Wonderwerke gebeur nog

November 30, 2008

Net toe ek op my laagste was en gedink het ek gaan vrek van verlange en rou eensaamheid omdat ek nie by Vroutjie is nie, het ek ‘n kontantkoper vir die LT gekry.

Ek het nog altyd gebargain om die getroue, geliefde LT te laat gaan op een of ander afbetalings ooreenkoms, maar IT-outjie kyk dinge uit en die bank kyk uit en sê alles is reg,  en daar is die geld in die bank en IT-outjie organize die vliegkaartjie en dit beteken ek gaan Kersfees en nuwejaar by Vroutjie wees.

Die LT het nou ‘n nuwe eienares, ja, eienares, maar die koop is deur, die geld is deur, die papiere is deur en ek gaan by Vroutjie wees. En die LT is in baie goeie nuwe hande.


Seks. (18+)

November 27, 2008

‘n Klein vierletter woordjie. S.E.K.S.

Eintlik was deel van hierdie post vir my PDF dokument bedoel, maar toe lees ek vandag van ‘n pastoor raak wat sê mens moet baie seks hê.

Hy het gesê die lidmate het in die sewe dae van seks deur die grense tussen hulle en hul mans en vrouens gebreek en nou moet dit oor prioriteite gaan. Mense moet ophou wegkruipertjie in die slaapkamer speel, het hy bygevoeg.

Die pastoor het vertel seks is die supergom wat alles in die huwelik bymekaar hou.

Dis ’n onderwerp waarvan die kerk nog altyd weggedeins het, hoewel die Bybel daarna verwys.

Ek stem net so half saam met die pastoor, want ek dink hy verstaan nie heeltemal nie. Seks is so koud en eintlik onpersoonlik. Seks. Bevrediging. Watse bevrediging? So hier tussen die bene rond.

Die pastoor sê seks is die supergom wat alles in die huwelik bymekaar hou. Draadtrek? Vinger vryf? Alles hier tussen die bene rond.

Liefde maak. Liefde maak verskil baie van net seks hê.

Maak liefde, en dan gaan dinge baie goed uitwerk. Noem dit seks, of woeps, of steek, maar maak liefde.


Ons tipe doos!? Amper wou ek bolle rol!

November 27, 2008

Ek kry toe vanoggend die IT-outjie om my te help met al die vorms invul en uit te werk dat die flippen, fokken estate agent my nie bevark met die komissie nie, en toe ons ‘n breek vat, vertel hy my ek is ‘n… ‘n… doos. En nie watse doos nie, iemand anders se doos!!

Ek haal toe diep asem, tel tot by 10 en toe is ek eers moerig. Ek is moerig omdat Vroutjie ver is en toe hoor ek iemand anders dink ek is hulle doos. Nie hulle wat nie, hulle “tipe” doos. Tipe. Hulle tipe doos. Watse tipe? dag ek toe. Toe is daar so ‘n gedruis in my kop. Ek dink my kop het geraas. Die laaste wat ek die woord “tipe” gehoor het, was toe die snobmense vir my en my pa in Vanderbijl gesê het: “Ons is nie julle tipe nie,” so met die mondjie op ‘n plooi getrek, dat die “julle” klink na iets soos “jôlle”. En nog altyd as iemand jou ‘n doos noem, dan klap jy hom sommer net daar vuurwarm.

Die IT-outjie staan toe skielik daar doer ver en beduie iets na die rekenaar toe. Bogger die anti-rookwette stap ek toe sommer net so met die brandende sigaret in die kantoor in, en kyk na die rekenaarskerm, en tik die as net daar op die mat af.

(Laat ek net gou die IT-outjie ‘n vuil kyk gee want hy staan nou en trippel hier rond, so asof hy op sy rekenaar wil werk. Ek blog nou, so hy kan wag.)

Toe ek op die skerm begin lees, toe begin ek lag en later toe voel ek nogal trots. Toe kom ek agter die ouens sê my nie sleg nie, dis eintlik iets, soos ‘n toekenning wat ek gekry het.

Fokkit, ek was al stoutste seun in die skool, slegste troep onder die son, beste drilsersant in die eenheid, het al die baie keer pryse gewen vir doughnuts wat ek gegooi het, het die mooiste vrou in die heelal, het al ‘n hele paar kere armdruk en tyre gooi gewen, was al ‘n model prisonier, het al vouchers gewen omdat ek ‘n draught die vinnigste kon afsluk, en het selfs, tot my spyt, al ‘n chillie-eet kompetisie gewen. Maar nog nooit, het ek op ‘n goeie manier, ‘n “ons tipe doos” gehaal nie.

Ons tipe doos

Ai ai ai en nou raak ek sommer hartseer, want Vroutjie is ver en dis net in good old Suid-Afrika waar iemand trots kan wees omdat hy ‘n doos genoem word.

En dan ‘n paar ander goeters oor terug antwoord met die comments wat ek agter gelaat het. Die rekenaar se windows werk weird, so ek antwoord sommer hier. Die IT-outjie sê ek moet reboot om te change van Linux na Windows. Ek reboot g’n nou nie. So hou maar bietjie uit.

Sonkind, jy kan stuur aan gertgariep@yahoo.com Die email wat ek by die die werk in SA gehad het, is weg, maar ek kan die Yahoo nogsteeds gebruik, solank ek toegang tot die internet het.

Skoenlapper, NZ is te klein en te dun om ver met die bike te ry, in Australie doen die mense weird goed met die skape en hulle bier is flou, Engeland is nat en koud en klein en sommer net kak. Jy sal verbaas wees hoeveel Suid-Afrikaners is deesdae iewers in Suid-Amerika.

Netjane, ja ek hoop op die langtermyn is al die bloggers en sommer enige iemand wat wil kom kuier daar by ons. Bring sommer die surfboards saam. Ek en Vroutjie het besluit om ‘n vervalle, maar GROOT huis te koop, en Vroutjie het al die dokumente begin regkry sodat dit ‘n gastehuis kan word, met ‘n kroeg. So, as julle weer sien,  dan kom kuier julle saam met die Amerikaners en Spanjaarde en Portugese, en Ingelse en Duitsers en Franse en Nederlanders ens. en dan gooi die uwe vir julle lekker dop in die aande as hy klaar gewerk het.

Flippiefanus, as ek terug gaan, dan val ek in by ‘n kursus om die taal te begin aanleer. Jinne, dan moet ek weer my neus in die boeke druk. Vroutjie is slim, sy sal moet help. Brazilian Portuguese met Spaans by, hier kom ek.

Jaco, die bier smaak heel kakkerig. Eers hier na die derde een raak dit lekker. Die beesvleis maak egter op vir die kakkkerige bier. Eintlik weet ek nie of dit bier, of ‘n mengsel van flou bier en sterk witwyn is nie. In elk geval, nou dat ek dit noem, waar kom die Suid-Afrikaners daaraan net hulle braai en hulle het braai uitgevind? Vleis of hoender of vis wat jy op ‘n rooster oor kole tan, of selfs in ‘n tak druk en vashou en oor die kole of vuur gaarmaak is mos braai?

Boendoe, ek kyk maar nog net die surfers en kap dit doggie-style in die vlakwater. OK, dit klink nie reg nie, ek bedoel daai swem met die roerbeweging met die hande voor jou lyf, soos ‘n hond swem, nie daai ander doggie-style nie. Vroutjie sal my klap as ek dit probeer in die openbaar.

DGS en Dmario, julle sal MOET kom kuier. As die gastehuis oopmaak, is dit vir julle halfprys. Daai G-string dingetjie met ‘n piepklein toppie is standaard. Boudflos en ‘n verskoning van ‘n lappie wat die tepels bedek. Vroutjie het gesukkel om ‘n meer beskaafde costume te kry, en toe settel sy maar vir die klein stukkies lap. Miskien as mens die uur en ‘n half, twee ure na Rio toe ry, is daar dalk ‘n winkel wat sulke costumes verkoop wat meer bedek. Ek het nooit besef hoe pragtig Vroutjie is totdat sy met daai boudflossie in die branders in geduik het nie! Eers as jy op die strand was, en gekyk en gesien het, sal jy die betekenis verstaan van pubic hair “Brazilian” skeer, wax of watookal. Piepklein bikinis. Topless en volle naaktheid, ja daar is strande waarvan ek gehoor het, maar dis amper soos in Suid-Afrika, maak toe wat toe moet wees, in Brasilië is die lappies materiaal net BAIE kleiner, en daar is selfs strande, al is dit die uitsondering en baie min, wat nie bikinis toelaat nie. Maar daar waar ek en Vroutjie bly, kan julle baie mooi tiet en boud kom kyk. In oorvloed.

En nou verlang ek na my vrou. Ek verlang myself flenters stukkend na haar. Ek bly nog hier tot in diep Januarie 2009. ‘n Kersfees en ‘n nuwe jaar sonder my Vroutjie. Ai nee, kak! Ek het alle vertroue in Vroutjie daar anderkant om dinge vas te vat, maar ek wil by haar wees.

Ek wil haar teen my vasdruk, haar hare deur my vingers laat gly, vir haar in persoon vertel hoe vreeslik verskriklik baie lief ek vir haar is. Ek wil haar op die voorkop soen, op die lippe, en my stoppelbaard oor haar wange laat skuur. Ek wil die warm asem van haar voel in my ore fluister, haar sagte warm lippe op myne voel, haar lyf styf teen myne druk. Ek wil die lagplooitjies aan die kante van haar ogies sien, die helder vonkel wat haar oë straal, haar mondhoeke wat in ‘n verleidelike, stoute glimlag vertrek.

Ek wil die sagte, soet vroulikheid in haar hare ruik, ek wil die helder klank van haar lag hoor, ek wil my arms om haar vou en haar beskerm. Ek wil my hande bewend oor haar lyf laat gaan. Ek wil haar bemin. Ek wil haar teenaan my hê.

Fokkit, na al die jare is ek nogsteeds nie net lief nie, maar verlief op Vroutjie.

Dit is op die oomblik 17:23 hier, en as ek my horlosie reg verstaan, is dit nou eers 1:23pm daar waar Vroutjie is. Nou terwyl ek hierdie sin skryf.

In elk geval, ek is nogal heel trots op my “tipe doos” benoeming. Dis eintlik die genuine “Trots Suid-Afrikaanse” toekenning, want ek meen, ‘n ou kan nie die soos-toekenning in Ingeland, of Suid-Afrika of Australië kry nie, want “doos” is Afrikaans en dus verstaan net die Afrikaanse dudes die “ons tipe doos”, of hoe dan.

En nou gaan ek tog net die IT-outjie en ‘n paar ander manne vir ‘n bier of 10 in die kroeg stick, my oë uithuil omdat ek vir Vroutjie mis, gesuip raak, dronkverdriet kry, tjank, en dan uitpass.

O ja, O, ja, en dan die ander ding. IT-outjie, wat ook familie is, jou verduideliking is aanvaar, jy gaan nie gestraf word nie, maar volgens die kode gaan die voëltjie fluit. En daar gaan dit eindig, en jy gaan dit nooit weer doen nie, Okay? DGS kan maar ‘n email verwag.


Hang bal

November 26, 2008

Hang net ‘n bietjie bal, hang aan ‘n tak, staan op rus, doen net iets. Woeps, drink, rook, whatever.

OK, vir nou  is ek nie baie gelukkig nie. Ek is vir ‘n paar dae in Suid-Afrika om die verkoop van die huis deur te haak en dan natuurlik ook die LT wat, sorry LT, moes gegaan het.

Die huis kan gaan, die (sorry LT) getroue LT kan gaan, maar die ding wat my nou vang is die weg van Vroutjie af wees. Vroutjie is derduisende kilometers ver weg, anderkant die oseaan, op ‘n ander kontinent, in ‘n huis waar klomp van die vertrekke se elektrisiteit nog nie oorgedoen is nie. In ‘n huis waar daar nog by baie plekke ruitglas kort, en  waar die kombuis heeltemal uitgebreek is en die badkamers vol uitgekapte teëls en stukke beton en sement is.

Baie mense het my al gevra: Gerhard, hoekom verlaat julle Suid-Afrika? Hoekom? Jy het ‘n paar maande terug bevordering gekry en Esmeralda klim die ladders in die corporate world?

Die antwoord is baie maklik en nog moeiliker: Ek en Esmeralda het rustelose siele. Nie rusteloos teenoor mekaar nie, maar net sommer rusteloos.  Altyd op soek na iets.

Ek is al aan die verkeerde kant van veertig en Vroutjie nog bietjie ouer, maar ons het gladnie kinders nie, dus is die wêreld nog effens oop vir ons. Wawyd oop, eintlik.

Ek en Vroutjie werk nogsteeds vir dieselfde “Moedermaatskappy”, maar WIE EK NOU MIS IS VIR MY VROU. VIR VROUTJIE.

Wraggies, ek was jarre terug vir maande op die Grens, maar nou voel hierdie paar dae soos eeue.

Toe ek en Vroutjie op ons “vakansie” gegaan het, het ons altwee baie goed geweet dat die moedermaatskappy ons op ‘n sending uitstuur om dinge uit te kyk, en / of vakansie te reël.

Die ding wat my en Vroutjie aanvanklik gevang het, was die feit dat ons nie kinders het nie. Meer vir Vroutjie as vir my. Baie meer. En na haar Ma se dood, nog te meer. Vroutjie weet presies wat ek hier skryf en stem saam. Google Talk rocks!

Maar, waar het ons op die punt gekom en besluit: Laat ons ‘n lyn maak?

Nêrens. Sommer so saam met die tyd.

Ek en Vroutjie het ‘n tweede kans gekry. Ek self het definitief ‘n tweede kans gekry.

Ek is nou bietjie negatief, maar laat ek praat oor dit wat ek en Vroutjie gaan mis:

a.) Taal. Afrikaans.

b.) Niks veel meer nie.

Dis dit.

As ek moet sê, sal ek sê die grootste aanpassing, die besluit om te skuif, is al agter die rug. Ek en Vroutjie mis dit om sommer net Afrikaans te praat, maar verder kom ons reg, so met die PDA, mens leer woorde nogal kak vinnig aan. Veral Vroutjie. My workshop manuals is in Engels.

Eintlik is die kakste deel nou vir my en Vroutjie om uitmekaar te wees. Sy is daar ver en ek hier in SA. Al is dit vir ‘n paar dae. Dis nie maklik om ‘n nuwe lewe in ‘n ander land te begin nie.

Ek wil Vroutjie NOU teen my vasdruk en vir haar sê alles gaan okay wees. Maar sy is nie nou langs my, teenaan my, naby my nie.

Issie so maklik om dinge net te verlaat en ‘n kraak te maak nie.

Ek en Vroutjie <b>sal</b> deurdruk.

In Saquarema gebruik ek en Vroutjie nog die verste buurman se internetkonneksie, maar hang net bal, en onthou ons werk nogsteeds vir dieselfde moedermaatskappy, met sy  restrictions.

En dan… en dan… die big fat biker GG surprise, aan sommer ‘n klomp van julle: Gert Gariep Stories… Mahalla, gratis, verniet, free as ‘n spesiale download. Indien jy al voorheen by gertgariep.wordpress.com kommentaar gelewer het, maak solank jou printer se ink vol, want jy kan dalkies net ‘n spesiale PDF download kry…


Koebaai!

November 8, 2008

Ja toe, die meeste van my stupid direkte familie (en aangetroude familie) het dit geraai en bespiegel, en vandag sê ek vir julle almal dit is die waarheid. Koebaai Saffrica. Totsiens Suid-Afrika, fok die Mrs. Balls blatjang en bogger die Ouma Beskuit.

Suid-Afrika het altyd vir my en Vroutjie ‘n bekoring ingehou. Nah, ek praat kak… Eintlik het ek en Vroutjie nog nooit geworry oor die die Ou en Nuwe  SA nie.

Saquarema ons nuwe tuiste. (Kom surf maar gerus hier as die tubes by Jeffries kak is. Soldaat en D’Mario kan ook perfekte tieties en hemelse vroulike boudjies kom kyk.) Vroutjie moet nog net ‘n ses maande oorbruggingskursus gaan doen, en ek het alreeds begin werk as ‘n mechanic. Bike mechanic.

Ek erken reguit ek het al gesê ek sal nooit SA verlaat nie, maar ja, wel, ek en Vroutjie het klaar ‘n kraak gemaak.

Ons nuwe huis is vervalle en kort baie aandag, maar dit is naby die strand, en nie ek of Vroutjie is bang om in te spring nie.