Ek was nog in die laerskool. Wanneer ek in die dorp was saam met Pa of sommer op my eie, het ek na die pet shop toe gegaan as daar tyd was en na die voëltjies, hasies en visse gekyk. Op ‘n dag toe is daar agter in die pet shop ‘n draadhok vol geel kuikens. Die kuikens was sommer goedkoop ook en ek tel my munte af vir twee kuikens.
Ek maak dit duidelik vir die eienaar van die pet shop ek wil twee henne hê. Die man haal twee geel kuikens uit die draadhok en verseker my dit is twee hennetjies. Hy vra of ek ‘n haan ook wil koop, maar ek sê hy moenie worry nie, die bure het genoeg hane wat die hele buurt rond loop. Hy sit die twee kuikens in ‘n boks met gaatjies in sodat hulle asem kan kry en ek betaal en is daar weg, huistoe met twee piepende kuikens in ‘n boks en ‘n sak vol mieliepitte en ander saadjies.
By die huis het ek die twee kuikens garage toe gevat en hulle uit die boks gehaal. Die een het op my hand gekak terwyl ek die sagte kuikenlyfie vasgehou het. Hulle het honger gelyk en ek het vir hulle kos gegee en vir hulle water ‘n plastiekbakkies gegooi. Ek het groot planne gehad vir daai twee kuikens. Eiers wat hulle gaan lê en ek in die oggende gaan eet voordat ek skooltoe gaan, party van die eiers laat uitbroei en sodoende nog meer hoenders kry ensovoorts.
Die twee kuikens het vir eers in die aande in ‘n appelboks geslaap totdat Pa die naweek vir hulle ‘n ordentlike slaapplek met ogiesdraad aanmekaar kon timmer.
Die twee het vinnig gegroei. Bedags het hulle daar op die erf rondegskrop en gepik aan alles. Die twee se sagte kuikenlyfies het gou vorm en meer vere begin kry.
Ek het ook al meer my bedenkinge begin kry oor die geslag van die twee. Hulle kamme het al meer parmantig gegroei en die dag toe hulle begin kraai, was dit seker. Dit is twee hane. Toe is my drome van vars eiers in die oggende en eiers wat uitbroei en my hoenders wat meer word, daarmee heen. Die twee vreet net mieliepitte wat ek met my sakgeld moet koop. Ek raak later vies en die hoenders is hulle lewens nie meer seker nie want ek dink ernstig daaraan om vir Pa te vra om my te wys hoe om ‘n hoender te slag.
Die bure was spiteful, want hulle wou nie een van die hane vir ‘n hen geruil het nie. Ek vra by die skool rond en een van die kinders wat op ‘n plot bly, stem in om een van die hane te ruil vir ‘n hen.
Daai hen was nie twee dae op die erf nie, toe begin sy eiers lê. Die oorblywende haan moes by haar aangelê het, want later toe stap die nuwe, sagte kuikens die hele erf vol.
Later toe daar heelwat hoenders was, het Pa my gewys hoe om ‘n hoender te slag. Die man by die pet shop kon ook sommer loop kak het, want hy het g’n clue gehad of die kuikens hane of henne was nie. Hy het net gemaak asof hy weet. Ek het hom later gaan sê ook, toe probeer hy nog stry.
Ek het met daai hoenders vir ‘n hele paar jaar aangegaan. Daai sagte kuikens bly darem maar vir my oulik.
Augustus 13, 2008 at 3:03 nm |
So bly jy’s terug
. Kuikentjies is vrek oulik, eintlik jammer hulle moet grootword. My ma het eendag ‘n hoender voor ons geslag, dis ‘n gesig daai wat mens nie gou vergeet nie
Ek kon vir omtrent 10 jaar nie my mond aan hoender sit nie.
Augustus 13, 2008 at 5:03 nm |
Oulike storie. Ek het op ‘n plot grootgeword en ons het ook hoenders gehad en die goed geslag en als. My pa het sommer ‘n honderd kuikens op ‘n slag gekoop en grootgemaak. Nou wonder ek of dit hoegaand moontlik is om die geslag van ‘n kuiken te bepaal.
Augustus 13, 2008 at 8:08 nm |
Flippiefanus, het jy nooit daai fliek van Leon Schuster gekyk nie?!
Daar waar jy vra of hy Durban toe wil gaan – daar kan jy vra of hy ‘n haan of ‘n hen is!
Jislaaik Gert – sulke stories laat ‘n mens ver terugdink! Ons boeties en my pa het self op ‘n stadium met hoenders geboer dat die stof staan! Lekker gedagtes!
Augustus 14, 2008 at 8:28 vm |
Ek sou ook nie weet of ‘n kuiken ‘n hen of haan gaan wees nie. Ook nie dwerghamsters nie.
Augustus 14, 2008 at 9:04 vm |
Heya Gert
Ja, die goeie ou dae toe kids nog hul spaargeld by die petshop spandeer het. Vandag spandeer hulle dit aan drugs en drank. Ek is so bang vir my kids om groot te word. Hulle speel nie meer soos toe kinders nog kinders was nie. Daar is niks mooier as ‘n klein wollerige donsie geel nie ne?
Cheers vir eers
Augustus 14, 2008 at 9:09 vm |
As kinders op die plaas het ons altyd die tarentaal kukkens so groot gemaak. Ditis nou oulike goedtjies. Dit is nou ‘n dingetjie wat kan hardloop as hy moet. Ongelukkig gevlieg en die ander gaan opsoek as hulle groot word.
Augustus 14, 2008 at 9:19 vm |
My een pel het ‘n hans hoenderhaan gehad. Ja, hans. Hansie het in die huis rondgeloop, saam TV gekyk en in sy kamer op sy kopstuk geslaap. Hansie het tot saam in die swembad geswem, en ewe gedwee stilgestaan om met ‘n handdoek drooggevryf te word na die tyd!
Augustus 14, 2008 at 3:04 nm |
[...] is elke dag op ‘n ander mission opsoek na sy miljoene, GertGariep was lank missing in action, maar ek sien hy is darem weer op ‘n trip down memorylane met sy [...]
Augustus 14, 2008 at 4:14 nm |
DGS nee ek is nou nie sterk op Leon Schuster flieks nie. Jy sal maar vir my moet vertel wat die storie is.
Augustus 15, 2008 at 6:42 vm |
Moenie lag, maar ek weet tot vandag nie wat is hen of haan as hulle so klein is
Ek het hulle loop optel soos Soldaat sal voorstel en geblaas agter, maar nee, hulle wys nie, seker skaam!!