“Dronk Duvenhage? Wat weet hy?”

Die dag toe ek my lisensie geslaag het om ‘n groooot bike te mag ry en nie meer net die poefter-motorfietsies/piskrieke wat die Standerd 8’s en 9’s en baie van my matriekmaats ry nie, het ek lekker gevoel. Op 26 Februarie 1982 het ek gegaan vir my lisensie. Dit was ‘n Vrydag. My karlisensie het ek die vorige week iewers gekry.

Toe ek die middag by die huis kom, was Pa ook daar, aan die werk aan ‘n kar wat so halflyf by die garage uit gestaan het. Hy het seker maar weer  by Yskor afgevat om aan die kar te kan werk vir ekstra geld.

“Wie’t jou getoets?” vra Pa sonder om op te kyk vanwaar hy aan die enjin werk terwyl die Gunston rokend langs die kant van sy mondhoek gehang het.

“Duvenhage. Die een met die kuif.”

“Dronk Duvenhage? Wat weet hy?” vra Pa en en sit die spanner eenkant neer. Hy het sy stompie in die rigting van ‘n bedding geskiet en die sweet van sy voorkop afgevee met sy oorpak se mou. “Daai Duvenhage is gesuip, laat ek vir jou sê. Hy weet g’n niks. Hy skuld die drankwinkel geld en hy ry ‘n bromponie elke dag werk toe en terug. Wat weet hy van groot motorfietse ry? Niks. Ek sê jou, hy weet niks. Dis hy wat gemaak het dat almal nou sukkel om op die boek te koop want hy betaal nie.”

Ek kon sommer sien en hoor Pa was moeilik. “Ja, maar almal by die skool sê Duvenhage met sy kuif hare wat altyd skeef staan is die strengste,” antwoord ek en kyk rond. Daar is geen drankbottel nie en Pa is natuurlik lus vir ‘n knertsie en nou is hy moeilik.

“O. So as hy sê jy het jou toets geslaag dan kan jy ry? Is dit wat jy vir my wil sê? Jy en die klomp skool laaities?”

“Ja, Pa. Hy is streng en sien nie ‘n fout oor nie…” trap ek so in Pa se strik.

“Nou maar goed,” sê Pa terwyl hy aanstap huis se kant toe. “Laat ek die ander valhelm kry en dan vat jy my vir ‘n spin laat ek kan sien. Jy sê mos jy kan ry.”

Pa is daar weg en kom met mening aangestap met die ander helmet in sy hand. “Kom, kom, kom, laat ons ry. Ek sit agter en jy ry. Sommer Vereeniging toe. En ek vat nie kak soos dronk Duvenhage nie,” sê Pa en sit sy helmet op.

Ek sit toe maar weer my helmet op, klim op die bike en skakel dit aan. Ek wag vir Pa om agter-op te klim.Hy klim op en ek trek weg. Ek het net by die huis uitgedraai toe Pa my in die ribbes tik en beduie ek moet aftrek. Ek trek langs die pad af.

“Jy het uit die erf in die pad in gedraai en nie jou flikkerlig aangesit nie. Toe het jy van die pad af getrek en weer nie jou flikkerlig aangesit nie. Jy het nog nie begin nie en jy het al twee kere gedruip. Ek sê jou mos Duvenhage weet van niks,” sê Pa.

Ek wou nog sê van die pad wat stil is, maar Pa praat verder.

“Ry maar terug huistoe sodat ons oor kan begin. Jy sê jy kan ry maar dit lyk vir my jy weet minder as Duvenhage. En dis net mooi fokkol.”

Ha! dag ek toe. As dit dan nou so moet werk, dan werk dit so. Ek gaan nie ‘n U-draai in die pad gooi nie. Ek gaan om die blok ry en weer by die huis indraai. Ek sit die flikker regs aan en trek weer weg. Ek ry ‘n entjie en naby die stopstraat sit ek die flikker weer links aan en stop mooi netjies agter die dowwe witstreep.

“Ja, toe, jy hou jou slim. Los die flikker en ry reguit aan. Vereeniging toe,” sê Pa hier van agter af. Ek skakel die flikker af en ry reguit, na ‘n paar strate draai ek regs en ek en Pa vorder na die pad tussen Vanderbijl en Vereeniging. Ek hou mooi by die spoedperk, want ek kan in die spieëltjie sien en teen my rug voel hoe leuen Pa oor my skouer en hy hou die spoedmeter met valkoë dop.

Skielik toe voel ek meer my op my senuwees as toe ou stupid Duvenhage gestaan en kyk het. Pa sit hier agter my en hy sien alles en die pad wat ons ry is baie verder en die tyd baie langer as Duvenhage se toetsroete.

Net toe ek die pad Vereeniging toe wou vat, karring Pa hier van agter af dat ek moet aftrek. Ek trek af. “Ek sal jou beduie waar om te ry,” sê Pa en toe ek nog wonder wat de fok nou alweer, pomp hy my in die ribbes. Ek trek weg.

Ek ry deur die buurte en deur die dorp en weer uit die dorp. Op ‘n oop stuk pad naby Yskor sê Pa ek moet die bike oopdraai. Ek draai hom tot by 100km/h. Pa skreeu vinniger.  Ek draai tot by 140km/h. Pa skree vinniger. Ek draai tot by 160km/h. Pa skreeu vinniger. Ek draai die kraan tot naby 200km/h. Pa pomp my in die ribbes. Die enjin begin skreeu. Verby 220km/h. Die enjin gil en huil dat my ore toeslaan. Die draai in die pad kom kak vinnig nader. Ek staan amper op die rem en trek hard voordat die draai begin en die bike verloor vinnig spoed en toe ek die draai vat lê daai Kawa laag. Uit die draai maak ek weer oop, maar Pa klap my met die plathand op die linkerbeen. Ek rem, gear af en ry stadiger.

Pa beduie ek moet aftrek. Ek trek langs die pad af.

“Was dit lekker?” vra Pa terwyl hy ‘n pakkie Gunston uithaal.

“Ja, Pa, dit was lekker,” sê ek effens verbaas, want Pa steek twee Gunstons aan en gee vir my een aan.

“Rook, ek weet jy rook,” sê Pa net en ek rook. “Jy sien, Duvenhage is ‘n poephol,” sê Pa. “Hierdie Kawa kan ‘n kak hou loop, maar hy toets jou nie eers op die ooppad nie. Ek weet jy gaan vinnig ry, maar laat dit dan eerder wees as ek saam agter-op is. Toe, toe, rook daai sigaret,” het hy gesê en sy stompie eenkant toe geskiet. Ek het my halwe Gunston ook eenkant toe geskiet. “En dis nooit nodig om soos ‘n mal aap te jaag op ‘n openbare pad nie,” het pa bygevoeg en my na die agterste sitplek toe beduie. “Ek het lanklaas gery en is lus om te ry,” het Pa gesê voordat hy heel besadig weggetrek het en rustig terug gery het. Tot by die begraafplaas. Daar waar Ouboet rus.

Daar het Pa gestop en ons het afgeklim. Ek was maar stil. Pa was lank stil. Toe hy weer praat was sy stem vol krake. “Jy het jou lisensie gekry, maar jy mag nooit dronk ry nie. Nooit nie. Jy mag nooit dronk ry en iemand anders se onskuldige kind wegvat nie. Jy mag nooit dronk ry en jouself wegvat nie.”

Ek wou nog antwoord, maar Pa het my stilgemaak. “Kom, laat ons ry.”

Pa het gery. Tot by ‘n huis iewers in die woonbuurt. Ek dink dit was in S.E. 2 of S.W. 5. Daar het ek buite gewag en Pa het vir my ‘n pakkie wat nogal swaar was, toegedraai in bruinpapier, vir my aangegee om op my skoot vas te hou. By die huis het Pa die bike in die erf in getrek en vir my gesê ek moet die pakkie oopmaak.

Binne-in was ‘n handgemaakte leerbaadjie. Die baadjie se leer was dik en swaar, met ekstra laag op laag leer by die skouers, elmboë, skouers, borskas en rug. Net die ding vir as ‘n ou bike ry.

Ek het net vir Pa dankie gesê, toe sê hy ek moet daai baadjie aantrek en dan as hy agter-op is drankwinkel toe ry want dit word laat.

By die drankwinkel het Pa ‘n bottel whisky en ‘n bottel brandewyn gekoop.

Toe suip Pa. Hy suip dat die biesies bewe en die kranse antwoord gee.

Dit was eers later dat ek besef het dat Pa, wat ‘n volslae geharde alkoholis was, van die Woensdag af nugter gebly het om ook Vrydag die bike te kan ry. Want hy kon nie vir my vertel om nooit dronk te ry as hy self gesuip was en wou ry nie. Hy het daai bottel brandewyn uit gesuip, omtrent so skoon, saam met nog goedkoop wyn wat by die huis was.

Die Sondag het ons by Ma gaan kuier. Ma wat haarself in ‘n inrigting in gesuip en gemainline het. Ek weet tot vandag toe nie hoe het Pa dit reggekry nie, maar toe ek en hy daar weg is, het Ma ‘n hele bottel vol whisky gehad om uit te suip. Die bottel wat hy saam met sy brandewyn gekoop het. Ek het nie gesien dat hy dit onder sy klere versteek het toe ons op die Kawa geklim het nie en by die inrigting het die mense ons ook deursoek voordat ons binne toegelaat was. Weke later het ek gehoor dat van die werkers daar die bottel drank/dwelms invat en dat die mense van buite dan die drank/dwelms vir die werkers replace plus ‘n goeie kontant tip. Dit is dus duidelik dat korrupte staatsamptenare nie van vandag af kom nie, van hulle was in 1982 ook daar en net so korrup.

En Duvenhage met sy vetterige kuif wat altyd skeef gestaan het, ja, wel, wat het hy geweet?

16 Responses to ““Dronk Duvenhage? Wat weet hy?””

  1. flippiefanus Says:

    Jy skryf baie goed. Dis ‘n treffende storie hierdie. Ek gaan gereeld hier by jou kom kuier van nou af.

  2. liezl Says:

    Ai Gert. Jy het nou maar eenmaal net die gawe om ‘n ding so te sê dat mens nie wil ophou lees nie. En altyd terugkeer om weer en weer oor te lees. Daai leerbaadjie is seker een van jou kosbaarste besittings…

  3. Gert Gariep Says:

    Ek het daai leerbaadjie nou nog, nogsteeds in ‘n baie goeie toestand. Al kak nou is dat hy effens knap sit, want sedert ek 18 was het die bier en steaks al effens met my bierpens gewerk. Nie baie nie, net’n klein bietjie.

  4. Krista Says:

    Kosbare herinneringe wat jy hier neerpen . . . ek hou sommer nog meer van jou!

  5. Jaco Says:

    Ek dink ek het dit al gesê, maar ek gaan weer. Binne in daai rowwe bikerlyf sit daar ‘n baie klein hartjie.
    Maak nie saak wie of wat ‘n man se pa was nie, met tyd vervaag die slegte en die goeie herhinneringe bly. Jou pa bly immers jou pa . . .

  6. liezl Says:

    Ag wat, ons almal tel mos maar ‘n kilogram of twee op in 26 jaar :wink:

  7. Eben Says:

    Jaco ek stem, ‘n ou se pa bly jou pa ….. en dit maak nie saak, maar op daardie staduim in ‘n mens se lewe was hy jou hero, en steeds.

    Gert, pragtig en mooi storie.

  8. boendoe Says:

    Ek is ‘n gereelde roofleser hier. Jy skryf baie goed, Gert.

  9. DGS Says:

    Great storie, Gert, en great memories. Ek sê altyd my ouers is nie perfek nie, maar hulle is die perfekste vir my. Ek lees dit hier ook raak. En die belangrikste van alles is dat jy dit van jonks af raakgesien en waardeer het, en vandag is dit sulke great memories. Dankie vir die deel – hier lê ‘n ongelooflike klomp lesse in hierdie possie opgesluit.

  10. oopkop Says:

    My Ma sê altyd as iemand in die familie aanjaag dis oraait, ons is van goeie stoffasie gemaak. Klink asof jy ook is.

    Goed geskryf.

  11. Jenny Says:

    Stunning stukkie skryfwerk, GertGariep! Jy mag maar.
    Great memories, die goed wat ‘n ou jou lewe lank met jou saamdra.
    Moet jou sê jy’t my baie na aan trane gehad hier!

  12. Dellie Says:

    Soos altyd wil ek huil en lag wanneer ek jou stories lees. Jy het ‘n gawe om emosies en onthou in my los te maak. Dankie. :wink:

  13. Blondie Says:

    Beautiful memories!

  14. René Says:

    Ai maar dis mooi geskryf! Niemand sê ‘n ding soos jy dit sê nie – ek sien die prentjie voor my soos jy vertel! So wanneer bring jy ‘n boek met lewensstories in uit GertGariep?? Ek staan eerste in die ry!!!

  15. RB Says:

    Ja, jou pa is jou pa. Onwetend leer mens baie by hulle.

  16. Da Mario Says:

    Jy skryf beter as BlouWillem en Dana Snyman saam.

Leave a Reply