Die oom werk ook nog hier, en hy kan nogal moerig raak die dag as hy lus het, so ek sal hom maar Oom Koen hier noem.
Oom Koen is ‘n groot man, hy is amper soos ‘n pa vir ons almal hier by die werk. Maar Oom Koen kan moerig raak. Dan spat die vloekwoorde wat hy binnesmonds mompel by sy mond uit terwyl die are in sy nek bult. Parykeer bal hy sy vuiste en maak sulke pompbewegings met sy arms. Oom Koen is al drie-en-sestig, maar hy pomp nog gereeld ysters en ons bly maar uit die pad as hy so erg moerig raak. Hy was ‘n kranige bokser op sy dae en ek is seker as daai regter van hom jou teen die kakebeen tref, word jy eers oor twee weke weer wakker. (Oom Koen se vrou, Tannie Wilma, bak die lekkerste “sausage rolls” waarvan ek weet. Sy is ook die enigste persoon wat Oom Koen in toom kan hou waarvan ons weet.)
Dit was daar in 1999 rond, einde Maart, begin April dink ek, toe vat ‘n paar van ons die Donderdag af by die werk en later die oggend toe laat waai ons Fox Rally toe, daar langs die Vaalrivier naby Parys in die Vrystaat. Ons almal het ons kak gepak vir die naweek. Tentjies en slaapsakke en klein gasstofies en ons kan sommer in Parys en by die rally bier koop. Dis mos nie ver nie. Ons trek daar van Oom Koen se huis af weg. Dit was seker so 6, 7 bikes. Net ‘n lekker klein groepie.
By die site aangekom, betaal ons by die hek, kry ons badges en stuff en gaan soek ‘n lekker kampplek uit. Die rally lyk belowend. Daar is al ‘n hele paar mense en omdat daar nie’n lekker sementblad of teerblad was nie, spin ‘n paar manne en vroue sommer so op die grond dat die stof trek. Later gaan spin ‘n paar en gooi doughnuts in so ‘n kleinerige saaltjie op die teëlvloer.
O ja, daar aangekom en ons kry ‘n lekker kampplek. Daar was ‘n paar “appies” in die groep en hulle slaan tente op, maak vuur ensovoorts. Ek het’n draai gaan loop om bier en ietsie om te kou te gaan koop en toe ek terugkom met ‘n dosyn biere en ‘n paar groot stukke biltong, kry ek vir Vroutjie en een van haar vriendinne daar en hulle lag so hulle kan nie praat nie. Seker maar weer vroumens goete, dag ek en stap na Oom Koen toe. Vroutjie beduie iets en ek gooi vir haar en vriendin elkeen ‘n koue bier.
Ek sukkel om die biere vas te hou en wil nie hê dat die biltong op die grond moet val nie, so ek pass toe maar eerste vir Oom Koen ‘n stuk biltong aan. En toe kom ek agter Oom Koen is moerig. Hy is omgeneuk van ‘n kant af. Hy is boomslang. Die sweet slaan op sy voorkop uit. Die are staan soos dik pype in sy nek. Sy gebalde vuiste se kneukels is spierwit. Ek probeer onthou of ek die Rooikruis of medics of verpleegsters iewers gesien het want ek was seker Oom Koen gaan net daar ‘n beroerte kry.
Oom Koen kry nie ‘n beroerte nie, hy gryp my wel aan die arm en sleep my soos ‘n vrot vel eenkant toe. Daar op ‘n oop kol maak hy my staan en probeer vir my iets sê, maar ek maak sy woorde nie so mooi uit nie. Dit klink of daar fout is met sy mond of tong of kakebeen of iets. Toe Oom Koen stadiger praat, kon ek uitmaak wat hy sê.
“Hoe de fok dink jy moet ek die bliksemse biltong eet?”
Ek wou nog vra wat dan nou fout is, toe haal Oom Koen die onderste gebit van sy valstande uit sy mond. Die spoeg drup af maar ek kan duidelik sien wat fout is toe Oom Koen dit reg voor my hou. Die valstande is in twee gebreek. Die een deel is groter en een van die tande sit ook maar net-net nog vas.
So stuk vir stuk kom ek toe agter wat gebeur het. Oom Koen het een van daai tjoklits geëet met hawermout en neute of iets in. Toe gaan daar stukkies van die neute of hawermout onder sy valstande in en irriteer hom. Dit irriteer hom so dat hy nie kan hou nie. Hy haal dit toe uit en sit dit op ‘n kampstoel neer sodat hy sy mond kan uitspoel en ‘n glas vol water kan maak om die tande af te spoel.
Toe hy die water gaan haal, kom sy vrou, Tannie Wilma, en gaan sit op die stoel. Die tande het boontoe gewys en sy het bo-op die tande gaan sit. En sy het daar opgevlieg toe die “tande in haar boud in hap”.
Ek hou toe ook maar my lag met moeite. Tannie Wilma kom toe daar aan en sê vir Oom Koen hy moet kalmeer want haar boud is seer en as hy nie nou kalmeer nie gaan sy haar broek net daar aftrek en vir almal wys hoe het sy tande haar boud “gebyt”. Oom Koen beduie my ek moet ‘n kraak maak en ek verdwyn. Ek los die tweetjies daar.
Vroutjie sê toe vir my deur die lag deur die tande het vir ‘n paar sekondes daar aan Tannie Wilma se boud vasgesit voordat die twee stukke op die grond geval het. Ek kon toe nie my lag meer hou nie.
Later toe kom wys Tannie Wilma vir ons haar broek, en mens kon duidelik die tandmerke sien.
Ek sny later vir Oom Koen die biltong in klein stukkies, maar as hy net probeer kou, dan neuk die stukkende valstande rond. Hy hap net liggies dan lig een van die stukke op en staan heeltmal skeef in sy mond. Hy kan nie eet nie. Hy drink baie bier, maar hy word honger. En onthou, Oom Koen hou van biltong.
Daar was daai tyd al drie bikes dorp toe en seker vyf mense op selfone om ‘n tandarts in die hande te kry sodat Oom Koen se tande herstel kan word. Tannie Wilma het ‘n plan om ‘n groot pot by ‘n Spar of Checkers of ‘n ding in Parys of Potchefstroom te gaan koop sodat sy vir hom kan sop kook wat hy in sagte witbrood kan doop en sodoende darem iets kan eet. Oom Koen wil niks weet nie. Hy is g’n siek nie en sal g’n sop suip soos iemand in die hospitaal nie. Intussen probeer Oom Koen sy bes om sy “vernedering” stil te hou.
Die drie bikes keer die een na die ander terug en diegene op hulle selfone skud ook net hulle koppe. Die tandartse werk nie op ‘n Donderdag-aand nie, Vrydag is hulle vol bespreek en Saterdae werk hulle ook nie. Sondae ook nie. Oom Koen sal maar moet wag tot Maandag. Oom Koen begin daaraan dink om ‘n tandarts af te dreig soos wat die Mafia doen, toe die braaivleisvure se heerlike geure saam met die ligte wind deur die terrein trek en sy smaak- en reuksintuie prikkel. Ek is seker Oom Koen was op die punt om ‘n tandarts te ontvoer en sy kop onder die water van die Vaalrivier te gaan indruk totdat die tandarts instem om die tande te herstel, toe daar skielik so ‘n kort, vaal mannetjie opdaag.
Hy het gehoor van die “insident”. En nee, hy is nie ‘n tandarts nie, maar een of ander tegnikus of iets. Hy maak vals/kunstande. ‘n Paar manne staan nader met flitse en die mannetjie bekyk die gebreekte valstande. Toe maak daai mannetjie amper die fout van sy lewe. Ja, hy sal dit kan herstel, net tydelik, maar eers Vrydag-middag. Oom Koen het daai mannetjie net ‘n vuil kyk gegee en sy vuiste gekraak toe verander hy sy storie van Vrydag-middag na Vrydag-oggend vroeg.
Ek weet tot vandag toe nie wat het daai mannetjie gedink nie, want Oom Koen stuur my toe sommer dieselfde aand om die mannetjie by sy huis in Potchefstroom te gaan aflaai. “Sodat die man wat sy dienste uit sy eie kom aanbied het, kan begin werk,” volgens Oom Koen.
Ek laai toe die mannetjie af en hy sê nee, ek hoef hom nie te kom oplaai nie, hy sal self die volgende oggend die tande na die rally toe bring want hy het verlof en sy baas sal nie kla omdat hy ‘n ekstra paar ure ingesit het nie.
Ek ry toe maar terug, Vroutjie slaap al en Oom Koen is van die bier af op die brandwyn en Coke. Ek eet my koue steak en koue pap en sous so half in skaamte terwyl ek kan sien hoe lus is Oom Koen vir die kos wat hy nie sonder sy valstande kan kou nie. “Jy kan maar eet,” sê Oom Koen toe. “Die vrouens het vir my sulke slap mieliepap gemaak wat ek met ‘n fokken lepel moes eet.”
Dit was seker die volgende oggend lank na 10:00 toe die vrouens se spek en eiers my wakker maak. Ek word wakker met een moerse hoofpyn en ‘n mond wat so droog soos die Namib-woestyn is. Ek onthou vaagweg iets van ek en Oom Koen wat woes gedrink en gekuier en gesels het en die hele wêreld se probleme opgelos het en sommer die hele Grensoorlog ook ontleed het en iets van ek wat amper die hele tent omgeval het toe ek gaan inkruip het.
Oom Koen sit ongeduldig op sy stoel. Hy was vroeg al op. Sy wange sink in en sy lippe trek so half op ‘n tuit omdat hy nie sy onderste valstande in het nie. Dis al oppad na 11:00 toe en die mannetjie is nog nie terug met sy tande nie. Ek eet my ontbyt en spoel my mond met ‘n bier uit. Vroutjie het geen simpatie met my babbelas nie. 11:30. 12:00. 12:30. 13:00. 13:30. 14:00… Oom Koen kyk daai Casio op sy arm stukkend en skuif al meer op sy stoel rond.
Eers na twee toe kom die mannetjie aangedraf. Oom Koen se tande is reg. Ek was seker Oom Koen wou hom moer omdat hy so laat gekom het, maar toe die tande pas, glimlag Oom Koen en gee die rekening net een kyk voordat hy sy beursie uithaal en die note afskil. Oom Koen het iets van die “medical aid” gesê wat ek nie hier sal herhaal nie en kontant betaal.
Toe vat daai rally vir ons vlam. Die “appies” braai dat hulle bewe. Oom Koen sê dis maar hoe hy gewoonlik eet, maar ons almal was een dat hy die fillet-steaks met mening gevat het. En hy eet wors. En hy eet krummelpap met sous. En hy glimlag. Niemand kan sy tande mis nie. En hy vat nie kanse met sy tande nie. Nee. Ek moet die biltong vir hom kerf. In lekker klein, dun stukkies. Ek kerf my Kershaw stomp.
En daai mannetjie wat die tande-tegnikus is of iets is Oom Koen se held. Hy moet nie skaam wees nie. Hy moet vir hom hy kry en hy moet eet en hy moet vir hom kry en hy moet drink. Sommer nog ‘n bietjie pap en nog ‘n stukkie vleis en sommer nog ‘n koue een.
Ons kuier toe lekker en geniet daai rally gate uit. Later, na ‘n enorme klomp biere, toe wys Tannie Wilma daai “bytmerk” op haar boud. Al wat ek kan sê is: “Eina, fok!”.
En wat het my nou juis vandag aan daai rally laat dink?
Oom Koen het net vanmiddag weer sy valstande uitgehaal nadat hy ‘n “Snacker” tjoklit geëet het. Gelukkig het niemand daarop gaan sit nie…
Bygedra deur gertgariep
Bygedra deur gertgariep
Bygedra deur gertgariep