Probleme by ‘n rally

Julie 29, 2008

Die oom werk ook nog hier, en hy kan nogal moerig raak die dag as hy lus het, so ek sal hom maar Oom Koen hier noem.

Oom Koen is ‘n groot man, hy is amper soos ‘n pa vir ons almal hier by die werk. Maar Oom Koen kan moerig raak. Dan spat die vloekwoorde wat hy binnesmonds mompel by sy mond uit terwyl die are in sy nek bult. Parykeer bal hy sy vuiste en maak sulke pompbewegings met sy arms. Oom Koen is al drie-en-sestig, maar hy pomp nog gereeld ysters en ons bly maar uit die pad as hy so erg moerig raak. Hy was ‘n kranige bokser op sy dae en ek is seker as daai regter van hom jou teen die kakebeen tref, word jy eers oor twee weke weer wakker. (Oom Koen se vrou, Tannie Wilma, bak die lekkerste “sausage rolls” waarvan ek weet. Sy is ook die enigste persoon wat Oom Koen in toom kan hou waarvan ons weet.)

Dit was daar in 1999 rond, einde Maart, begin April dink ek, toe vat ‘n paar van ons die Donderdag af by die werk en later die oggend toe laat waai ons Fox Rally toe, daar langs die Vaalrivier naby Parys in die Vrystaat. Ons almal het ons kak gepak vir die naweek. Tentjies en slaapsakke en klein gasstofies en ons kan sommer in Parys en by die rally bier koop. Dis mos nie ver nie. Ons trek daar van Oom Koen se huis af weg. Dit was seker so 6, 7 bikes. Net ‘n lekker klein groepie.

By die site aangekom, betaal ons by die hek, kry ons badges en stuff en gaan soek ‘n lekker kampplek uit. Die rally lyk belowend. Daar is al ‘n hele paar mense en omdat daar nie’n lekker sementblad of teerblad was nie, spin ‘n paar manne en vroue sommer so op die grond dat die stof trek. Later gaan spin ‘n paar en gooi doughnuts in so ‘n kleinerige saaltjie op die teëlvloer.

O ja, daar aangekom en ons kry ‘n lekker kampplek. Daar was ‘n paar “appies” in die groep en hulle slaan tente op, maak vuur ensovoorts. Ek het’n draai gaan loop om bier en ietsie om te kou te gaan koop en toe ek terugkom met ‘n dosyn biere en ‘n paar groot stukke biltong, kry ek vir Vroutjie en een van haar vriendinne daar en hulle lag so hulle kan nie praat nie. Seker maar weer vroumens goete, dag ek en stap na Oom Koen toe. Vroutjie beduie iets en ek gooi vir haar en vriendin elkeen ‘n koue bier.

Ek sukkel om die biere vas te hou en wil nie hê dat die biltong op die grond moet val nie, so ek pass toe maar eerste vir Oom Koen ‘n stuk biltong aan. En toe kom ek agter Oom Koen is moerig. Hy is omgeneuk van ‘n kant af. Hy is boomslang. Die sweet slaan op sy voorkop uit. Die are staan soos dik pype in sy nek. Sy gebalde vuiste se kneukels is spierwit. Ek probeer onthou of ek die Rooikruis of medics of verpleegsters iewers gesien het want ek was seker Oom Koen gaan net daar ‘n beroerte kry.

Oom Koen kry nie ‘n beroerte nie, hy gryp my wel aan die arm en sleep my soos ‘n vrot vel eenkant toe. Daar op ‘n oop kol maak hy my staan en probeer vir my iets sê, maar ek maak sy woorde nie so mooi uit nie. Dit klink of daar fout is met sy mond of tong of kakebeen of iets. Toe Oom Koen stadiger praat, kon ek uitmaak wat hy sê.

“Hoe de fok dink jy moet ek die bliksemse biltong eet?”

Ek wou nog vra wat dan nou fout is, toe haal Oom Koen die onderste gebit van sy valstande uit sy mond. Die spoeg drup af maar ek kan duidelik sien wat fout is toe Oom Koen dit reg voor my hou. Die valstande is in twee gebreek. Die een deel is groter en een van die tande sit ook maar net-net nog vas.

So stuk vir stuk kom ek toe agter wat gebeur het. Oom Koen het een van daai tjoklits geëet met hawermout en neute of iets in. Toe gaan daar stukkies van die neute of hawermout onder sy valstande in en irriteer hom. Dit irriteer hom so dat hy nie kan hou nie. Hy haal dit toe uit en sit dit op ‘n kampstoel neer sodat hy sy mond kan uitspoel en ‘n glas vol water kan maak om die tande af te spoel.

Toe hy die water gaan haal, kom sy vrou, Tannie Wilma, en gaan sit op die stoel. Die tande het boontoe gewys en sy het bo-op die tande gaan sit. En sy het daar opgevlieg toe die “tande in haar boud in hap”.

Ek hou toe ook maar my lag met moeite. Tannie Wilma kom toe daar aan en sê vir Oom Koen hy moet kalmeer want haar boud is seer en as hy nie nou kalmeer nie gaan sy haar broek net daar aftrek en vir almal wys hoe het sy tande haar boud “gebyt”. Oom Koen beduie my ek moet ‘n kraak maak en ek verdwyn. Ek los die tweetjies daar.

Vroutjie sê toe vir my deur die lag deur die tande het vir ‘n paar sekondes daar aan Tannie Wilma se boud vasgesit voordat die twee stukke op die grond geval het. Ek kon toe nie my lag meer hou nie.

Later toe kom wys Tannie Wilma vir ons haar broek, en mens kon duidelik die tandmerke sien.

Ek sny later vir Oom Koen die biltong in klein stukkies, maar as hy net probeer kou, dan neuk die stukkende valstande rond. Hy hap net liggies dan lig een van die stukke op en staan heeltmal skeef in sy mond. Hy kan nie eet nie. Hy drink baie bier, maar hy word honger. En onthou, Oom Koen hou van biltong.

Daar was daai tyd al drie bikes dorp toe en seker vyf mense op selfone om ‘n tandarts in die hande te kry sodat Oom Koen se tande herstel kan word. Tannie Wilma het ‘n plan om ‘n groot pot by ‘n Spar of Checkers of ‘n ding in Parys of Potchefstroom te gaan koop sodat sy vir hom kan sop kook wat hy in sagte witbrood kan doop en sodoende darem iets kan eet. Oom Koen wil niks weet nie. Hy is g’n siek nie en sal g’n sop suip soos iemand in die hospitaal nie. Intussen probeer Oom Koen sy bes om sy “vernedering” stil te hou.

Die drie bikes keer die een na die ander terug en diegene op hulle selfone skud ook net hulle koppe. Die tandartse werk nie op ‘n Donderdag-aand nie, Vrydag is hulle vol bespreek en Saterdae werk hulle ook nie. Sondae ook nie. Oom Koen sal maar moet wag tot Maandag. Oom Koen begin daaraan dink om ‘n tandarts af te dreig soos wat die Mafia doen, toe die braaivleisvure se heerlike geure saam met die ligte wind deur die terrein trek en sy smaak- en reuksintuie prikkel. Ek is seker Oom Koen was op die punt om ‘n tandarts te ontvoer en sy kop onder die water van die Vaalrivier te gaan indruk totdat die tandarts instem om die tande te herstel, toe daar skielik so ‘n kort, vaal mannetjie opdaag.

Hy het gehoor van die “insident”. En nee, hy is nie ‘n tandarts nie, maar een of ander tegnikus of iets. Hy maak vals/kunstande. ‘n Paar manne staan nader met flitse en die mannetjie bekyk die gebreekte valstande. Toe maak daai mannetjie amper die fout van sy lewe. Ja, hy sal dit kan herstel, net tydelik, maar eers Vrydag-middag. Oom Koen het daai mannetjie net ‘n vuil kyk gegee en sy vuiste gekraak toe verander hy sy storie van Vrydag-middag na Vrydag-oggend vroeg.

Ek weet tot vandag toe nie wat het daai mannetjie gedink nie, want Oom Koen stuur my toe sommer dieselfde aand om die mannetjie by sy huis in Potchefstroom te gaan aflaai. “Sodat die man wat sy dienste uit sy eie kom aanbied het, kan begin werk,” volgens Oom Koen.

Ek laai toe die mannetjie af en hy sê nee, ek hoef hom nie te kom oplaai nie, hy sal self die volgende oggend die tande na die rally toe bring want hy het verlof en sy baas sal nie kla omdat hy ‘n ekstra paar ure ingesit het nie.

Ek ry toe maar terug, Vroutjie slaap al en Oom Koen is van die bier af op die brandwyn en Coke. Ek eet my koue steak en koue pap en sous so half in skaamte terwyl ek kan sien hoe lus is Oom Koen vir die kos wat hy nie sonder sy valstande kan kou nie. “Jy kan maar eet,” sê Oom Koen toe. “Die vrouens het vir my sulke slap mieliepap gemaak wat ek met ‘n fokken lepel moes eet.”

Dit was seker die volgende oggend lank na 10:00 toe die vrouens se spek en eiers my wakker maak. Ek word wakker met een moerse hoofpyn en ‘n mond wat so droog soos die Namib-woestyn is. Ek onthou vaagweg iets van ek en Oom Koen wat woes gedrink en gekuier en gesels het en die hele wêreld se probleme opgelos het en sommer die hele Grensoorlog ook ontleed het en iets van ek wat amper die hele tent omgeval het toe ek gaan inkruip het.

Oom Koen sit ongeduldig op sy stoel. Hy was vroeg al op. Sy wange sink in en sy lippe trek so half op ‘n tuit omdat hy nie sy onderste valstande in het nie. Dis al oppad na 11:00 toe en die mannetjie is nog nie terug met sy tande nie. Ek eet my ontbyt en spoel my mond met ‘n bier uit. Vroutjie het geen simpatie met my babbelas nie. 11:30. 12:00. 12:30. 13:00. 13:30. 14:00… Oom Koen kyk daai Casio op sy arm stukkend en skuif al meer op sy stoel rond.

Eers na twee toe kom die mannetjie aangedraf. Oom Koen se tande is reg. Ek was seker Oom Koen wou hom moer omdat hy so laat gekom het, maar toe die tande pas, glimlag Oom Koen en gee die rekening net een kyk voordat hy sy beursie uithaal en die note afskil. Oom Koen het iets van die “medical aid” gesê wat ek nie hier sal herhaal nie en kontant betaal.

Toe vat daai rally vir ons vlam. Die “appies” braai dat hulle bewe. Oom Koen sê dis maar hoe hy gewoonlik eet, maar ons almal was een dat hy die fillet-steaks met mening gevat het. En hy eet wors. En hy eet krummelpap met sous. En hy glimlag. Niemand kan sy tande mis nie. En hy vat nie kanse met sy tande nie. Nee. Ek moet die biltong vir hom kerf. In lekker klein, dun stukkies. Ek kerf my Kershaw stomp.

En daai mannetjie wat die tande-tegnikus is of iets is Oom Koen se held. Hy moet nie skaam wees nie. Hy moet vir hom hy kry en hy moet eet en hy moet vir hom kry en hy moet drink. Sommer nog ‘n bietjie pap en nog ‘n stukkie vleis en sommer nog ‘n koue een.

Ons kuier toe lekker en geniet daai rally gate uit. Later, na ‘n enorme klomp biere, toe wys Tannie Wilma daai “bytmerk” op haar boud. Al wat ek kan sê is: “Eina, fok!”.

En wat het my nou juis vandag aan daai rally laat dink?

Oom Koen het net vanmiddag weer sy valstande uitgehaal nadat hy ‘n “Snacker” tjoklit geëet het. Gelukkig het niemand daarop gaan sit nie…


“Dronk Duvenhage? Wat weet hy?”

Julie 28, 2008

Die dag toe ek my lisensie geslaag het om ‘n groooot bike te mag ry en nie meer net die poefter-motorfietsies/piskrieke wat die Standerd 8’s en 9’s en baie van my matriekmaats ry nie, het ek lekker gevoel. Op 26 Februarie 1982 het ek gegaan vir my lisensie. Dit was ‘n Vrydag. My karlisensie het ek die vorige week iewers gekry.

Toe ek die middag by die huis kom, was Pa ook daar, aan die werk aan ‘n kar wat so halflyf by die garage uit gestaan het. Hy het seker maar weer  by Yskor afgevat om aan die kar te kan werk vir ekstra geld.

“Wie’t jou getoets?” vra Pa sonder om op te kyk vanwaar hy aan die enjin werk terwyl die Gunston rokend langs die kant van sy mondhoek gehang het.

“Duvenhage. Die een met die kuif.”

“Dronk Duvenhage? Wat weet hy?” vra Pa en en sit die spanner eenkant neer. Hy het sy stompie in die rigting van ‘n bedding geskiet en die sweet van sy voorkop afgevee met sy oorpak se mou. “Daai Duvenhage is gesuip, laat ek vir jou sê. Hy weet g’n niks. Hy skuld die drankwinkel geld en hy ry ‘n bromponie elke dag werk toe en terug. Wat weet hy van groot motorfietse ry? Niks. Ek sê jou, hy weet niks. Dis hy wat gemaak het dat almal nou sukkel om op die boek te koop want hy betaal nie.”

Ek kon sommer sien en hoor Pa was moeilik. “Ja, maar almal by die skool sê Duvenhage met sy kuif hare wat altyd skeef staan is die strengste,” antwoord ek en kyk rond. Daar is geen drankbottel nie en Pa is natuurlik lus vir ‘n knertsie en nou is hy moeilik.

“O. So as hy sê jy het jou toets geslaag dan kan jy ry? Is dit wat jy vir my wil sê? Jy en die klomp skool laaities?”

“Ja, Pa. Hy is streng en sien nie ‘n fout oor nie…” trap ek so in Pa se strik.

“Nou maar goed,” sê Pa terwyl hy aanstap huis se kant toe. “Laat ek die ander valhelm kry en dan vat jy my vir ‘n spin laat ek kan sien. Jy sê mos jy kan ry.”

Pa is daar weg en kom met mening aangestap met die ander helmet in sy hand. “Kom, kom, kom, laat ons ry. Ek sit agter en jy ry. Sommer Vereeniging toe. En ek vat nie kak soos dronk Duvenhage nie,” sê Pa en sit sy helmet op.

Ek sit toe maar weer my helmet op, klim op die bike en skakel dit aan. Ek wag vir Pa om agter-op te klim.Hy klim op en ek trek weg. Ek het net by die huis uitgedraai toe Pa my in die ribbes tik en beduie ek moet aftrek. Ek trek langs die pad af.

“Jy het uit die erf in die pad in gedraai en nie jou flikkerlig aangesit nie. Toe het jy van die pad af getrek en weer nie jou flikkerlig aangesit nie. Jy het nog nie begin nie en jy het al twee kere gedruip. Ek sê jou mos Duvenhage weet van niks,” sê Pa.

Ek wou nog sê van die pad wat stil is, maar Pa praat verder.

“Ry maar terug huistoe sodat ons oor kan begin. Jy sê jy kan ry maar dit lyk vir my jy weet minder as Duvenhage. En dis net mooi fokkol.”

Ha! dag ek toe. As dit dan nou so moet werk, dan werk dit so. Ek gaan nie ‘n U-draai in die pad gooi nie. Ek gaan om die blok ry en weer by die huis indraai. Ek sit die flikker regs aan en trek weer weg. Ek ry ‘n entjie en naby die stopstraat sit ek die flikker weer links aan en stop mooi netjies agter die dowwe witstreep.

“Ja, toe, jy hou jou slim. Los die flikker en ry reguit aan. Vereeniging toe,” sê Pa hier van agter af. Ek skakel die flikker af en ry reguit, na ‘n paar strate draai ek regs en ek en Pa vorder na die pad tussen Vanderbijl en Vereeniging. Ek hou mooi by die spoedperk, want ek kan in die spieëltjie sien en teen my rug voel hoe leuen Pa oor my skouer en hy hou die spoedmeter met valkoë dop.

Skielik toe voel ek meer my op my senuwees as toe ou stupid Duvenhage gestaan en kyk het. Pa sit hier agter my en hy sien alles en die pad wat ons ry is baie verder en die tyd baie langer as Duvenhage se toetsroete.

Net toe ek die pad Vereeniging toe wou vat, karring Pa hier van agter af dat ek moet aftrek. Ek trek af. “Ek sal jou beduie waar om te ry,” sê Pa en toe ek nog wonder wat de fok nou alweer, pomp hy my in die ribbes. Ek trek weg.

Ek ry deur die buurte en deur die dorp en weer uit die dorp. Op ‘n oop stuk pad naby Yskor sê Pa ek moet die bike oopdraai. Ek draai hom tot by 100km/h. Pa skreeu vinniger.  Ek draai tot by 140km/h. Pa skree vinniger. Ek draai tot by 160km/h. Pa skreeu vinniger. Ek draai die kraan tot naby 200km/h. Pa pomp my in die ribbes. Die enjin begin skreeu. Verby 220km/h. Die enjin gil en huil dat my ore toeslaan. Die draai in die pad kom kak vinnig nader. Ek staan amper op die rem en trek hard voordat die draai begin en die bike verloor vinnig spoed en toe ek die draai vat lê daai Kawa laag. Uit die draai maak ek weer oop, maar Pa klap my met die plathand op die linkerbeen. Ek rem, gear af en ry stadiger.

Pa beduie ek moet aftrek. Ek trek langs die pad af.

“Was dit lekker?” vra Pa terwyl hy ‘n pakkie Gunston uithaal.

“Ja, Pa, dit was lekker,” sê ek effens verbaas, want Pa steek twee Gunstons aan en gee vir my een aan.

“Rook, ek weet jy rook,” sê Pa net en ek rook. “Jy sien, Duvenhage is ‘n poephol,” sê Pa. “Hierdie Kawa kan ‘n kak hou loop, maar hy toets jou nie eers op die ooppad nie. Ek weet jy gaan vinnig ry, maar laat dit dan eerder wees as ek saam agter-op is. Toe, toe, rook daai sigaret,” het hy gesê en sy stompie eenkant toe geskiet. Ek het my halwe Gunston ook eenkant toe geskiet. “En dis nooit nodig om soos ‘n mal aap te jaag op ‘n openbare pad nie,” het pa bygevoeg en my na die agterste sitplek toe beduie. “Ek het lanklaas gery en is lus om te ry,” het Pa gesê voordat hy heel besadig weggetrek het en rustig terug gery het. Tot by die begraafplaas. Daar waar Ouboet rus.

Daar het Pa gestop en ons het afgeklim. Ek was maar stil. Pa was lank stil. Toe hy weer praat was sy stem vol krake. “Jy het jou lisensie gekry, maar jy mag nooit dronk ry nie. Nooit nie. Jy mag nooit dronk ry en iemand anders se onskuldige kind wegvat nie. Jy mag nooit dronk ry en jouself wegvat nie.”

Ek wou nog antwoord, maar Pa het my stilgemaak. “Kom, laat ons ry.”

Pa het gery. Tot by ‘n huis iewers in die woonbuurt. Ek dink dit was in S.E. 2 of S.W. 5. Daar het ek buite gewag en Pa het vir my ‘n pakkie wat nogal swaar was, toegedraai in bruinpapier, vir my aangegee om op my skoot vas te hou. By die huis het Pa die bike in die erf in getrek en vir my gesê ek moet die pakkie oopmaak.

Binne-in was ‘n handgemaakte leerbaadjie. Die baadjie se leer was dik en swaar, met ekstra laag op laag leer by die skouers, elmboë, skouers, borskas en rug. Net die ding vir as ‘n ou bike ry.

Ek het net vir Pa dankie gesê, toe sê hy ek moet daai baadjie aantrek en dan as hy agter-op is drankwinkel toe ry want dit word laat.

By die drankwinkel het Pa ‘n bottel whisky en ‘n bottel brandewyn gekoop.

Toe suip Pa. Hy suip dat die biesies bewe en die kranse antwoord gee.

Dit was eers later dat ek besef het dat Pa, wat ‘n volslae geharde alkoholis was, van die Woensdag af nugter gebly het om ook Vrydag die bike te kan ry. Want hy kon nie vir my vertel om nooit dronk te ry as hy self gesuip was en wou ry nie. Hy het daai bottel brandewyn uit gesuip, omtrent so skoon, saam met nog goedkoop wyn wat by die huis was.

Die Sondag het ons by Ma gaan kuier. Ma wat haarself in ‘n inrigting in gesuip en gemainline het. Ek weet tot vandag toe nie hoe het Pa dit reggekry nie, maar toe ek en hy daar weg is, het Ma ‘n hele bottel vol whisky gehad om uit te suip. Die bottel wat hy saam met sy brandewyn gekoop het. Ek het nie gesien dat hy dit onder sy klere versteek het toe ons op die Kawa geklim het nie en by die inrigting het die mense ons ook deursoek voordat ons binne toegelaat was. Weke later het ek gehoor dat van die werkers daar die bottel drank/dwelms invat en dat die mense van buite dan die drank/dwelms vir die werkers replace plus ‘n goeie kontant tip. Dit is dus duidelik dat korrupte staatsamptenare nie van vandag af kom nie, van hulle was in 1982 ook daar en net so korrup.

En Duvenhage met sy vetterige kuif wat altyd skeef gestaan het, ja, wel, wat het hy geweet?


“Ons moet praat.”

Julie 28, 2008

Ek en my pa was nog een Vrydag-aand laat besig om aan ‘n kar se enjin te werk. My pa het gesuig aan sy Gunston en kort-kort ‘n vars knertsie gegooi. Heel rustig. Ek kon sien sy gedagtes was op ‘n ander plek. Dit was so asof hy iets wou sê.

“Sit neer daai spanner,” het Pa skielik gesê en sy hande afgevee voordat hy nog ‘n knertsie gegooi het. “Ons moet praat.”

Ek het die spanner neergesit en daar rondgestaan. Toe begin Pa praat.

“Jy word nou groot. Dis tyd dat ons praat,” het Pa gesê en eers nog ‘n Gunston aangesteek.

“Onthou jy jou hamsters?”

“Ja.”

“Onthou jy toe die wyfie kleintjies gekry het?”

“Ja.”

“Weet jy waar kom babas vandaan?”

“Ja.”

“Dis dan reg. Laat ons klaarmaak hier, die tyd staan nie stil nie. En ons sal môre vir jou skeermes moet gaan koop anders gaan die onderwysers jou kak gee. Jou baard begin groei.”

Daarmee was die onderwerp ook sommer afgehandel. Ons het verder aan die enjin gewerk tot laat in die aand.


Kopwurms

Julie 22, 2008

Ek sit nou al wie weet hoe lank hier om ‘n titel vir die inskrywing uit te dink. Daar is soveel vrae en wonder en dink in my en Vroutjie se koppe, maar ons kan ook aan niks dink nie. So, ek leen maar die woord “kopwurms” by DGS.

Die begrafnis is nou agter die rug. Ek het gedink die begrafnis sou die ergste wees, maar nou lê daar hierdie berg voor ons. Ma Esmeralda se besittings en alles van haar staan nog net so. Die afskeid is nie gou nie en nie maklik nie. Dis nou as mens ooit afskeid kan neem, want die herinneringe en gedagtes bly mens altyd by. Dit is seker goed so, want dan het mens darem iets.

Die karre ry, die verkeersligte slaan van rooi na groen na oranje. Mense praat. Beweeg. Die son kom op. Die son gaan onder. Voëltjies fluit. Alles is een groot miernes van bedrywighede. Die lewe gaan aan. Al is dit dan nou ‘n paar minute op ‘n slag, maar dinge gaan aan.

Al het ek en Vroutjie nog ekstra verlof gekry, het ek besluit om more eerder maar te gaan werk. Al is dit net halfdag. Die wurms gaan my kop stukkend vreet as ek nie my gedagtes besig hou nie.


Dankie

Julie 19, 2008

Dankie vir almal wat boodkappe gestuur het en gebel en geSMS het en blomme ens. gestuur het.


R.I.P.

Julie 18, 2008

Rus In Vrede, Ma Esmeralda.


Dit gaan beter met Ma Esmeralda en nog ‘n klomp goed.

Julie 18, 2008

Ek en Vroutjie was vanaand weer by haar. Sy is baie beter. Sy is nou in ‘n algemene saal en haar organe herstel goed. Sy kan selfs al op haar eie loop en toe ek en Vroutjie daar aankom wou sy met alle mag en mening uit die bed om te gaan rook. Ek en Vroutjie probeer nog keer toe kom die dokter daar aan en sê vir Vroutjie haar ma is verslaaf aan nikotien en mens kan nie net ophou nie en dit is nie nou die tyd vir haar ma om op te hou rook nie en ons kan haar maar af neem sodat sy kan gaan rook en dit sal haar ook kalmeer want sy is besig om onttrekking te kry van die nikotien.

Vroutjie het vir Ma Esmeralda gehelp om ‘n kamerjas aan te trek terwyl ek oor dit en dat gesels met die ou tannie wat in die hoek naby die venster lê. Nogal ‘n uitsig, daar hoog bo en mens kan die liggies tot ver op die horison sien.

Toe Vroutjie die gordyn om die bed wegtrek, staan Ma Esmeralda. Haar drup-sakkies hang aan ‘n staandertjie met wieletjies onder en die ander pyp en sak is in ‘n houertjie wat Vroutjie dra. Ons is reg. Skoonma gaan rook. Kent Special.

Ons loop stadig en ek trap amper op die pyp, maar ons is by die saal uit tot in die gang waar die hysbakke is. Daar by die hysbakke toe wil ek bliksem. Ek wil bolle rol. Wild en hard. Ek is eintlik, soos Vroutjie sê, ‘n “groot biker met ‘n piepklein hartjie” maar daar by die hysbakke toe wil ek ‘n hele paar mense ‘n moerse vuis gee. Ek het van kleins af saam die gomgatte van Vanderbijl geboks, en ek kan hulle gomgatte of tappets noem, want ek was deel van hulle, en ek kan my appels swaai as ek lus het. Sommer vuil ook.

Dit is besoek-uur. Daar is siek mense met krukke en drup-sakkies aan staandertjies en pype en sakke en goed, maar die besoekers, wat niks makeer nie, druk voor hulle in. Ek meen, is hulle fucked-up of wat? Dis mos logies dat die siek mense wat sukkel om te loop die hysbakke gebruik en die besoekers wat niks makeer nie die trappe gebruik. Wat is 2 vloere se trappe nou in elk geval?

Ek keer hulle toe af sodat die siek mense die hysbak kan gebruik en die een ou kyk my vuil uit maar toe ek hom vra wat sy fokken kak is het hy skielik nie ‘n probleem nie. Ek is “institutionalized” so as jy my vuil uitkyk is dit dieselfde as jy ‘n leeu se gat met ‘n kort stok krap.

Vroutjie en Ma Esmeralda en nog ‘n klompie mense met drup-sakkies ensovoorts is in die hysbak af en ek klim met die trappe af tot by die snoepie/kantien/whatever mens ook al die winkeltjie in die hospitaal noem.

OK, wag, waar gaan ek met hierdie inskrywing heen? Ek weet self nie, maar ek kan nie nou slaap nie en fiddle maar hier by my blog rond. Vroutjie het slaap nodig en ek wil haar nie wakker maak nie. ‘n Paar goed by die hospitaal het my moer gekoer. Nie die hospitaal en personeel self nie, die besoekers, en ook die gebrek aan besoekers. Ek is nie ‘n ou wat vol fiemies is nie, maar wraggies, ek was ‘n Samjoor in die SAW en ek verwag dat mense basiese maniere het. Ek was al in die tronk ook oor diamante, maar, wag…hokaai.

Laat ek ‘n opsomming maak:

a.) Dit gaan beter met Ma Esmeralda en sy het vanaand al geloop om te gaan rook.

b.) Mense wat niks makeer nie is fucked-up en druk in by die hysbakke van die hospitaal.

c.) Die tannie in die hoek by die venster.

Ek dink ek het punte a. en b. al redelik aangeraak. Ek moet nou eers oor c. verduidelik. Die tannie in die hoek by die venster.

OK, by die hospitaal se winkeltjie koop ek toe twee plantjies en ‘n pak tydskrifte. Dis nou terwyl Vroutjie en Ma Esmeralda lekker rook.

Ek loop terug en sit die een plantjie en die helfte van die tydskrifte by Ma Esmeralda se bedkassie neer en vat die ander plantjie en tydskrifte vir die tannie in die hoek.

Die tannie in die hoek was ook in intensief toe ek die eerste keer vir Ma Esmeralda gaan besoek het. En toe land sy in dieselfde kamer/saal op as Ma Esmeralda. Sy het met duidelike afkeur gepraat van my tattoos en leerklere, maar op een of ander manier het ek en die tannie lekker begin gesels. Toe kom ek agter die tannie is baie eensaam. Haar kinders bly in Kempton Park en het nog nie een keer vir haar kom kuier sedert sy al langer as 2 weke in die hospitaal is nie.

In elk geval, Ma Esmeralda is baie beter, maar die dokter wil nie hê sy moet more al huistoe kom nie. Hy praat van miskien Maandag eers.

More oggend gaan ek en Vroutjie en Ma Esmeralda en die sielkundige die paadjie begin loop, sommer daar in die hospitaal.

Ek en Vroutjie het huidiglik een vrees: Die dag as Ma Esmeralda huistoe kom. Kyk, ons albei wil bitter graag hê sy moet ontslaan word en huistoe kom, maar albei van ons is bang om haar alleen te laat, veral as ons verlof klaar is en ons weer werk toe moet gaan volgende week. Nou is die werkers ook nog hier besig.

En nou voel ek en Vroutjie ons het kak aangejaag, want as Ma Esmeralda terugkom, is daar ‘n gebouery en gewerskaf aan die gang in plaas van stilte en rustigheid.

En nou het ek nog hierdie goggas in my kop ook. Dit kan dalk stupid klink, maar ek weet nie wat om vir Ma Esmeralda te sê wanneer sy by die huis kom nie. Nie ek of Vroutjie het al een woord met haar gepraat oor haar selfmoordpoging wanneer ons haar in die hospitaal besoek het nie.

Ek hoop die sielkundige weet waar om te begin want Vroutjie het nie ‘n clue nie en ek nog minder.


Ma Esmeralda in die hospitaal

Julie 17, 2008

Ons was Maandag daar in die omgewing van Somerset-Oos. Iewers anderkant Middleton toe ons van die pad aftrek om ‘n sigaret te rook. My selfoon het ‘n klomp missed-calls gehad en Vroutjie s’n ook.

Vroutjie bel en die nuus slaan haar soos ‘n hamer. Haar ma is in intensief in die hospitaal na ‘n selfmoordpoging. Dit voel asof my wind uitgeslaan word. Nee, dit kan nie wees nie, dink ek en sukkel met bewende hande om my selfoon te operate. Sy kon dalk in ‘n roof of ‘n hi-jacking betrokke gewees het met die crime in Suid-Afrika, en dit kan wees dat sy geskiet is of iets maar nie selfmoord nie. Nie Skoonma nie, sy was nog nooit down nie. Blues is vir haar musiek waarvan sy nie hou nie. Om af te wees het geen betekenis vir haar nie. Nadat ek die knoppies van die selfoon gedruk gekry het en met die derde persoon gepraat het, het ek die selfoon amper laat val en nie eers koebaai gesê nie. Dit was ‘n selfmoordpoging.

Ek kry op ‘n manier vir Vroutjie agter-op die bike en ry deur na Port Elizabeth toe. Die vinnigste wat sy in Johannesburg kan kom is na Durban toe en daarna Johannesburg toe. Vroutjie moes inboek en ek bid net dat daai vliegtuigie met die propellers waar ons vir haar plek gekry het betyds in Durban land anders gaan sy die vlug van Durban na Johannesburg mis. Ek trek daar by die lughawe weg met die bike en moet myself herinner om nie soos ‘n maniak te ry nie want dit gaan nie help as ek die bike neersit nie.

Ek vat die pad en eers na meer as ‘n uur se ry val dit my skielik by dat Vroutjie vervoer gaan benodig as sy in Johannesburg land. Ek trek af en rook en bel.  Die plekke wat ek eerste gebel het se vuil gatte. Avis help my gou sonder dat ek hoef te vloek en dreig en skreeu en wil bliksem. Thanks vir hulle.

Ek vat die pad weer en ry. En ry. En ry. En ry. Dit word donker. Die son sak en ek ry. Toe dit donker nag is trek ek van die pad af. Vroutjie moet al in Johannesburg wees. Twee missed-calls op my foon. Nie Vroutjie se nommer nie. Ek bel die nommer. Iemand antwoord nadat die telefoon lank gelui het en sê vir my dit is ‘n kaart-telefoon by O.R. Tambo. Ek bel Vroutjie se selfoon. Haar selfoon lui in my baadjie se sak. Fok!

Ek trek my sigaret se kooltjie lank en trek weer weg. Op die donker pad begin die spoke deur my kop jaag. Ek wil kwaad wees vir Skoonma, maar kan nie. Ek self het al voorheen alle lewenskrag verloor.

Maar hoekom? Skoonma was nog nooit down, af, of het die blues gehad nie. Sy was altyd die sterk een. Sy was die een wat altyd die goeie in enige kak situasie raakgesien het. Daar is geen antwoord nie.

Ek ry en stop net om te rook of die tenk vol te maak. Dis nog donker in die vroeë oggend-ure toe ek aftrek en die huis bel. Vroutjie antwoord byna onmiddelik. Haar ma is beter. Daar is hoop, maar Vroutjie is weggestuur by die hospitaal om te gaan slaap. Sy sê ek klink nie goed nie, maar sy klink vir my nog erger. Ek ry. Oppad na die huis toe in Roodepoort ry ek by die hospitaal verby. Skoonma is nie daar nie. Sy is verplaas na ‘n privaat hospitaal toe naby Florida. Ek ry soontoe.

Skoonma lê daar soos ‘n geraamte. Haar oë is nie helder nie. Sy groet darem. Ek hou net haar hand vas en sê vir haar alles is OK.

Later gaan hoor ek by die susters. Skoonma het ‘n enorme hoeveelheid slaappille, pynpille en anti-depressante afgesluk.

Ek en Vroutjie was pal by die hospitaal.

Die dokter het vanoggend gesê Skoonma kan dalk more huistoe kom as hy tevrede met haar niere is. Dit was die woord “huistoe” wat vanoggend in my en Vroutjie se koppe vasgesteek het. Ma Esmeralda het nie ‘n huis nie. Sy het blyplek, ja, hier en daar by familie, maar nie ‘n “huis” nie. Sy het maar altyd ‘n free-spirit gehad en rond getravel.

‘n Mens kan nie pyn en hartseer met wêreldsgoed wegvat nie, maar ek en Vroutjie moes net iets doen. Die huis is groot en daar word gebou en gebreek en herbou. Skoonma kry haar eie huis. ‘n Plek wat haar eie tuiste is en waar sy kan bly.

Ek en Vroutjie gaan saam met die sielkundige en dokter en Skoonma die paadjie loop as haar liggaam gesond is, en ek hoop en bid dat ons daai paadjie enduit sal kan loop en dat Skoonma weer sal kan lag en gelukkig wees.

O ja, en Vroutjie se klein bietjie bagasie wat weggeraak het tussen Durban en Johannesburg is nou nog nie afgelewer nie en is seker maar net… weg… Dis OK, Skoonma moet nou net gesond word.


Bloemfontein

Julie 4, 2008

Dit is waar ek en Vroutjie nou is. By ‘n ou pêl van my. ‘n Boknaaier… ‘n Ou Grens-soldaat…

Ek en Vroutjie ry die land plat. Eers was ons Vanderbijlpark toe. Ek wou by die rooibaksteen Yskor-huisie verbygaan. Dit is waarnatoe die voorwiel (alweer toiletpapier ((witgoud!!!)) vergeet, vra maar vir Vroutjie) eertse gedraai het. Daar waar ons gebore is en vandaan kom. Daar waar ons grootgeword het. Dit is waar ons ontmoet het. Dit is waar ons die eerste keer gesoen het. Tong vir mekaar gegee het. En die eerste keer gewoeps het. Stinkende Vanderbijl het dus ietwat van ‘n sentimentele waarde vir ons altwee. Nie Vanderbyl nie, Vanderbijl, want die onnie het by Hoërskool Driehoek het eers Vroutjie se handpalms en daarna my gatvelle aan die brand geslaan oor die spelling. As dit deesdae Vanderbylpark is, dan was ons altwee verniet gemoer en sal moet skadevergoeding eis, al het ek dit Vanderbyijlpark gespel.

Toe draai ons Potchefstroom toe. Nogsteeds so kak soos altyd. Daar is ‘n nuwe “Mooirivier Sentrum” wat nogal erg kak afsteek teen Westgate en Cresta, maar nou ja, sedert ek in die 80’s  in Potch Checkers se parkeerterrein moes push-ups doen voordat ek  bruin Kiwi skoenpolitoer, Gilette skeermeslemmetjies en Cobra vloerpolitoer kon koop, laaik ek vir Potch fokkol. FOKKOL. Nog minder nadat ek daar buitekant Potch in die groentetuin moes werk…

Nota aan myself: MOET NOOIT weer by die oord by Potch Dam oorslaap nie, want die plek is vrot en sif verby. Daai oulike rondaweltjies by Potch Dam is so moer vuil en die kakkerlakke sal wraggies die Kevlar van ons baadjies opvreet as jy nie die heelnag met ‘n skoen in jou hand gereed sit om die fokkers plat te slaan nie.

Die “Elgro” se kroeg ruik nogsteeds na ou pis. Die studente is nogsteeds windgat. Die garage-pies pong nogsteeds. Sorry, ek laaik Potch niks nie. (Ek is nie regtig sorry nie. Ek laaik Potch net fokkol.)

Die lewe gaan egter nie net oor Potch nie, en ek en Vroutjie het vroegoggend die voorwiel in die pad in gedraai. Vroutjie het bestuur. (Sy kan ry, en haar stywe boudjies hier voor my het tog te pragtig gelyk.) Die pad het verby gegly. Die voorwiel het die teer opgevreet. Kimberley se gat was vol groen water. Duh.

Bloemfontein.

Bloemfontein is die oase van die Vrystaat. Die meisies is mooi, die spietcops vriendelik en die paaie in ‘n beter toestand. Die huidige en gewese Boknaaiers wat uit diensbare vliegtuie spring is gaaf. Die pantsermanne en vroue is dikvellig, maar laat ‘n mens sommer tuis voel. Bloemfontein se bier is koud. Bloemfontein is cool.

Môre-oggend as julle opstaan, het ek en Vroutjie al klaar die voorwiel in ‘n rigting in gedraai.  Terug na die Drakensberge toe, verby die snobs van Clarens tot deur Harry-en Ladysmith, deur Pietermaritzburg, tot by die see by Durban. ‘n Vrek ver pad, ‘n lang pad, maar dis waaroor dit gaan.

Dan besef mens ook hoe groot en uitgestrek Suid-Afrika is. Mpumalanga en die Noord-Transvaal is nou buite die kwessie.

Wat egter voorlê is die Wildekus, die Oos-Kaap, Kaapstad en omgewing, die Weskaap, die Karoo, Namakwaland, die Weskus by Hondeklipbaai, die Namakwaland, Boesmanland, die Noord-Kaap, Noordwes, en weer tot terug in Gauteng.

Die wiele sing tot dusver lustig oor die pad.


Tot weersiens!

Julie 1, 2008

Ek is nou so opgewonde soos toe ek die eerste keer gewoeps het. Die grootgrootbaas het my en Vroutjie ingeroep en ons goed laat verstaan die maatskappy gaan in die kak kom as ons nie verlof vat nie, dus moet ons ons goed pak en eers oor twee weke terugkom. En nie wanneer nie, sommer nou. Dadelik.

En dan die goeie nuus: As ek terugkom kry ek bevordering ook.

Ek wou juis klomp goed by die huis regmaak. By die lapa aanbou en so aan. Vroutjie kom toe egter met haar mooi ogies en stoute glimlaggie en maak ‘n baie beter voorstel as om twee weke by die huis te spandeer en DIY take te doen. Kom ons vat die bike en ry.

Vroutjie is al klaar huistoe om die klein seiltentjie en twee slaapsakke iewers bo uit die kas te haal. Ek sit nou ongeduldig hier en wag dat die nuwe agter tyre op my bike gesit word.

Dan gaan ek huistoe en die tentjie en slaapsakke en ‘n paar los goed pak, Vroutjie agterop klim en ons gaan die pad vat. Die selfoon en alles wat kan pla diep weggebêre. Die wiele gaan die pad opvreet en die wind om ons lywe waai.

Waarnatoe? Ons gaan soos proper bikers maak en net die pad sonder ‘n plan vat. Daarheen waar die bike ons dra, daar gaan ons. Koffiewater langs die pad kook, ‘n vleisie by onbekende slaghuise op onbekende dorpe koop, in die nag ry, nuwe kampeerplekke besoek, vuil badkamers, skoon badkamers, muskiete, koue, hitte, dalk reën, reguit paaie, kronkel paaie, teerpaaie, grondpaaie, potholes, tolpaaie, grasvelde, sandduine, watervalle, beeste, skape, plakkershutte, plantasies, die see, damme, riviere, stede, dorpe ensovoorts. Ons sal maar sien waarnatoe is ons lus om die voorwiel te draai.

Dit klink vir my asof hulle amper klaar is met die agterwiel, dus laat ek hier klaarmaak, die bike se tenk vol petrol gaan maak en waai.

Sien julle weer oor 14 werksdae, plus die naweke. Ek het nie nou ‘n kalender naby nie, werk maar self uit wanneer dit is.

Laat ek die pad vat.