal. 21jaar later en jy’s liewer vir haar as ooit! Mag julle nog dubbel soveel jare saamhe.
June 11, 2008 at 9:16 pm |
Uitgevang ou Gert. Agter daai doringdraad biker uiterlike sit daar een moerse klein hartjie. Ek drink enetjie vanaand op jou en vroutjie. Mag julle leef om ‘n 110 jaar oud te word.
June 11, 2008 at 9:29 pm |
Hoekom kom al die oulike en waardevolle dinge in klein pakkies? Match made in heaven.
June 11, 2008 at 9:40 pm |
Mooi love story!
June 11, 2008 at 10:21 pm |
Moerse cool storie! Ek hoop julle geluk hou vir ewig!
June 12, 2008 at 12:07 am |
Dit was nou so lekker om te lees. Julle storie is ook vir my die mooiste! Mag julle baie lank vir mekaar gespaar word.
June 12, 2008 at 9:33 am |
Ek huil sommer so mooi is dit.
June 12, 2008 at 9:52 am |
Dit is ‘n baie mooi storie mag julle huwelik hou en hou en mag julle baie lank vir mekaar gespaar bly!
June 12, 2008 at 10:15 am |
Dis loshande die sweetste storie wat ek nog gelees het! Goed geskrywe Gert-uh-Gerhard
!
Mag jy en vroutjie nog lank en gelukkig saamlewe!
June 12, 2008 at 1:18 pm |
Weet jy, mens kan VOEL hoe lief jy haar het!!! Brilliantly geskryf……
June 12, 2008 at 4:13 pm |
Wonderlik! Ek hou van die meer geld vir die wittebrood.
June 14, 2008 at 9:06 pm |
Jy is so lucky!
Hoop daar is nog moer baie happy jare!