Dit was gedurende die eerste paar weke van my matriekjaar. Die jaar was nog jonk en ek was lekker windgat omdat ek in Std. 10 was. Die lewe was cool. My Kawa het geloop en ek het windgat by die skool gestop elke oggend en in die middae net so lekker windgat vertrek.
Daar het ‘n jong onderwyser vir ‘n week lank Afrikaans kom gee omdat die Afrikaanse onderwyseres, wat ook ons klasonderwyseres was, seker maar op verlof was of iets. Die outjie wat ingestaan het, het seker net klaar geswot of was dalk nog besig om te swot want hy het soos ‘n Std. 8 laaitie gelyk. Maar nou ja, hy was die onderwyser en ons luister toe so effens na hom.
Die Maandagmiddag vetrek ek toe soos gewoonlik na skool huistoe en val op my bed neer om ‘n bietjie te rus. Matriek was ‘n klomp werk en Januarie is hoogsomer. Dis warm. Ek trek g’n my boeke oor met bruinpapier en plastiek nie. Ek skryf net my naam voorop en doen later ‘n bietjie huiswerk.
Die volgende oggend toe ons die klas instap, kan almal sien die nuwe tydelike onderwyser is ‘n mannetjie wat diep erg de moer in is. Hy is skoon skuins befok. Hy vertel die klas van niemand wat na hom luister nie en hy sal ons vasvat en die week wat hy daar is sal soos ‘n ewigheid vir ons voel.
Ek sit nog rustig my laaste huiswerk en klaarmaak terwyl hy daar voor in die klas tekere gaan toe hy my skielik persoonlik begin uitvreet. Glo omdat ek nie by die atletiekoefening was nie.
Weet hierdie aap dan nie dat die skoolhoof my verbied het om aan enige buitemuurse aktiwiteite deel te neem nie? wonder ek toe terwyl fyn druppels spoeg op my bank beland soos wat hy op my skreeu.
Geen atletiek nie. Geen rugby nie. Ek mag nie eers na wedstryde gaan kyk nie. Die skoolhoof het my die oggend van die eerste dag van my matriekjaar vir my verduidelik dat ek geen buitemuurse aktiwiteite mag doen nie. My volledige aandag en al my tyd moet aan akademie bestee word. Matriek is nie grappies nie, dis ‘n skande as jy druip en hy sien wraggies nie kans om nog ‘n jaar met my opgeskeep te sit nie. Ek het nou teen alle verwagtinge so ver gekom en moet nou net die jaar op my tande byt en deurdruk.
Die mannetjie kak my nog uit toe ek besluit om hom reg te help. “Maar Meneer, die…”
Toe strip hy sy moer heeltemal en verduidelik vir my ek moenie teepraat met hom nie. Hy gaan haal ‘n rottang en sê ek moet net daar voor in die klas buk.
Die ou is die kluts kwyt, dag ek toe en ek weier. Vir wat moet ek daar voor almal in die klas pakkry omdat hy soos ‘n clown lyk en die skoliere nie na hom wil luister nie?
Toe begin hy my slegsê. Hy verduidelik vir my dat ek net so sleg is soos my ouers wat suip en dat ek nikswerd is. Hy gaan aan oor my ma wat haarself in ‘n inrigting in gesuip het. Ek voel lus om hom te moer. Hy gaan so aan totdat die klok lui.
Later die dag bunk ek die twee Afrikaanse periodes. Die skoolhoof kom kry my daar agter die pawiljoen. Hy sê niks omdat ek daar agter op my sitvlak sit en rook nie. Hy sê net ek moet klas toe gaan.
In die klas kyk hy my net vuil uit en sê ek moet in my spoor trap. Die res van sy week daar los hy my uit.
So bietjie meer as 3 jaar later ontmoet ek hom weer. Die staat het besluit dis tyd dat hy sy diensplig gaan doen wat hy nognie gedoen het nie.
Ek was ‘n bombardier. ‘n Windgat, bemoerde tweestreep met ‘n woordeskat wat 99% uit slegsê en vloekwoorde bestaan. Ek het al Grensdiens ook gedoen.
Toe draai die wiel vir daai onderwysertjie baie vinnig na die verkeerde kant toe in die nagdonkerhel in. Die Luitenant was saam met my in matriek, in ‘n ander klas, die A -klas, maar die hele skool het geweet van die tydelike onderwyser wat my so sleggesê het. Die Luitenant het my laat roep.
“Viljee. Daai nuwe etters krap my gat. Hulle reiswysers is ‘n gemors. Gaan speel met hulle. Die fokkers het my netnou getune hulle het my sien aankom nie. Maak oop hulle oë. O ja, wat is daai fok se van wat jou in die skool so uitgekak het?”
“Malan, Luitenant!”
“Dit lyk my hy is ook daar. ‘n Paar van hulle dink omdat hulle ‘n graad het hulle kan maak soos hulle wil. Wag, laat ek die medic reël. Ek is moeg vir hulle kak.”
Toe ek salueer en omkeer en daar weg is kry ek die fokkers waar hulle op hulle gatte sit en niksdoen. Hulle wag glo sodat hulle by die stoor omruilings kan gaan doen want van hulle klere pas nie. Ek sien toe dit IS Malan.
Ek vloek hom gou stukkend omdat sy boshoed kak op sy kop sit en begin hulle te jaag. Toe die medic met sy ambulans opdaag, begin ek lekker met hulle te speel. Dis net sweet en kots en selfs trane. Malan het goed saamgewerk en sy kant gebring. Dit het gelyk asof hy ‘n beter soldaat as onderwyser sal wees. Ek het nie verder aandag aan hom gegee nie want van die ander ouens was kak sleg.
Hy was ook net so twee weke daar, toe word van hulle Infanterie toe verskuif. Ek het later gehoor hy het na ‘n jaar of wat daar nie weer teruggekom na pas nie omdat hy nie Grens toe wou gaan nie en het in Bloemfontein by die DB opgeëindig as ‘n C3.
Ek is nie bly oor Malan op die ou einde so opgefok het nie. Hy het seker maar sy eie probleme gehad en het nie ‘n keuse gehad of hy SAW toe wou gaan of nie. Maar ek het lekker gekry toe ek hom so stukkend vloek oor sy boshoed wat nie reg op sy kop gesit het nie. Toe hy my herken, het sy oë so groot soos pierings gerek en ek moes sukkel om my lag te hou.
Julie 1, 2008 at 12:18 nm |
Julie 1, 2008 at 12:25 nm |
Julie 1, 2008 at 12:56 nm |
Ja nê! Ek kan my net sy gesig voorstel toe hy jou herken . . .
Julie 1, 2008 at 2:09 nm |
hehe lekker storie die.
Julie 2, 2008 at 3:51 nm |
“Be nice to the people on your way up, you may meet them again on your way down!”
Julie 8, 2008 at 12:26 nm |
Ja, ek was ook so rukkie in die Weermag.
Jy vertel alles so goed, voel of mens daar is.
My man het ook so effe probleem gehad toe hy inklaar. Kuier die Desember vakansie so lekker by die see en ontmoet toe een van die Kpl’s. By inname vra hy so ewe uit of die ou – op sy naam – ook daar is, en ja, daar spat dit toe. Hy is sommer dag een bietjie gejaag.