Gert se dating tips

Augustus 28, 2008

Ek sluit die blog, en dan gooi ek nog ‘n post. Sorry, hierdie post is dalk vol aanstootlike woorde, dus as jy dit nie wil lees nie, moet nie verder lees nie.

Ek en Vroutjie vertrek eers Maandag, en hierdie post lê al ‘n rukkie hier as ‘n draft, en terwyl ek nou nie baie besig is om die spanner te swaai by die werk nie, kan ek dit netsowel klaarmaak voordat die Piranhas my toon byt en die moerse groot spinnekoppe my aan die vinger byt.

Hierdie is een van my inskrywings wat julle maar lighartig moet opneem, dog ernstig as jy ‘n man is en ‘n alleenloper is. Die skoner geslag kan gerus maar ‘n aanmerking of twee gooi as hulle so voel.

Met hierdie inskrywing bedoel ek langtermyn  date, uitgaan, kys… Nie net steek soek vir die aand nie.

Ek is ‘n mechanic. ‘n Bike mechanic, en soos gewoonlik het ek ‘n soort van professionele snobisme oor die mechanics wat aan karre en trokke en trekkers en donkiekarre en so aan werk.

OK, ‘n job in die weermag en ‘n leefwyse as ‘n mechanic begin maar heel dieselfde. In die weermag kry jy boots en browns en as ‘n mechanic kry jy safety boots en blues. In die weermag vreet jy almal se kak op as ‘n troep en as ‘n mechanic begin jy deur almal se kak op te vreet as ‘n “appie”. Of is dit nou “appy”? Mechanics spel oor die algemeen nie goed nie, hulle swaai spanner.

In die weermag het ‘n troep 3 probleme: Bier, naai en bier. As jy ‘n onderoffisier is, is jou probleme brandewyn, naai en brandewyn. As jy ‘n offisier is, is jou probleme rum, naai en rum. What’s the difference? Niks, almal kots op die ou einde.

‘n Mechanic het 3 vraagstukke: Bier, naai en trou.

Uit bogenoemde is dit duidelik wat die verskil is. By ‘n weermag lid is die derde punt drank en by ‘n mechanic is die laaste punt trou. Dit verskil hemelsbreed.

‘n Mechanic weet hoe om ‘n girl te date.

Al gesien hoe kam ‘n mechanic sy mullet glad met vaseline, skeer sy baard en trek ‘n strikdas aan Dros toe saam met ‘n Metallica T-shirt op ‘n Vrydagaand? Hy gooi die revs van sy kar terwyl hy parkeer en moer die karwag. Hy gebruik nie ‘n kredietkaart nie, hy gebruik kontant en hy skil die note af voordat hy betaal. As die kar gaan staan, bel hy nie die AA nie, hy maak self reg. ‘n Mechanic het ook nie kondome by hom nie. Hy glo aan “reverse gear”.

Ek was lank in die SAW en het toe ‘n mechanic geword. Ek weet dus dat die mechanic se dating skills die beste is. Punt.

Dus: Hier is dit: Gert se dating tips.

Gert Se Dating Tips:

(Nie noodwendig in volgorde nie.)

a.) Jy moet langtermyn dink. Soos in van vandag af totdat die kluite op jou kis klap en die mense jou begrafnis hou. Jy gooi nooit jou “Gedore” spanners weg nie, en jy verlaat nooit jou vrou nie. NOOIT.

b.)  Jy sal skoon wees wanneer jy ‘n meisie op ‘n “date” vat. Jou baard sal nie na rook, dagga, petrol en knoffel ruik nie. Jy sal onder jou arms was. Jy sal jou ballas en jou gat was. Jy sal jou tande borsel. Jou ore sal skoon wees en nie geel was drup nie.

c.)  Jy sal nie “poes” sê nie, al is die werker by McDonalds ook hoe stadig. Jy sal nie daai woord gebruik nie. Jy sal nie. JY SAL NIE. Ook nie “fokker”, “doos”, etterkop”, “fuckface”, “pielbek”, of “kont” nie. Jy sal ook nie die meervoude van voorafgaande, of enige soorteglyke woorde gebruik nie. Opsomming: Jy vloek nie.

d.) Enige ou wat jou meisie kak tune, word gemoer. Hard.

e.) Jy sal ten minste 3 maande se salaris, dit is 12 weke se loon sonder oortyd, uitgee om vir haar blomme te koop. As jy mooi rooi roosknoppe uit iemand se erf kan steel, doen dit.

f.) Jy sal vir haar Chanel No. 5 of duurder parfuum koop. Werk oortyd.

g.) Jy sal jou slang in toom hou. Ja, jy sal. Onthou, jy moet langtermyn dink. Jy wil trou.

h.) Jy sal weet jy is verlief as jy die volgende simptome toon:

1. As jy haar wil bel, bewe jou selfoon so baie jy kan niks uitrig nie.

2. As sy jou bel en jy sien haar naam op jou selfoon, kou jy ‘n stuk uit jou tong en wang so haastig is jy om haar oproep te beantwoord want jy is bang jy miss haar call.

3.  Jy staar droomverlore voor jou uit en reageer net as sy met jou praat.

4. Jy verkoop jou kar om geld te kry om vir haar iets te koop.

5. Jy kyk nie Saterdag rugby nie, jy gaan eerder saam met haar shopping doen.

6. Jy gee, op jou naam, vir haar ‘n kredietkaart.

7. Jy sukkel om asem te haal en strip sommer ‘n moer aan die enjin waarmee jy besig is om te werk as jy aan haar dink.

8. Jy stel haar voor aan jou ouers.

9. Jy stel jouself voor aan haar ouers.

10. Jy kan nie glo diamantringe is deesdae so goedkoop nie en blaas sommer 5 jaar se salaris op een vir haar.

i.) Jy sal sorg dat sy by jou pas. As jy laaik van bike ry en sy dink dit is kak, wel, dan gaan dinge nie werk nie.

j.) Jy sal NOOIT jou hand teenoor haar lig nie. NOOIT.

k.) Jy sal nie alles uitpraat nie, maak nie saak hoe wild en opwindend sy in die slaapkamer is nie.

l.) Jy sal seker maak sy is oud genoeg.

m.) Jy maak die vistenk skoon.

n.) Jy sal weet hoe om te braai.

o.) Jy sal die gras ten minste een keer per week sny.

p.) Jy sal lief wees vir haar

q.) JY betaal die rekening vir die fliek, restaurant en kondome.

Happy dating!


Blog gesluit vir ‘n rukkie.

Augustus 28, 2008

Ek gaan vir ‘n rukkie nie hier by die blog post nie. Ek en Vroutjie gaan kyk hoe lyk dinge daar in Suid-Amerika vir bietjie langer as drie maande. Dis nou nadat Vroutjie my nou die aand in die bed…  Ja wel, toe word ‘n week se besoek aan Suid-Amerika twee, en twee word drie en dit word ‘n maand en dit word ‘n maand en ‘n week… en die bakkie en kar word verkoop en ‘n vaste deposito word losgemaak en ‘n lening word by die werk aangegaan en nog ‘n lening word by die bank aangegaan en dinge word gereël.

Dis net telefoonoproepe en papierwerk en eposse en fakse en afsprake by die dokter en lyste van goed om te pak wat al langer word. Vroutjie het gelukkig ‘n vriendin wat vir ‘n lewe sulke goed reël. Vir drie maande gaan ons die kontinent plat toer. Blyplek wissel van hotelle tot plekke waar ek die matras (as daar een is) goed met Doom sal moet bespuit.

Ons begin ons reis af te skop deur Maandag na Londen (duh, boring) toe te vlieg en daar oor te slaap en dan begin die pret as ons van daar af na Brasília toe vlieg.

Al waaroor ek nog wonder is of mens biltong daar kry?


Wat het van beurtkrag geword?

Augustus 20, 2008

Nou wat nou van beurtkrag/loadshedding?

Kry ons nou nie meer beurtkrag nie, of wat? Wanneer gaan staan die kragstasies weer of fok Eskom die powergrid op?

Behalwe vir al die gastoestelle en herlaaibare flitse waarop ek ‘n hele paar rand lyk my vir bollie uitgegee het, dink ek dit is lelik om beurtkrag sommer net so weg te vat.

Dis mos lekker as die krag af is in die aande. Dit is lekker stil, die kerse gooi ‘n vriendlike liggie op my Vroutjie en vir die tydjie van beurtkrag is ons verlos van 7de-Traan en Noot vir Noot en die nuus en  Riaan Cruywagen se gesig wat sedert die seventies nog altyd dieselfde lyk.

In plaas van TV kyk en kos op die stoof maak, kan mens braai, vry en woeps. En eet by kerslig.

Nou is beurtkrag net weg. Die elektriese ligte maak my oë seer, die buurman speel Vrydagaande kliphard Bosveldklong op sy hi-fi en die straatligte laat die stad soos ‘n deurmekaar kersboom lyk in die aande. Die sterre en maan verdof sommer onder al die ligte.

Ek kan ook nie maak of die krag af is en sommer self my die hoofskakelaar by die boks trip nie, dit is nie dieselfde nie. Die straatligte skyn by die vensters in, langsaan gaan ek die kenwysie van Isidingo hoor, die buurman se gesaag en geboor en gesweis gaan my ore vul, Steers en MacD se advertensieborde gaan in hulle volle glorie met al die neonligte die nag verlig…

Bring terug beurtkrag!


Huh? Jislaaik! Nee dankie, hou verby.

Augustus 14, 2008

Ja, OK, elkeen probeer seker maar ‘n geldjie maak sodat daar steaks en biltong en bier gekoop kan word en die huis betaal kan word en daar petrol in die bike se tenk gegooi kan word en die hond kos het om te eet ensovoorts.

Kyk, af en toe bel mense my of spam my email of gooi allerhande junkmail in my posbus wat later aan die hele straat vol waai. Elkeen probeer mos maar sy geldjie verdien.

Die kersie op die koek is die manntjie wat my posbus ontsier met brosjures, dan my email spam en dan my bel om sy salespitch verder te vat.

Eers kry ek die brosjure oor die “motorcycle tours” wat, al moet ek self sê, nogal heel interessant en lekker lyk. Dis net fotos van bikes en berge en damme en die see en grondpaaie en die Kalahari en so aan. Vir ‘n biker soos ek gryp die brosjure met al die fotos nogal my aandag.

Toe volg die email. Dieselfde. My cap gaan omtrent moer toe soos wat ek die brosjure aflaai. Ek bekyk weer die brosjure en raak sommer lus vir die motorfietstoer. Bike ry is mos lekker.

Vanmiddag laat toe lui my foon ook sommer. My foon lui elke dag, maar die slag was dit toe “Roy” of so iemand wat bel. Hy praat Ingels. Nie dat ek worry nie, ek kan ook Ingels praat, maar sy aksent is swaar op die oor.

Roy reël die motorcycle tours. Hy het experience in die You Es Aye met die organisering van motorcycle tours. Die wat? O, die USA. United States of America. Jislaaik dude, g’n wonder jy praat die Ingels so snaaks nie. En hy het al soveel groepe van die You Es Aye na South Africa gebring op die motorcycle tours en so aan.

Fok, dude, as jy nognie agtergekom het nie, ek flippen bly in Suid-Afrika. Jou experience in die You Es Aye gaan mos my nie hier help nie.

Toe begin die dude geld praat. ‘n Hele paar duisend rand, dan reël hy al die verblyf en neem die tour deur die mooiste gedeeltes van Suid-Afrika.

Sluit daai geld die verblyf in? Nee.

Huh? Nou vir wat betaal mens dit dan?

Hy organize everything from the accommodation to the best routes, including a support vehicle for mechanical breakdowns.

Nou watse kak is dit? Hy vra ‘n paar duisend rand en dan bespreek hy verblyf waarvoor jy moet betaal en kyk op sy GPS waar die mense moet ry en stuur ‘n bakkie met ‘n paar spanners saam.

Dis nou sy “motorcycle tours” wat hy reël.

Ek weet elkeen probeer ‘n geldjie maak, maar wraggies, ek sien dit as ‘n ernstige belediging om vir iemand geld te betaal sodat hy vir my verblyf kan reël en vir my moet sê waar om te ry.

Roy, hier in good old Es Aye het ons ook telefone en Internet. Om verblyf te soek is nie moeilik nie. Ons het ook ‘n AA wat so ‘n boekie uitreik met verblyf van gastehuise tot omtrent al die kampeerplekke in SA. Ek het g’n iemand met experience in die USA nodig om my te help daarmee nie.

Ek weet waar is die mooi plekke in Suid-Afrika. Ek ry al bike in Suid-Afrika vandat Roy nog in sy doeke gepis het.

Ek het ‘n kaart met ‘n telefoonnommer op wat ek enige tyd kan bel as my bike gebreek het. Daarby is ek nog ‘n mechanic ook en as die bike kak, fix ek hom sommer net daar langs die pad.

Ek het ‘n tent. En ek en Vroutjie het slaapsakke. Ek kan self die tent opslaan en die slaapsak toe zip. Ek kan self kos maak ook. Sommer langs die pad. Ek kook water vir koffie en ek braai. Ek het nie iemand nodig wat vir my louwarm kitskoffie langs die pad van ‘n bakkie moet aflaai nie. In elk geval koop mens hier in Suid-Afrika sommer koffie by die petrol garage.

As ek en Vroutjie van die bike af moer, gaan dit nie help ons word agterop ‘n support vehicle gelaai nie. ‘n Bike wat neergsit word kan ‘n lelike ding wees. Netcare se ambulans sal ons kom optel.

Nee wat, Roy, hier in Suid-Afrika maak ons so:

Pak jou kak, maak die bike se tenk vol petrol en trek weg. Vat die pad.

Nee, wraggies, ek sal nie ‘n paar duisend bokke uithaal sodat iemand vir my kan sê waar om te slaap en watter pad om te ry nie. Nie in my eie land nie. Miskien as iemand van die USA af hier wil kom ry, sal dit hom of haar help as Roy alles reël, maar nie vir my nie, dankie.

Fokkit, en ek kan ‘n wed vat Roy weet nie eers waar om na-ure Zamalek te koop nie.


Grense

Augustus 14, 2008

Of te wel dan, hoe ver moet ‘n mens ry voordat jy kan voel jy “het bike gery”?

In my kop is daar grense, nie fisiese drade en paaie en riviere nie, maar as mens bike ry, sal jy weet wanneer jy nou behoorlik die bike gestart, die pad gevat en gery het.

Om op die ysterperd te klim en werk toe te ry is nie bike ry nie. Dis werk toe gaan.  As jy na die drankwinkel op die hoek of slaghuis toe ry, is dit ook nie bike ry nie. Dis bier en vleis gaan koop. Die ent na Cresta of Clearwater of Westgate toe tel ook nie.

Jy kan nie hier in die omgewing van die huis op jou motorfiets ry en dan dink jy het bike gery nie. Ek weet nie wat dit is nie, maar dis nie bike ry nie.

As ek die pad Noorde toe vat, voel dit eers vir my anderkant Pretoria, oor die berg, in die Bosveld in asof ek bike ry. As my rug begin seer word, die petrol in die tenk erg begin sak en my tande vol stof en goggas is en ek trek by ‘n padstalletjie af om ‘n koeldrank en ‘n sakkie biltong te koop, dan voel dit asof ek en Vroutjie bike ry.

As ons Oos-Transvaal toe ry, dan begin dit eers daar anderkant Middelburg, op die pad na Belfast, Machadodorp en Waterval Boven se kant toe voel asof ons lekker bike ry.

As ons Noord-Kaap toe ry, begin dit eers met ‘n lekker koppie koffie anderkant Kuruman voel asof ons bike ry.

In ‘n Oostelike rigting begin dit anderkant Ermelo, oppad Piet retief toe voel asof ons bike ry.

Eintlik dink ek as mens in ‘n rigting in ry, en jy begin met die tweede tenk vol petrol, dan ry jy bike. Dan is jy ver genoeg buitekant die grense van jou woonbuurt.

As ons iewers heen gery het en ons het die see gesien, dan weet ons sommer ons ry bike. Harties of die Vaaldam tel nie so lekker nie. Dis gaan ontbyt eet by een of ander (koffie)kroeg, dis nie bike ry nie.

As jy so ver ry dat jy net voor sononder jou tentjie opslaan en ‘n vuurtjie maak om ‘n vleisie te braai wat jy by ‘n vreemde slaghuis op ‘n vreemde dorp gekoop het, dan ry jy bike.

Volgende keer verskuif jy die grense. Ermelo is dan byvoorbeeld te naby om behoorlik bike te ry, jy begin dan eers by Pongola te voel asof jy bike ry.

As jy langer as ‘n halwe dag ry en jy moet al jou goed uitpak sodat jy jou paspoort in die hande kan kry by ‘n grenspos, dan kan jy maar sommer weet jy ry lekker bike. Jy vat die pad behoorlik.

Bike ry is om die grense wat vir jou bekend is oor te steek. Om bietjie uit te kom, weg te kom en jou kop skoon te kry.

Jy kan 2km na die Dros of O’Hagans naby jou huis toe ry om ‘n bier te gaan drink, maar daai selfde bier gaan beter af na ‘n lang dag se ry as jy hom drink in ‘n vreemde kroeg op ‘n vreemde dorp.

Jy kan met die kar ook ry, maar dit is nie dieselfde nie. Dis die gevoel wat jy in jou binneste kry as jy die ver pad met die bike vat wat dit so lekker maak.


My hoenders

Augustus 13, 2008

Ek was nog in die laerskool. Wanneer ek in die dorp was saam met Pa of sommer op my eie, het ek na die pet shop toe gegaan as daar tyd was en na die voëltjies, hasies en visse gekyk. Op ‘n dag toe is daar agter in die pet shop ‘n draadhok vol geel kuikens. Die kuikens was sommer goedkoop ook en ek tel my munte af vir twee kuikens.

Ek maak dit duidelik vir die eienaar van die pet shop ek wil twee henne hê. Die man haal twee geel kuikens uit die draadhok en verseker my dit is twee hennetjies. Hy vra of ek ‘n haan ook wil koop, maar ek sê hy moenie worry nie, die bure het genoeg hane wat die hele buurt rond loop. Hy sit die twee kuikens in ‘n boks met gaatjies in sodat hulle asem kan kry en ek betaal en is daar weg, huistoe met twee piepende kuikens in ‘n boks en ‘n sak vol mieliepitte en ander saadjies.

By die huis het ek die twee kuikens garage toe gevat en hulle uit die boks gehaal. Die een het op my hand gekak terwyl ek die sagte kuikenlyfie vasgehou het. Hulle het honger gelyk en ek het vir hulle kos gegee en vir hulle water ‘n plastiekbakkies gegooi. Ek het groot planne gehad vir daai twee kuikens. Eiers wat hulle gaan lê en ek in die oggende gaan eet voordat ek skooltoe gaan, party van die eiers laat uitbroei en sodoende nog meer hoenders kry ensovoorts.

Die twee kuikens het vir eers in die aande in ‘n appelboks geslaap totdat Pa die naweek vir hulle ‘n ordentlike slaapplek met ogiesdraad aanmekaar kon timmer.

Die twee het vinnig gegroei. Bedags het hulle daar op die erf rondegskrop en gepik aan alles. Die twee se sagte kuikenlyfies het gou vorm en meer vere begin kry.

Ek het ook al meer my bedenkinge begin kry oor die geslag van die twee. Hulle kamme het al meer parmantig gegroei en die dag toe hulle begin kraai, was dit seker. Dit is twee hane. Toe is my drome van vars eiers in die oggende en eiers wat uitbroei en my hoenders wat meer word, daarmee heen. Die twee vreet net mieliepitte wat ek met my sakgeld moet koop. Ek raak later vies en die hoenders is hulle lewens nie meer seker nie want ek dink ernstig daaraan om vir Pa te vra om my te wys hoe om ‘n hoender te slag.

Die bure was spiteful, want hulle wou nie een van die hane vir ‘n hen geruil het nie. Ek vra by die skool rond en een van die kinders wat op ‘n plot bly, stem in om een van die hane te ruil vir ‘n hen.

Daai hen was nie twee dae op die erf nie, toe begin sy eiers lê. Die oorblywende haan moes by haar aangelê het, want later toe stap die nuwe, sagte kuikens die hele erf vol.

Later toe daar heelwat hoenders was, het Pa my gewys hoe om ‘n hoender te slag. Die man by die pet shop kon ook sommer loop kak het, want hy het g’n clue gehad of die kuikens hane of henne was nie. Hy het net gemaak asof hy weet. Ek het hom later gaan sê ook, toe probeer hy nog stry.

Ek het met daai hoenders vir ‘n hele paar jaar aangegaan. Daai sagte kuikens bly darem maar vir my oulik.