Die perde, die bliksemse perde!

Ek was in die hoërskool, standerd 7. Dit was ‘n Saterdag-oggend en ek wou studeer omdat dit by die skool eksamentyd was. Of wag, ek wou nie studeer nie, ek moes want die klasonderwyser en die skoolhoof het my na ‘n pak slae goed laat verstaan ek gaan druip.

Ek was my hele skoolloopbaan net voor elke eindeksamen met ‘n pak slae daaraan herinner dat ek gaan druip as ek nie leer nie. Ek wou nie druip nie en my gat was nog vol blou hale, so toe beplan ek om Saterdag-oggend die boeke nader te sleep en ‘n bietjie te studeer.

My pa het ander planne gehad. Daar het ‘n Chevvy in die jaart gestaan wat reggemaak moet word. My pa kon toor met ‘n Chev. As hy eers in die enjin of ratkas ingevlieg het, dan het daai kar vir jare daarna nog geen kak gegee nie.

Douvoordag toe ek nog oor die mooi meisies in die skool lê en droom toe kom maak hy my wakker. Ek het my swart koffie gesluk en gaan help.

Pa was klaar in sy oorpak besig om aan die Chev te werk. ‘n Gunston het skuins by sy mondhoek uitgehang. Sy brandewyn het op die houttafel gestaan.

“Toe! Toe! Toe! Kry daar die 13, 17 en 19!,” het Pa gesê en sy sigaretstompie eenkant toe geskiet dat die rooi vonkies van die kooltjie af spat. Tot vandag toe as die nommer 13, 17 en 19 ringspanners of sockets weg is, dan kan jy maar weet jy gaan sukkel.

Ek het Pa se groot toolbox oopgemaak en die sockets en spanners uitgehaal waar ek hulle laas gebêre het.

Toe ek nog in die toolbox krap, praat Pa weer. “Ek hoor jy het pak by die skool gekry.”

Ek het net gesluk. Verfoks! My klasmaats praat baie en baie van hulle se ouers werk saam met Pa by Yskor.

“Ek hoop nie jy het Geskiedenis as vak vir standerd 8 gekies nie, want dit gaan jou niks help nie,” het Pa gesê en die lig se koord afgerol.

“Nee,” antwoord ek toe en gaan druk die lig se prop by die muur in en skakel dit aan.

“Geskiedenis is ‘n klomp kak. Vir wat wil jy leer oor hoe die Voortrekkers met die kaffers gesukkel het? Mens sukkel vandag nog met hulle. Of wil jy in ‘n museum gaan werk en klein skepies afstof wat iemand gebou het om Van Riebeeck se drie skepe voor te stel?”

Ek het nog gestaan en dink wat om te antwoord want Geskiedenis was een van die vakke waarin ek beter gedoen het. Pa het nog ‘n knerts brandewyn gegooi en nie vir my gewag om te antwoord nie.

“Jy gaan nêrens kom met Geskiedenis nie. In elk geval het Van Riebeeck meid gesteek en dis waar die Cape-coloureds vandaan kom,” het Pa gesê en daarmee was die onderwerp afgehandel.

Ons het met mening aan die Chev begin werk. Die top moes af. Ons het later in die somerhitte gesweet. Die buurman het ook later kom help maar meer brandewyn gedrink en in die pad gestaan as wat hy gehelp het.

Ons het later die Chev se ringe en nog ‘n paar goed vervang, maar toe sien ek Pa raak stadig. Hy raak so vrek stadig dat niks vorder nie. Dan dit, dan dat. Spanners soek wat ons nie nodig het nie, nog ‘n knertsie, eers sit en rus want die rug is seer en moeg…

Later toe die buurman skielik onthou hy het ook ‘n huis en ‘n vrou en gegroet het, tel Pa skielik spoed op. Ek kom toe vinnig agter waaroor die gedraai gegaan het. Die buurman was nog ‘n nuwe intrekker en die mense in die buurt het hom nie so lekker vertrou nie. Daar was ouens in die kak by Yskor oor tools wat weggeraak het en Pa het die splinternuwe “torque-wrench” daar agter in die garage iewers gaan uithaal. Wat hy by Yskor “gewen” het.

Daar was nie Internet of sulke goed nie, maar pa het in sy studeerkamer ‘n dik pak papiere gaan uithaal met die “torque” waardes. Ek wonder tot vandag toe hoe op aarde het hy al daai inligting versamel.

Dit was ‘n properste “torque-wrench” daai. Jy stel hom net en dan maak hy so KLIK! as die bout of moer styf genoeg gedraai is.

Ek gee die sockets aan en Pa torque. KLIK!

Toe ons klaar was en Pa die Chev gestart het, het hy nog gesê hoe mooi klink die enjin toe hy skielik kliphard uitroep.

“Die perde! Die bliksemse perde! Ek het die geld wat ek vir hierdie job gaan kry geleen en op die perde gesit!”

Pa het gereeld geld op die perde gesit. En tussen vriende het hulle ook parykeer lekker gedobbel.

Pa het haastig daar verdwyn en eers laat die aand teruggekom. Stormdronk. Met ‘n tong wat sleep,’n glimlag oor sy hele gesig en ‘n splinternuwe elektriese kitaar en amplifier op die kar se agterste sitplek. En geen geld nie.

Die kitaar en amplifier en goed was vir my. Waar pa daaraan gekom het dat hy vir my ‘n kitaar moes koop, sal net hy weet. Twee weke later was die spulletjie pawnshop toe omdat die geld alweer skraps geraak het, maar ek was baie trots op Pa. Vir twee weke lank het ek’n moerse duur kitaar gehad.

Geskiedenis het ek met lof gedruip want die res van die naweek het ek natuurlik nie naby ‘n boek gekom nie. Ek het darem standerd 7 geslaag.

8 Responses to “Die perde, die bliksemse perde!”

  1. netjane Says:

    Jou stories is altyd vir my vreeslik mooi om te lees, Gert. Jy mag maar skryf!

  2. Dellie Says:

    Ek stem, Netjane! :wink:

    Gert, ek voel elke keer of ek dit saam met jou beleef. Thanx.

  3. Da Mario Says:

    EK het ‘n hond gehad wat sockets gelike het. Ek dink no. 10 en no. 13 sockets proe lekkerder as die res, want dis altyd hulle wat ek die langste moes soek as hy in die omgewing was waar ek gewerk het…. :???:
    Die laaities like weer shifting spanners en phillips skroewedraaiers en aangesien hulle nog klein is vergeet hulle soms om die goed in die toolbox terug te sit. Ek wetie eers hoeveel keer ek al nuwes moes gaan koop het nie!!

  4. Pikkelik Says:

    Ek stem saam met Netjane en Dellie…. daar is ‘n lag en ‘n traan in elke storie…

  5. liezl Says:

    Moet asb. nooit ophou skryf nie…

  6. life insurance Says:

    9u9p7rr-n9ong5k-tw6qf3fd-0 http://urlser.com/?m6c0v#1
    texas holdem
    [url=http://urlser.com/?IQpnn#3]car insurance quotes[/url]
    [url]http://urlser.com/?DYEVZ#4[/url]
    [http://urlser.com/?nm4rK#5 cheap auto insurance]
    “black jack”:http://black-jack-mo.lookera.net#6
    [LINK http://urlser.com/?m6c0v#7auto insurance[/LINK]
    [img]http://victor.freewebhostingpro.com/1.php[/img]

  7. DGS Says:

    Whahaha! ‘n Traan met elke lag, en andersom! Great storie, GG! :lol:

  8. Wipneus! Says:

    :lol: ek stem saam almal hierbo, jy kan skryf!! Mens geniet altyd jou stories!

Leave a Reply